Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Giepie Potgieter (1939 – 2023)

Gideon Daniël Jacobus Potgieter is op 28 April 1939 gebore op Robertson in die Koo en word gedoop in die NG Gemeente Van der Merwe op Bonnievale. Sy vader was Jacobus Ernst Potgieter wat boer en sy moeder is Margaretha Joubert Oosthuizen. Giepie matrikuleer aan die Hoërskool Werda op Fauresmith, die pragtige dorp waar die treinspoor in die hoofstraat naby die skool verbyloop.

Giepie voel geroepe om predikant te word en behaal in 1962 die BA-graad aan die UOVS in Bloemfontein, waar hy leiding neem in die Admissiebond en deelneem aan die Calvinistiese vereniging op die Bult. In 1962 word hy student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy die BTh-graad verwerf en einde 1965 as proponent gelegitimeer word. Intussen is hy op 3 Februarie 1962 getroud met mej Cornelia Maria Johanna van der Vyfer en uit die huwelik is vier kinders gebore.

Prop GDJ Potgieter word op 29 Januarie 1966 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Okahandja in die destydse Suidwes-Afrika. Ds JT Potgieter, saakgelastigde van die NG Kerk in SWA, het die bevestigingsrede gelewer. Op 22 Maart 1969 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Molteno in die Stormberg en word na ’n geseënde dienstyd op 25 Augustus 1972 leraar van die NG Gemeente Oudtshoorn-Wes, die volstruishemel in die Klein-Karoo. Beroepe was volop en op 18 Oktober 1975 word hy predikant in die NG Gemeente Oos-Londen-Noord, ’n hawestad wat in 1845 gestig word aan die mond van die Buffelsrivier in die Indiese Oseaan.

’n Roepstem kom na die Vrystaatse platteland en hy word op 10 Desember 1978 bevestig as leraar van die NG Gemeente Bultfontein, waar hy ses jaar lank leraar is in die welvarende boeregemeenskap. Op 1 Julie 1984 word hy leraar van die NG Tweetoringkerk in Bloemfontein, waar hy in die “historiese kerk van die presidente”, ’n lang en geseënde dienstyd beleef tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 15 Oktober 1998. Hierna leef ds GDJ Potgieter ’n rustige lewe en preek wanneer hy gevra word in vakante gemeentes.

Ds Giepie sterf op 14 September 2023 en sy gesin onthou hom as ’n sorgsame vader en iemand wat besef het dat die lewenskuns lê in baie verdra, baie goeddoen en baie gebed.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top