Hoeveel keer het ek al in my lewe tot bekering gekom? Of my hart vir die Here gegee, soos ons as kinders geleer is om te sê.
Die eerste een was op ’n avontuurkamp waarop slegs seuns was. In Standerd 5.
Ek onthou hoe ek by die bed in een van die kampooms se bungalow kniel en met die Here begin praat, asof dit iemand diep in my is wat praat – ’n slegte iemand vol bose gedagtes en verlangens. Ek vloek soms, Here. Ek luister nie na my pa nie, Here. Ek speel saans met myself in die bed, Here. Maak my hart weer wit, asseblief, Here.
LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem
Lig, ek het so lig hier binne gevoel toe ek uit die oom se kamer stap. Ek gaan nou nie meer hel toe nie. Wat ’n verligting!
Maar ’n week of twee later het daardie ligtheid verdwyn en het ek weer alles gedoen waaroor ek daardie aand spyt was en bely het.
Daarna was daar nog sulke bekerings. Elke keer was die patroon min of meer dieselfde: Ek was in die nood met my studies of by die werk of ek het my aan een of ander groot vergryp skuldig gemaak. Dan bevind ek myself maar weer op my knieë by my bed. Ek gee vandag my hart opnuut vir U, o Here. Ek sal weer begin Bybel lees, ek sal sommer die hele Bybel deurlees, Here. En elke Sondag sal ek in die kerk wees. Ná sulke bekerings het ek woes verse in my Bybel begin onderstreep. Maak my asseblief nuut, Here.
LEES OOK: Dana Snyman by die jaarlikse Fees van die Narre in Pretoria
Ná ’n nogal intense bekering in ’n predikant se studeerkamer in Pretoria, het ek selfs vir ’n ruk ’n What Would Jesus Do-armbandjie gedra. Maar op ’n dag het ek opgehou om die bandjie te dra en was ek weer my ou, wankelende self.
Miskien was nie een van my vroeëre bekerings ’n ware bekering nie. Maar wat maak een bekering meer eg as ’n ander een? Jy sal dit net wéét, jy sal God se genade in jou lewe voel en die berusting kry wat daarmee gepaard gaan, sal party mense vir jou sê. Jy sal jou ou self agterlaat en ’n nuwe lewe begin leef. Wedergebore.
Ek twyfel nie dat party mense só tot bekering kom nie. Voorbeelde is daar baie. Oorlede Pa het graag vertel hoe hy in 1959 in ’n Pinksterdiens van ds Attie van Wyk op Newcastle in Natal kragdadig tot bekering gekom het en besluit het om ’n predikant te word. Pa, die rowwe Yskor-ambagsman, wat op die ouderdom van 31 kweekskool toe gaan op Stellenbosch.
In die laaste ruk het ek weer oor Saulus in die Bybel se bekering gelees. Handelinge 9 vers 3: “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig wat van die hemel af kom …” Saulus wat Paulus geword het.
Ek het nie so ’n Damaskus-ervaring gehad nie. Ek het geleef en ouer geword sonder om juis veel na te dink oor wat dit is om tot bekering te kom. Ek het bly vashou aan wat ds Japie van Deventer op Nylstroom vir my gesê het voor ek in die kerk aangeneem en voorgestel is: Elkeen van ons hoef nie ’n dag of ’n datum te hê waarop hy of sy tot bekering gekom het nie. Jy moet glo jy is gered. Jesus het reeds vir jou sondes gesterf.
Miskien is dit iets wat die ouderdom bring, maar dit het vir my belangrik geword om te verstaan wat met jou gebeur wanneer jy tot bekering kom. Jy moet jou lewe volgens die Bybelse tien gebooie rig en die vrugte van die gees kweek. Dit weet ek.
Maar dit is asof ’n bekering nog altyd vir my weinig met die hede te doene gehad het. Jy kom tot bekering want jy is bang vir die hel, jy wil hemel toe gaan. Eendag. Jy kom nie tot bekering om die aarde nou ’n beter, meer genadige plek te maak nie. Jy probeer ’n kwaai God daar ver iewers bokant die wolke paai. ’n God wat jou wil straf. Daardie godsbeeld sit steeds diep in my. Ek kan steeds nie warm water in ’n bad tap sonder om te dink nie: Só moet dit in die hel voel. Soos ek gedink ek toe ek ’n seun was.
In ’n hitsige, onseker tyd soos nou voel dit of daar al meer verontwaardige stemme is wat jou in een of ander rigting in wil bekeer. Party praat van ’n nuwe Reformasie in die Kerk, dat die Bybel weer soos in ’n vroeëre tyd geïnterpreteer moet word.
Ek weet te min van die teologie af om my daaroor uit te laat. Ek weet wel om tot bekering te kom, is om te wil verander in ’n wêreld wat knaend verander.
LEES OOK: KYK | Ds Charlotte se uitdaging aan NG Kerk oor diversiteit (Dag 4 van Wes-Kaapland sinode)
“Conversion experiences all too easily become the desire for a change that will finally put a stop to the need for change; change in the direction of what is, to all intents and purposes, a satisfying and reassuring paralysis,” skryf Adam Phillips, ’n Britse sielkundige en filosoof in sy boek oor bekeringservarings. Dit is woorde wat my diep raak. ’n Bekering sal nooit weer vir my ’n soort terugkeer kan wees na ’n ou manier van dink en glo nie.
Ek kan nie aan een keer dink wat ’n predikant in my kerkgaandae op ’n Sondag op ’n preekstoel gewonder het of ’n mens nie meer soos Jesus moet probeer leef, hiér en nóú, as jy tot bekering kom nie. Wees besorg oor die minstes onder ons, dié wat anders is as jy. Maak jou oë oop vir die wêreld rondom jou. Sién jou naaste en die vernielde aarde raak.
Is dit nie wat met Paulus op pad na Damaskus gebeur het nie? Hy was aanvanklik blind, maar drie dae later “het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en kon hy onmiddellik weer sien.”
Is om tot bekering te kom nie om met meer genade na mense te probeer kyk nie? En dit is nie ’n maklike opdrag nie. Dikwels moet jy jou eie vooroordele en vrese konfronteer “… to let go of that anxious and destructive self in the face of a promise of radiant beauty; to be made alive in this way,” soos Phillips dit beskryf.
Is dit nie wat ek elke dag weer van vooraf moet probeer doen nie?