Natreën, ’n reënboog, veldbrande blus, ’n gesprek met Moslem sjeg en nasate van sendelinge en verplaasdes wat stories deel … Selfs ’n unieke kierieseremonie was alles deel van die eerste loop-vir-hoop-inisiatief die afgelope Erfenisnaweek.
Kerkbode was deel van drie Whatsapp-groepe wat dr Frederick Marais, stigter van Pelgrimstog van Hoop, gevorm het. Hierin het groepe van regoor die land foto’s gedeel en vertel hoe hulle geleentheid verloop en hoe hulle dit ervaar. (LW: Vanweë erge stormweer in die Kaap van Saterdagaand tot Maandag het verskeie groepe laat weet hulle stapgeleenthede word uitgestel tot Oktober.)
Hy vertel Pelgrimstog van Hoop het baie uit hierdie jaar se inisitiatief geleer wat hy opsom as:
- dit is duidelik dat dit vir mense hoop gee as hulle na erfenisverhale luister of vertel
- Hoe lekker dit was hoeveel jongmense en kinders aan die stappe deelgeneem het
- dat mense daadwerklik oor grense gestap het soos Fontainebleau Gemeenskapskerk (FGK) wat in ‘n plakkerskamp Thalton gestap het
- ook opvallend dat mense gekies het om in die natuur te stap
- daar is lekker gewerk met simbole soos Steinkopf se kieries en FGK se rooi pette met Voortrekkermonumentmotief op
- indruk is dat mense vir mekaar ook moeilike verhale van gedwonge verskuiwings en kontraste kon vertel en ontvang in ’n gees van versoening.
Ten slotte, merk Marais op dit lyk asof die groepe dit almal baie geniet het en dat daar entoesiasme is om volgende jaar weer ‘n #loopvirhoop op Erfenisnaweek te doen. In een van die groepe het Marais op ’n voorstel dat hierdie inisiatief volgende jaar herhaal word, geantwoord “Beslis, ek dink hier is iets baie lekker en doenbaar gebore”.
Lees gerus nog van die terugvoer wat in die Whatsapp-groepe gedeel is:
Erich Zulch van NG Groote Kerk in Kaapstad vertel hulle roete was geteël met stories al die pad na Kerkplein in die middestad: “In die Kaap het ons weer geleer dat die pelgrim nie die pad kies nie, maar die pad kies die pelgrim. Die Kaap van Storms het ons Saterdag, ter viering van Erfenisdag, in die stories van ons land ingenooi – stories van seer en skeiding, maar ook stories van volharding en hoop.”

Lees meer: #loopvirhoop: Gemeentes soos dié verken gemeenskappe deur geloofslens ter viering van Erfenisdag
Irene Groenewald van NG Gemeente Groot Marico het saam met haar pa, Daan van der Merwe, ’n stap in Rietspruitrusoord-natuurreservaat in Noordwes gereël. Sy vertel hulle was so 14 mense uit verskillende kerke uit die omgewing. Hulle stap het laat begin want hulle moes eers ‘n veldbrand blus. Een van hulle stopplekke was by die bakkrans waar vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog geskuil het. Hier het hulle uit Psalm 18:2-3 gelees. Skryf Irene: “Soos die bakkrans die skuiling vir die vrouens en kinders was in die oorlog, bid ons dat Christus, die Rots waaruit ons gekap is, ook ons skuilplek en veilige vesting sal wees.”

