Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Kobie Oosthuizen (1939 – 2023)

Jacob Hendrik Johannes Oosthuizen is op 30 Junie 1939 gebore op Ladysmith in Natal. Sy vader is Willem Johannes Oosthuizen, ’n boorling van Oudtshoorn in die Klein-Karoo. Hy is ’n stasiemeester wat trots is op sy werk in die spoorweë en deur harde werk ’n verskil maak. Sy moeder is Alida Aletta Dreyer, wat grootword in Weenen in Natal en haar kinders met liefde opvoed. Kobie begin sy skoolopleiding in 1951 in Pietermaritzburg en matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg.

Kobie voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1958 na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die BA (Admissie)-graad verwerf en in 1961 student word aan die Kweekskool op die walle van die Eersterivier in die Eikestad. Hy verwerf die BTh-graad in 1963, die jaar waarin die ou Profeteskool van 1859, ’n Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch word. Later verwerf hy die MTh-graad met die skripsie: “Die spreekkamer in die pastorale gesprek”. Aan die einde van 1963 word Kobie as proponent gelegitimeer en ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Lady-Grey, ’n dorp omsoom met pragtige berge. Hier word hy op 27 Februarie 1965 met handoplegging ontvang en bevestig, ’n eerste tree in die gemeentebediening.

Kobie trou met Susanna Elizabeth Wagenaar, ’n gekwalifiseerde onderwyseres, wie se ouers in die distrik Dordrecht boer. Sy gee vyf jaar lank onderwys en ondersteun haar man in die bediening. Uit hulle huwelik is twee seuns en ’n dogter gebore.

Aan die einde van 1968 kom ’n roepstem na die NG Gemeente Reddersburg, waar hy ’n besondere ondersteuningsrol speel in die boeregemeenskap. Na vier jaar kom ’n roepstem na die NG Gemeente Universitas in Bloemfontein, waar hy op 3 Desember 1972 bevestig word as studenteleraar, ’n klipgooi van die moderne Universitas-hospitaal en die Vrystaatse Universiteit. In die winter van 1976 loop sy pad na die landelike gebied langs die Vaalrivier, waar hy leraar word van die NG Gemeente Parys.

Op 19 September 1981 word ds en mev Kobie Oosthuizen die leraarspaar in die NG Gemeente Brandfort-Oos, waar hy byna twee dekades lank die gemeente met groot liefde en sorgsaamheid bedien tot op 31 Maart 2001 met die aanvaarding van sy emeritaat. Hy dien op verskeie kommissies, een daarvan is die Argiefkommissie saam met dr Gerdrie, waar hy met sy pynlike korrektheid ons op ons tone en knieë hou. Ds Kobie Oosthuizen (84) sterf op 6 Julie 2023 en sy dierbares en vriende groet hom met dankbaarheid na ’n vol lewe in koninkrysdiens.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top