Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Brief: ’n Kykie na die kerk deur die bril van ’n rugbystryd

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Dr Dawie Botes, leraar van NG Kerk Welkom Wes, skryf: Daar was ’n tyd toe die NG Kerk no 1 was op die kerkranglys. Deesdae lê dit so tiende. Wat het gebeur? Die kerk het die afgelope 12 jaar gedink hulle hoef nie meer te oefen vir wedstryde nie en kan bloot net opdaag, wat die verkeerde benadering is.

Die ondersteuners van die kerk gee baie raad en is moeg vir die ou benadering van speel van die afgelope 12 jaar, die ou tipe stampkarspel werk nie meer nie, maar die bestuur sweer daarby dat dit uitstekend werk.

Die opposisie weet presies hoe die kerk gaan speel, met die gevolg dat die kerk wedstryd na wedstryd deesdae verloor. Wanneer daar gespeel word deur die kerk is die pawiljoene maar half leeg en die toeskouers loop byna almal voor die einde. Hoekom? die kerk verloor aanmekaar hulle lynstane omdat daar geen plan is nie. Balle word meestal aangeslaan. Wanneer daar hard gespeel word tot op die opposisie se kwartgebied, staan die kerk heeltyd strafskoppe af wat beteken die kerk is weer terug amper tot op die doellyn.

Geborg

Wat is fout met die kerk se spel? Hulle ken nie meer die reëls nie en steur hulle nie daaraan nie en praat terug met die skeidsregter. Dit beteken rooi en geel kaarte Op papier is die kerk ’n goeie span maar die afrigtingspan se oog is op heeltemal ander goed en fokus nie meer op die spel nie. Die spanlede oefen ook min saam. Een van die groot probleme is dat daar op die man gefokus word en nie meer op die bal nie. Die afrigtingspan het heeltemal fokus verloor. Dalk is (Springbokafrigter) Rassie (Erasmus) se 7/1 benadering nou nodig in die NG Kerk.

Oktober is dit weer Wêreldbekertoernooi vir die NG Kerk. Kan die kerk se span omdraai? Ja, met Rassie se 7/1 benadering. Terug na die tekenbord! Die kerk moet sy passie vir Jesus weer terug kry en nie skaam wees oor daaroor nie. Die kerk moet Jesus se opdragte passievol uitvoer. Die kerk moet die bal speel nie die man nie. Die kerk moet sy oog op Jesus hou en nie op die wêreld nie. Die kerk sal moet terug gaan na die basiese toe van die spel, naamlik die Bybel en moet weer gaan lees hoe word die spel gespeel … Wat is die fokuspunte, wat is die wenresep al vir 2 000 jaar? Die kerk sal ernstig moet bid voor elke wedstryd en smeek dat die pawiljoene weer vol sal word vir een doel, Jesus Christus se verheerliking.


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand