Saam na die Lewe: sending en evangelisasie in veranderende landskappe is die Afrikaanse vertaling van die Wêreldraad van Kerke (WRK) se nuwe dokument oor sending en evangelisasie getiteld, Together towards life: mission and evangelism in changing landscapes.
Volgens ’n bondige oorsig deur CLF gee die boek praktiese leiding oor hoe die kerk oor sending moet dink en nooi dit individue en kerke uit om hul toewyding aan die sending van die Heilige Gees te hernu.

Dr Lourens Bosman het hierdie werk, saamgestel deur Jooseop Keum, vertaal en verwerk. Bosman is lid van die Werkgroep vir Evangelisasie van die Algemene Sinode van die NG Kerk terwyl Keum die sekretaris is van die Kommissie vir Wêreldsending en Evangelisasie.
Dit is aanlyn te koop by CLF hier asook by hulle boekwinkels.
Lees meer in hierdie uittreksel van Keum se inleiding tot hierdie werk:
Hierdie nuwe ekumeniese verklaring van die Wêreldraad van Kerke (WRK) oor sending en evangelisasie, Saam na die Lewe: sending en evangelisasie in veranderende landskappe, is voorberei deur die Kommissie vir Wêreldsending en Evangelisasie (CWME).
Dit is op 5 September 2012 as ʼn amptelike verklaring van die WRK deur die sentrale komitee tydens sy vergadering op die eiland Kreta, Griekeland eenparig goedgekeur. Die CWME is dankbaar teenoor God dat die wêreldwye kerk en sendingliggame van die WRK in staat was om ʼn gemeenskaplike standpunt te formuleer en ook in hierdie tyd tot ʼn nuwe toewyding aan God se sending te kom. Die kommissie is verder dankbaar dat die standpunt hernude belangstelling wek in die nuwe visie wat uit ekumeniese nadenke en aksie na vore kom.
Nadat die sentrale komitee die dokument goedgekeur het, het die CWME in Januarie 2013 ʼn konsultasie in Kochi, Indië gehou. Die doel hiervan was om die nuwe konsepte wat in die verklaring geformuleer is, te vertaal vir die praktyk van sending en evangelisasie in plaaslike gemeentes en sendingorganisasies.
Hierdie boek is bedoel om nadenke oor en die bestudering en toepassing van hierdie nuwe missiestelling te bevorder. Daarom nooi die CWME alle belangstellendes wat hulleself aan God se sending toewy om die visie en rigting van sending/missionale aksie, wat in hierdie nuwe missieverklaring gevisualiseer word, op te neem.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
