’n Lazyboy – as jy nog nooit een gesien het nie – is een van daardie lieflike gemakstoele waarin jy agteroor kan gaan lê met jou voete in die lug. En as ’n mens eers in hom is, is dit moeilik om weer op te staan … Dr Arnold Nadel is ’n emerituspredikant en het sy PhD gedoen by die Universiteit van die Vrystaat. As deel van sy navorsing het hy ses gemeentes in die Vrystaat ondersoek om vas te stel hoe die leierskap oor dissipelskap dink – die resultate was nie wat hy verwag het nie. Hy skryf daaroor in sy tesis: “Dissipelskap en ’n missionale ekklesiologie: ’n Ondersoek in die NG Kerk”. Doret Niemandt vind meer uit.

Nadel wonder al vir die afgelope 15 jaar: Hoekom groei die NG Kerk nie? Waar is die lidmate? Hoekom soek mense ander tuistes? Hoekom sukkel ons so om geestelik te groei? En hoe op dees aarde groei ons God se koninkryk?
Dit klink soos ’n bekende refrein in baie gemeentes – ons moet net weer die lidmate betrokke kry! Maar daar is baie Lazyboy-lidmate, soos Nadel hulle beskryf. Ons sit graag die kerkbanke warm op ’n Sondagoggend, maar ons wil liefs nie hê die dominee moet ons uitstuur om iets te gaan doen te ver buite ons gemaksone nie.
Die betrokkenheid waarvan Nadel praat gaan egter nie oor pannekoek bak by die basaar of om aan te meld as kategeet nie. Dit is eerder ’n betrokkenheid in die wêreld as Jesus se dissipels. Nadel het ontdek dat dissipelskap maklik veronderstel word in gemeentes, maar daar is min dissipelskapsbedieninge omdat gemeentes en hulle leierskap nie regtig weet hoe om dissipels te vorm nie. Dissipelskap is terselfdertyd baie kompleks, maar ook baie eenvoudig.
In sy tesis gee hy ’n omvattende beskrywing van wat dissipelskap behels:
“Dissipelskap is die proses van waar ’n dissipel onder leiding van die Heilige Gees met iemand in ’n verhouding tree om dié persoon deur mentorskap tot totale oorgawe te begelei om in volle gehoorsaamheid aan die Triniteit, binne die wil en genade van God, te help op ’n lewenslange geloofsreis van transformasie as dienskneg van Jesus Christus. Dit gebeur saam met ’n geloofsgemeenskap waartydens die persoon deur die Heilige Gees en mentorskap geestelik tot “Christlikeness” getransformeer word vir deelname aan die missio Trinitatis, en om deur getuienis en mentorskap ander as dissipels op te lei.”
Eenvoudig gestel, dissipelskap is ’n leefwyse. Dit is ’n manier van leef en doen met God as rigtingwyser en om saam met Hom koninkrykswerk te gaan doen. Nog eenvoudiger gestel, dissipels is mense wat Christus se beeld aanneem en doen wat Hy gedoen het.
Lees ook: So what? | In gesprek met Dewald Niemandt: Hoe lyk ‘n ‘suksesvolle’ bediening?
Gemeentes behoort mense toe te rus vir hierdie nuwe leefwyse. Dit is die belangrikste werk van ’n gemeente – dissipelskap. As jy dissipels maak, kry jy ’n kerk, sê Nadel, maar as jy ’n kerk oprig sal jy nie noodwendig dissipels kry nie. Om lidmate toe te rus beteken dat hulle moet verstaan waaroor dit gaan, geloofsekerheid moet gekweek word en hulle moet persoonlik nuut gevorm word. En dit is nie iets wat sommer net gebeur in die Sondagerediens nie, dit gebeur eerder in een-tot-een verhoudings. Dit is om ’n pad met iemand te stap – mentorskap. Nie om hulle ‘in die kerk te kry’ nie, dit is die laaste ding wat gebeur, maar om eerstens ’n verhouding te bou met mekaar en met God – geloofsgehoorsaamheid.
Nadel vertel dat in ’n dissipelskapsgemeente waar ons mekaar en die wêreld met ons gawes as dissipels bedien, vier belangrike aspekte outomaties in die gemeente sal gebeur.
- Kerugma (dit is die Griekse woord vir verkondiging) – dit beteken ’n lewe in God se Woord, om die Goeie Nuus met jou woorde en dade te deel.
- Koinonia (dit is die Griekse woord vir gemeenskap) – dit beteken ’n lewe saam met ander, om mekaar se belange op die hart te dra, om wat jy het te deel, en om saam by te dra tot die uitbou van God se koninkryk.
- Leitourgia (dit is die Griekse woord vir liturgie) – dit beteken ’n lewe van aanbidding en lofprysing, om nie net Sondag nie, maar ook Maandag tot Saterdag. Eredienste is ’n getuienis- en aanbiddingsgeleentheid van wat God doen met en deur sy dissipels, nie ’n eenmansvertoning nie.
- Diakonia (dit is die Griekse woord vir diakonaat) – dit beteken ’n lewe gevul met liefde en omgee, om uit jou gemaksone te tree en ander mense te dien, te versorg en jouself prys te gee vir Christus.
Die leefwyse van ’n dissipel vra dat gemeentes al die geestelike dissiplines vir ons leer, nie net gebed en Bybelstudie nie. Dissipelskap-gemeentes help ons om hegte geestelike verhoudings te bou, vorm gesonde gebedslewens, en die waagmoed om uit ons gemaksones te beweeg … om uit daardie Lazyboy te klim en Jesus se hande en voete te wees. En dit is juis daar waar die leierskap en beplanning van gemeentes nie goed vaar nie. Nadel is oortuig die Here benodig gemeentes en leierskap wat nuut dink oor die tradisionele bedienings en eerder dissipelskap hulle bediening maak. Die kerk van die Here het nie sitvlakke nodig om te sit nie, maar hande wat doen en voete wat gaan. Sulke dissipels bymekaar, dít is die toekoms van die kerk.
- Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
- Hierdie skrywe word aangebied as deel van die So What-reeks, in samewerking met en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
