Vir so ’n laaste draai in Vrouemaand gesels Heléne Meissenheimer met ds Jeanine Hepburn en ds Hendrien van Vliet wat geestelik leiding neem by ’n groterige stadsgemeente aan die Oosrand. Ons gesels oor die mense wat hulle gehelp het op hulle bedieningspad in die NG Kerk, die balanseertoertjies tussen ma- en domineewees en hoe belangrik die kerk se stories van hoop is.
Toe Hendrien van Vliet in Maart vanjaar medeleraar word by Kempton-Hoogland het sy en haar kollega, ds Jeanine Hepburn, mekaar amper organies gevind in terme van wie doen wat.
“Ek het dadelik gesê ek sal kleintjies doen en Jeanine het gesê sy sal die tieners vat … verder maak ons beurte met preke, preekreekse en Bybelstudies,” vertel die 33-jarige eertydse jeugwerker wat deesdae ook eggenoot en ma van ’n 6-jarige dogtertjie agter haar naam kan skryf.
Langs haar knik Jeanine instemmend haar kop.
Lees ook: Oor mooi klippe, kleutersorg en ’n stryd om oorlewing tussen rommel en plastiek
“Ons vul mekaar ongelooflik goed aan,” sê sy terwyl ons op Zoom gesels op ’n wintersoggend naby die einde van Augustus. Jeanine het ’n vlootblou baadjie aan bo-oor ’n wit-en-blou gestreepte top en Hendrien ’n wintershemp met blou geruite blokke en wat lyk soos ’n gesigmasker om haar nek.
Hulle vertel hulle het die oggend wakker geword sonder elektrisiteit of water. Gelukkig beteken ’n gasstoof dat daar ’n koppie koffie kan wees. Dit maak mos als beter, lag Hendrien.


Ons gesels oor hulle elkeen se pad na gemeenteleraar wees by hierdie groterige stadsgemeente (sowat 2 400 lidmate op die boeke) aan die Oosrand.
Jeanine is al sedert haar gemeentejaar leraar hier. Sy vertel laggend hulle het seker gedink sy is weird toe sy destyds ’n bierfees voorgestel het vir die 500-jarige Reformasieviering in 2017, “want hulle het mos daai tyd bier gedrink”. Ses jaar later is sy nou senior leraar en dien sedert laasjaar ook as aktuarius op die dagbestuur van die Hoëveld-streeksinode. Sy is die eerste vrou en jongste persoon om hierdie rol te vervul wat sy laggend omskryf as die “tannie met die kerkorde” met verwysing na sy wat altyd gepraat het van die “ou ooms met die kerkorde”.
Jeanine meen dat vroue ’n ongelooflike bydrae in die NG Kerk maak, ook ten opsigte van leierskap. En dit is nie om kwotas vol te maak nie, soos sy verduidelik “ons is regtig daar nie omdat ons daar moet wees nie, maar daar MOET wees”.
Sy vertel dit is haar roeping wat haar aan die gang hou in moeilike uitdagende tye … “dis lekker om in ’n gemeente te wees en in ’n sinode te wees waar jy jou roeping kan uitleef. Dit gee jou krag op ’n manier wat jy nie sommer vir mense kan verduidelik nie.”

Hendrien het haar teologiese studies begin terwyl sy jeugwerker was by NG Gemeente Monumentpark. Daarna het sy vir ’n paar jaar gewerk vir die Pretoriase middestadbediening PEN voor sy gemeenteleraar geword het by ’n klein Oos-Kaapse gemeente op Fort Beaufort. Na vier jaar, met ouers wat ouer word en krimpende lidmaatgetalle as oorweging, het sy aansoek gedoen by Kempton-Hoogland.
Altwee is getroud met kinders. So ja, hulle het ook die soort uitdagings wat enige vrou het wat voltyds in ’n beroep staan soos kinders wat by die skool opgetel moet word of by die huis is terwyl jy in ’n vergadering is. Jeanine sê dit is daarom vir haar so lekker dat haar sakeman-eggenoot haar ondersteun. Dit is hy wat hulle twee jong kinders aangetrek kry op Sondagoggende wanneer sy vroeg by die kerk moet wees en saam met hulle in die moederskamer te sit.
Netso vertel Hendrien haar Andre, ’n omgewingsingenieur, is dadelik daar wanneer sy of die kerk hom nodig het. “Hy is die een wat ons dogtertjie gaan haal by die skool en is die een wat die meeste van die child rearing doen,” voeg sy by.
Ons praat oor die lang, dikwels moeilike stryd wat van die eerste vroueleraars by tye gehad het om reg te kry dat vroue in die kerk gehoor word. Soos Jeanine opmerk, “wat ongelooflike goed vir ons gedoen het en op wie se skouers ons regtig staan”.
Lees ook: Christina Landman se stem (en credo) klink op uit die hart van ons land se baie pyn
So vertel Hendrien het sy onder meer by dr Marinda van Niekerk, hoof van PEN en een van hierdie pioniervroue, geleer om nie bang te wees om haar plek vol te staan nie … “sy het altyd hierdie ding gehad van soos ‘doen dit net, sê jou sê, hulle sal vir jou luister of hulle wil of nie’”.