Foto: Verskaf
NG Gemeente Constantia het besluit om eerder ’n saamkuierdag by die kerk se perseel te hou as om die dag af te stel oor dit reën. Hannes Theron, uit hierdie groep, het vertel oor ’n storie van hoop en versoening waarop hy afgekom het:
“Met die beplanning van die geleentheid, Loop vir Hoop, is ek weer so intens bewus gemaak van die stories binne ons gemeenskap – hartseer stories, maar ook mooi stories van hoop. So is daar die storie van Strawberry Lane, ‘n bekende straat in Constantia met die mooiste huise. Vanaf 1885 was dit die area vir die bruinmense wat hulself daar gevesig het as blomkwekers, groenteboere en aarbeiboere. Die families Davids, Japftha, Jacob, Joseph, Peterson, Van der Ross het daar gewoon. Tussen 1969 en 1972 is hulle almal deur die Groepsgebiedewet verplaas. Die Japthas het weer teruggekeer en huur ‘n stuk grond waarop hulle ‘n blomplaas bedryf in Broungerstraat 15, Constantia. Colin Davids, ‘n kleinseun van die Davids wat daar gewoon het, het ook kom inloer. Hy vertel ons van die pad wat die Here met hom geloop het om vrede met die verlede te maak. Vandag is hy ‘n kerkleier in Common Ground Constantiaberg en is die bediening van versoening aan hom toevertrou.”

Ds Schalk van Heerden van Fontainebleau Gemeenskapskerk (FGK) in Johannesburg het meer vertel oor gemengde gevoelens oor die embleem van Voortrekkermonument op hulle rooi kepse: “Ons rooi hoed (in die tradisie van Pelgrimstog van Hoop) is ’n kepsie. Die ligtoring is ’n ‘vuurpyl Voortrekkermonument’, ’n Johan Stegman kunswerk.”
Oor die betekenis daarvan, sê hy: “Ons hou dit doelbewus oop sodat elkeen hul eie betekenis kan inlees. Vir party is dit opwindend positief oor herontek die toekoms in, vir ander meer negatief. Ons dink ook soos ons loop oor die kontras van die monument en die shacks waardeur ons loop. Verlede, hede, ens”

Vanuit die verre Noord-Kaap vertel Paula Cloete hulle stap in Steinkopf was tussen grafte, maar tussen hierdie punte van dood is die pad van hoop. Hulle het begin by die graf van sendeling Frederick Brecher, na wie die skool vernoem is, hiervandaan na die graf van sendeling Heinrich Schemelen en sy Nama-vrou, Zara wat die Bybel in Nama vertaal het met as eindpunt Kinderlê waar die grafte van 30 kinders is wat vermoor is terwyl hulle ouers by ’n kerkdiens was.


Die NG Gemeente Strand Noord se ds Fourie Rossouw het met ’n groep van 22 tieners en vyf volwassenes die Boesmanskloof staproete aangedurf, maar moes weens swaar reen al die tweede dag terugkom. Oor die ervaring skryf hy: “Ek is opnuut hoopvol oor jong mense se behoefte vir avontuur, hul vermoë om mekaar aan te steek met goeie waardes en gesindhede, asook hul ouers se betrokkenheid by hul kinders wel en weë. Die weersomstandighede het ons bietjie ontneem van ‘n pelgrimstog-gesindheid en gedwing om meer soos die Isrealiete van ouds halsoorkop en inderhaas die roete aanpak. Sou ook graag by Genanendal met die kinders ’n draai wou maak, maar met natgereënde moeë kinders het ons maar die kortste pad terug na die Strand gevat.


Op Stellenbosch het mense uit verskeie kerke en gemeenskappe saamgestap en stil geraak by historiese merkers soos die Ou Hoofgebou, Die Braak en die rol van die kerke daar rondom, die NG Moederkerk en meer voor die groep met nagmaal afgesluit het in Kayamandi, die swart woongebied. Oor hierdie ervaring skryf Jan van Zyl: “Nagmaal as afsluiting in Kayamandi: Die Nagmaal is ’n ONTHOU FEES. Maar dis ook om te RE-MEMBER. Dis ’n teken van heelword, versoen, saamkom omdat ons mekaar nodig het. Ons stap die pad SAAM.”
Hy skryf ook: “Ons moet bly stories vertel, onthou; sodat ons nie weer dieselfde foute maak nie, en om dit wat gewerk het nog beter te maak.
’n Pelgrimstog, om te stap is “connecting with our SOUL through our soles”.
- Deel gerus jou storie en foto’s op sosiale media met hutsmerk #loopvirhoop en @Kerkbode
- Die berig is aangepas na plasing.
