Ontmoet God in gebed
Deur Esté Geldenhuys
Uitgewer: NB Uitgewers, 2022
Resensent: Annatha Nel
Ontmoet God in gebed vat jou deur ’n studie van wie God is. Dit is hierdie waarheid wat ons dra deur ’n gebedslewe, sodat gebed nie net ’n af en toe daad sal wees nie, maar eerder ’n lewe van aanbidding sal word vir elkeen wat hierdie boek lees.
Die waarheid van wie God vir ons is, word deur elke teks en studie uitgepluis. Dit is wonderlik hoe Geldenhuys help deur jou na elke inset te vat na selfstudie, om die waarhede van God in jou eie verstaan van God in te bou. Die gevolg daarvan is dat geen leser se ervaring van die boek dieselfde sal wees nie, maar dat elke leser op ’n eiesoortige studie van God en gebed gestuur word.

Ontmoet God in gebed kom slegs tot sy reg wanneer jy elke teks bestudeer en deel van jou studie maak.
Die wyshede van Andrew Murray in die tweede gedeelte van die boek maak elke gebed lewend, ingekleur met nog meer kennis vanuit die gedeeltes wat aangegee word vir selfstudie.
Wanneer jy deur die lees moeite doen met elke selfstudie, gaan die boek – wat dalk lyk na ’n klein boekie – jou vir ’n geruime tyd in jou Bybelstudie aangryp. Die frase op bl 127 beskryf die omvang hiervan: Mag ons genade ontvang van ons Vader sodat ons hierdie waarheid in sy volheid ons eie kan maak.
In die lees van hierdie boek, die wyshede van Andrew Murray en die kritiese beskouing van my eie aanbiddingslewe, het hierdie boek my gehelp om die waarde en noodsaaklikheid van ’n gebedslewe weereens te besef. Dit het my uitgedaag om voortdurend te volhard in gebed en ek het op ’n besonderse manier God in gebed ontmoet.
Beskikbaar by Bybel-Media.
Ds Annatha Nel is ’n sangeres en predikant van NG Kerke Neilersdrift en Keimoes in die Noord-Kaap.
