Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Om in die feite (beter woord vir ewige ‘probleme’) geleenthede raak te sien

Flip thinking: The life-changing art of turning problems into opportunities

Deur Berthold Gunster

Uitgewer: Penguin Random House, 2023

Resensent: Frederick Marais

Flip thinking, of “omdenken” soos dit oorspronklik in Nederlands gemunt is, is volgens Gunster ’n kuns. Dié kuns word eintlik intuïtief beoefen deur elke Suid-Afrikaner wat elke dag uitgedaag word met probleme. Gevolglik sal mense in Suid-Afrika die boek myns insiens baie geniet. Ons sal onsself op baie van die bladsye herken met ’n “a-ha”-ervaring. By ’n onlangse vergadering, toe ons almal gekla het oor die probleme wat beurtkrag skep, het ’n kerkraadslid van ons gemeente opgemerk: “Oor vier jaar sal die Suid-Afrikaanse gemeenskap selfs oplossings uitgevind het om beurtkrag te bowe te kom.” Dié opmerking het die gang van ons gesprek natuurlik heeltemal verander.

Flip thinking val in die kategorie van sosialetransformasieteorie. Dit is toeganklik geskryf, onder andere omdat Gunster sy teorie en metodiek illustreer met voorbeelde van hoe-dit-werk.

Die kuns van Flip thinking begin by die besef dat daar nie so iets soos probleme is nie. Dié besef alleen is al die koop van die boek werd! Daar is slegs feite. “Kry die feite” is die volgende stap. Die laaste stap is dan om in die feite geleenthede raak te sien en die geleenthede te benut.

Gunster kom uit die teaterwêreld. Hy was lank teaterbestuurder in Utrecht, Nederland, waar hy die teorie en metodiek van Flip thinking as sy bestuurstyl ontwikkel het. Daar het hy geleer dat denke gaan oor wat kan wees, maar nog nie is nie. Of soos wat hy dit in kort stel, “Yes-but”. Om dit te kan doen, het ons natuurlik ’n hele klomp bagasie wat ons moet hanteer en laat staan. In die eerste deel van die boek verduidelik hy hoe om ontslae te raak van bagasie wat ons verhinder om by so ’n “yes-but”-ingesteldheid te kom. In die tweede deel verduidelik hy hoe “flip thinking” werk.

Indien jy hoop om in die boek ’n teorie oor transformasie te vind, gaan jy waarskynlik teleurgesteld wees. Hoewel Gunster goed ingegrawe is in die veld van transformasieteorie, fokus hy eerder op die metodiek van hoe-om-dit-te-doen. Hy beveel dus self aan om die boek stukkie vir stukkie te lees en te probeer doen in jou dag-tot-dag lewe.

If there is no solution to the problem, then don’t waste time worrying about it. If there is a solution to the problem, then don’t waste time worrying about it. (25)

Ek het die lees van die boek baie geniet. Flip thinking gaan vir ’n ruk in my rugsak bly om herkou te word.

Beskikbaar by loot.co.za.

Dr Frederick Marais is Predikant in Sinodale Diens by die NG Kerk Wes-Kaapland.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top