Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

So what? | In gesprek met Dewald Niemandt: Hoe lyk ’n ‘suksesvolle’ bediening?

In ’n wêreld waar die woord sukses algemeen, dog problematies is, bly Marileen Steyn soek na wat dit beteken om ’n suksesvolle bediening te hê. In gesprek met ds Dewald Niemandt ontdek sy dat die sleutel dalk in haar Graad 2-klas lê.

Dewald Niemandt. Foto: Verskaf

Net onder die swartbord teen die muur in my Gr 2-juffrou se klas was daar ’n plakkaat. Dit was ’n groot sleutel waarop daar gestaan het: “Dissipline is die sleutel tot sukses”. Ek het “ure” lank na daardie plakkaat gestaar. Grotendeels omdat ek vir ’n groot gedeelte van die jaar gedink het dat daar eintlik “Dissipels is die sleutel tot sukses” gestaan het.

“Wat is sukses?”

Ten spyte van juffrou Muller se plakkaat, vra ek myself gereeld nog dáárdie vraag. Op skool was dit maklik. Sukses is goeie punte, goue bekers en medaljes. In die bediening het dit egter moeiliker geraak … wanneer is jou kerk “suksesvol”? Wanneer is jy as dominee / jeugwerker/ouderling “suksesvol”?

Die vraag self voel reeds problematies, só gesteld op voorspoed en effektiwiteit … en selfs al sou jy weet wat sukses is, en sukses iets sou wees waarna ons moet streef, hoe meet jy daardie sukses binne die kerk en geloofsomgewing? Ek is nog op soek na die barometer, termometer of Richterskaal wat my kan help om te meet of ons doen en late enigsins ’n impak het.

Of die preek “mooi” is of nie, word mos gemeet aan die gemeentelede se reaksies. Jeugaande se “sukses” word gemeet aan getalle. Basaars word gemeet aan inkomste. Gemeentes word gemeet aan die hoeveelheid bedienings wat hulle het en of die kerkraadsvergadering goed afgeloop het of nie, kon ek meet aan hoe na aan trane ek gevoel het teen die tyd wat ek by die huis ingestap het.

Maar ons weet goed dat preke nie daar is om mooi te wees nie, dat getalle dikwels niksseggend is, dat basaars oor meer as geld gaan, dat bedienings net besig-lyk kan wees en dat selfs moeilike kerkraadsvergaderings goed kan wees. So hoe kan ons weet of ons met die regte goed besig is en of dit goed is?

Lees ook: So what? | In gesprek met Arnold Nadel: Kweek die kerk Lazyboy-lidmate?

Toe ek met ds Dewald Niemandt begin gesels het, was dit oor die dissipelskapprogram wat hy by sy vorige gemeente, NG Valleisig, help dryf het. Maar soos ek nou hier sit, besef ek dat Niemandt se bydrae nie net lê in wat hy oor dissipelskap te sê het nie, maar ook in dit wat hy onderliggend oor sukses sê.

Want ten spyte van die feit dat Niemandt nooit in my klas was nie, het hy dieselfde ding raakgelees as ek al daardie jare gelede: Dissipels (en nie dissipline nie) is die sleutel tot sukses.

Niemandt praat van die belang van dissipelskap as die onderbou van alles wat ’n gemeente doen. Die kerk, meen Niemandt, is nie primêr daar om mense te versorg, padkos te bied, of ’n plek te wees waar mense God kan loof en prys nie. Al hierdie dinge, hoewel belangrik, vloei uit ’n dieper begrip van die kerk as ’n plek waar dissipels gevorm word. “Help ons mense om ’n ontmoeting met God te hê wat hulle lewe verander en wat hulle deel maak van hierdie groter storie van die Koninkryk?” is die vraag wat gemeentes hulleself moet vra, aldus Niemandt.

Ongelukkig, meen Niemandt, is daar geen kitsantwoorde nie. Geen 12-stap-program wat jy kan afmerk en só met ’n suksesvolle bediening en gemeente kan spog nie. Want, verduidelik Niemandt, kerk-wees gaan oor meer as programme of lukrake bedienings wat jy doen omdat dit net nog altyd gedoen is of omdat “almal” dit doen. Dit gaan oor saam reis. Dit gaan daaroor om “dieselfde lug in te asem, uit dieselfde bord eet, dieselfde brood te breek.” Dissipelskap is iets wat in ’n verhouding geleer word.

Dissipelskap is altemit om te kyk waar Jesus reis en saam met Hom te stap. “Jesus het saam met mense gereis. Hy het nie net gepreek en boeke gegee om te lees nie. Hulle het saam met hom op die pad gestap … Die skoling wat die dissipels gekry het was in hulle verhouding met Christus en nie soseer ’n onderrigprogram of dokument nie.” Dissipelskap. maak Niemandt dit duidelik, word gevorm, nie geforseer nie.

Dáárom gaan gemeentewees daaroor om saam te reis. Nie net met mekaar nie, maar saam met God.

Dan begin Niemandt praat oor praktyke. Praktyke soos om vir mense te bid, radikale gasvryheid en om Bybel by die kerk, skool, werk en in die openbaar te lees. Om die Bybel só te lees gee nuwe konteks aan ou woorde. Hy vertel ook hoe hy (en sy vorige gemeente) die nuus lees, op soek na wysheid oor waar God aan die werk is. Hiér, let ek op, is ons terug by juffrou Muller se dissiplines. G’n wonder ek het deurmekaar geraak tussen hierdie twee woorde nie – hulle loop klaarblyklik hand-aan-hand!

Eindelik help Niemandt my om te onthou dat die bediening nooit vir my ’n goue ster as ’n teken van my sukses gaan gee nie. Ek dink ook nie dit is sinvol om daardie sukses te soek nie. Maar as daar sukses te vinde is, maak Niemandt dit duidelik dat daardie sukses lê in die manier waarop ons dissipels van Christus is en maak. Daarom jaag ons nie die goue sterre van ‘sukses’ na nie, maar beywer ons ons tot dissiplines wat van ons dissipels sal maak.

Wat ons eerder kan soek, is ons mede-(R)reisigers se stemme en voetspore en hande om dan verder te reis op soek na dit wat goed en reg is.


  • Marileen Steyn is ’n doktorale kandidaat by die Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie skrywe word aangebied as deel van die So What-reeks, in samewerking met en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top