Hendrien voeg by sy weet dit is dalk nie almal se ervaring nie, maar haar eie ervaring met manskollegas was nog net positief. “My manskollegas het uit hulle pad gegaan om my te mentor en my plek in die NG Kerk te kry”.
Ook hier by Kempton-Hoogland is hulle altwee se belewenis dat die hele gemeente, mans en vroue, hulle ten volle ondersteun. Jeanine lag dat daar soms ’n tannie mag wees wat sê sy lyk te bleek, sy kort meer lipstiffie, maar in hulle gemeente is geslag nie ’n issue nie.
“Ons het ’n mansvoorsitter van die kerkraad wat al geruime tyd aankom … maar die manne het nie issues nie, hulle het jou back en hulle moedig jou aan om groter hoogtes te bereik. As jy ’n ding wil aanpak, dan vra almal hoe kan ons help?” voeg sy by.
Vir al hierdie mense is hulle dankbaar. Soos Hendrien sê, “ek is dankbaar vir die mense op my pad dat ek my plek kan vol staan en ruimte gegee word om dit te kan doen”.

Oor die kerk se rol
Soos elders in die land, hoor hulle ook op ringsittings van gemeentes wat bekommerd is oor demografiese verandering en die veroudering van lidmate. Die vraag op die tafel is telkens hoe die kerk relevant kan bly in omgewings wat so anders lyk as toe hierdie NG gemeentes daar begin is.
Lees ook: KYK: Ds Charlotte se uitdaging aan NG Kerk oor diversiteit (Dag 4 van Wes-Kaapland sinode)
Hierdie twee dominees glo deel van die antwoord op hierdie vraag lê in onderlinge samewerking tussen gemeentes. Hendrien vertel dit is waarna gekyk word in hulle ring, waar hulle gemeente die grootste van sewe gemeentes is. Dat gemeentes kyk na maniere om mekaar se hande te vat vanuit hulle onderlinge sterk punte, vir een dalk die reël van basaars, vir ’n ander die hou van uitreike. Sy maak die punt dat “as ons nie mekaar kan ondersteun nie, hoe gaan ons nog ander mense vra om in te kom om ons te ondersteun?”
Dit is dinge wat reeds gebeur. Jeanine vertel onlangs het twee gemeentes op ’n Sondag na kerk iewers in die stad gaan skoonmaak. Hulle het nog sulke mooi stories gehoor tydens ’n onlangse retraite vir vroueleraars. Dit het hulle altwee diep geraak. Hendrien vertel sy het besef “daai stories van hoop en die hoop wat die kerk kan bring in ’n gemeenskap in die groter konteks van ons land is so so belangrik … dit gee ’n mens hoop”.
Ons praat daaroor dat daar al stemme gehoor word, ook uit die joernalistieke en politieke sfeer, dat die kerk en kerkleiers gehoor moet word om mense hoop te gee.
Lees ook: Dag van Verootmoeding (13 Augustus): ‘Dit is die werk en roeping van die kerk. Sy is ’n hoopdraer!’
Altwee stem hiermee saam.
Jeanine meen “die kerk, spesifiek die NG Kerk, het nog ’n ongelooflike rol om in mense se lewe te speel … hierdie stories wat nie die voorblad haal nie gee soveel hoop …”
En Hendrien sê: “Ons is hierso om mense te bemagtig en om te probeer om ’n prentjie te skets van wat ons kan wees … om daardie hoop in mense se hart te laat floreer. Ons kan dit nie op ons eie doen nie, maar ons kan die saadjie plant en die Here kan dit laat floreer.”
