Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die optog deur die Pretoria-middestad se strate gaan begin. Hier is ’n paar honderd nargesigte. Party dra plakkate: “Justice for children”, “The stranger is my sister”… Foto: Dana Snyman

Dana Snyman by die jaarlikse Fees van die Narre in Pretoria


Die gevoel is eensklaps net daar toe ek in Thabo Sehumestraat die middestad van Pretoria in ry: vrees, ’n vae gevoel van vrees. Hoe veilig gaan my bakkie wees? Hoe veilig gaan ék wees?

Thabo Sehumestraat was eens ’n straat waarvan ek die naam vergeet het. Die President Hotel, oorkant die Pretoriatreinstasie, is verdeel in ’n selfoonwinkel, ’n haarsalon en ek weet nie wat nog nie.

Min mense kom nog in hierdie deel van Pretoria. Mense soos ek. Ons wat hier gewoon en gewerk het toe die middestad nog, wel, wit was. ’n Swart mens mag nie ’n woonstel hier gehuur of gekoop het nie. Duisende mense is daagliks met taxi’s en busse uit die townships aangery om hier te kom werk.

KYK OOK: VIDEO |Wanneer kom die einde?

Die Burgerspark Hotel, vyfsteroornagplek vir Springbokrugbyspanne en plattelandse miljoenêrs, is omskep in woonstelle. Onkruid en boomwortels beur deur die krake op die sypaadjie. Wasgoed op woonstelbalkonne. Gekraakte ruite.

Skuins oorkant die hotel is Burgerspark, die park waar jy op ’n Sondagmiddag in 1985 met jou meisie kom wandel het en dalk ’n sny apfelstrudel by die Duitse restaurant in die middel van die tuin geëet het. Nou is dit gans anders hier, en dís wat my skrikkerig maak, sonder dat ek dit wil wees. ’n Vrees wat ’n mens deesdae op baie plekke in die land teister.

Op die hoek is ’n oop parkeerplek. Twee keer vra ek vir die Kongolese karwag of my bakkie veilig sal wees. Twee keer sê hy ja.

LEES OOK | Nelis Janse van Rensburg: Algemene Sinode 2023: Dán sal die kerk in die nagloed van die ontmoeting met haar Hoof, nuut getuig, nuut sy liefde beliggaam

En dan, in ’n systraatjie, sien ek hulle: Mense wie se gesigte soos narre s’n geverf is voor een van die hoë geboue.

Dit is die jaarlikse Fees van die Narre, wat deur die Pretoria Leadership Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie, aangebied word. Die gebou, wat aan die Foundation behoort, huisves onder meer ’n skuiling vir haweloses en mishandelde vroue.

In die portaal heers ’n soort geordende chaos. Oral mense met nargesigte en lawwe klere aan. Iemand wat hard met die ander praat. ’n Skraal man met deurmekaar hare tussen almal: Stephan de Beer, direkteur van die Instituut vir Kontekstuele Teologie by Tukkies, ’n anderster professor wat betrokke was by die Foundation se stigting. Sy vrou Wilna, wat vir die Foundation werk, is ook hier, met ’n tradisionele puntige narhoed op die kop.

Op die eerste verdieping se balkon verf vrywilligers die mense se gesigte.

Die eerste Fees van die Narre is in die jaar 2000 gehou. Dit was ’n onstuimige tyd hier in die middestad waar eens ’n stuk of drie of vier sterk NG gemeentes was, wat een na die ander moes sluit omdat hulle lidmate weggetrek het.

LEES OOK: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk

’n Brand in 1992 by ’n kerk hier naby in Sunnyside waarin sewe haweloses dood is, was moontlik die grootste rede hoekom Stefan-hulle besluit het om by die middestad se sukkelmense betrokke te raak. Hulle het aanvanklik ’n huis hier oorkant Burgerspark gekoop, maar dit is later gesloop om plek te maak vir dié gebou.

Die idee vir die Fees van die Narre het Stefan gekry terwyl hy ’n boek van John Dominic Crossan, ’n Amerikaanse Nuwe-Testamentikus, gelees het.

Narre en hansworse ontwrig die heersende orde, meen Crossan. Hulle verbreek die illusie dat alles is soos wat dit moet wees. Hulle steur hulle nie aan die verkalktheid van die tradisie nie. Hulle is nie bang om voor gelag te word nie, want hulle weet hulle laat mense uit ongemak en ’n soort herkenning lag. Narre en hansworse kan profete wees.

En dan vra Crossan ’n vraag wat baie Christene ontstel: Was Jesus nie dalk ’n bietjie soos ’n hanswors nie? Hy vertel hoe Judas Iskariot voor Jesus se kruisiging op ’n perd Jerusalem binnegery het, statig as deel van ’n militêre parade, o, so belangrik. En hier kom Jesus op ’n onwaardige donkie se rug aan. Party mense het moontlik vir Jesus gelag.

Die Jesus waarmee ek grootgeword het, het nie gelag nie. Daardie Jesus sou nooit op ’n donkie geklim het nie, al het hulle dit vir ons geleer. Daardie Jesus sou eerder met ’n pikswart Mercedes 280 S gery het, soos ons skoolhoof en die burgemeester. Dit was asof daardie Jesus in ’n wêreld apart van ons s’n geleef het.

Aan al sulke dinge dink ek terwyl ek by Burgerspark se hek instap, tussen almal met hulle nargesigte deur. Een ou dra ’n Springboktrui by sy geverfde gesig en rooi narpruik. Dit is Justus Craven, wat tydelik in die skuiling tuisgaan.

LEES OOK: Leser vertel en wys foto’s: Drie weke in ’n gereformeerde klooster

Sy ma is ’n kleinniggie van oorlede Dok Craven, die rugbyman, vertel Justus, en voeg by: “Ek glo nie ek is heeltemal normaal nie,” en lag. Hy is al in die Weskoppies-hospitaal vir ’n geestesongesteldheid behandel. Vir ’n paar oomblikke lag ons saam.

Op ’n hortjiesbank naby waar die Duitse restaurant met die Sondagmiddag-apfelstrudel leeg staan, sit Boet Nel. ’n Mens sou hom ’n boemelaar kon noem, maar eintlik is hy net ’n ongeskeerde kêrel wat gisternag onder die struike hier in die park geslaap het. Hy is van die Kaap af en het Pretoria toe geryloop om na ’n vriend te kom soek, maar gister het hy uitgevind die vriend het weer na hom in die Kaap gaan soek – ’n tragikomiese situasie as jy mooi daaroor dink.

Nee wat, sê Boet, hy gaan nie sy gesig laat verf nie, maar hy voel baie tuis tussen die narre. Sy verflenterde klere is sy eie narpak.

My byna neurotiese vrees vir die middestad het skiet gegee. Uiteraard woon hier misdadigers ook, maar hoeveel van my vrees is omdat die meeste mense wat hier woon, baie anders is as ek?

Die optog deur die middestad se strate gaan begin. Hier is ’n paar honderd nargesigte. Party dra plakkate: “Justice for children”, “The stranger is my sister”…

Ons is nou almal alte menslik aan mekaar verbind, nie een belangriker as die ander een nie. Kinders, grootmense, almal kinderlik, speels saam. Almal Jesus se narre.

Later toe ek terugkom by my bakkie is daar nie ’n ruit gebreek of ’n deur oopgebreek nie, net die glimlaggende Kongolese karwag se bak pleitende hande herinner my dat ek terug in die werklikheid is.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top