Ek wens meer dominees en pastore wil na hierdie ou luister, sê iemand nou die dag, en ek onthou ’n ander ou wat eenkeer opgemerk het: “David Bosch is dood, maar ons het darem nog vir Stephan de Beer!”
Ek vra hom waar alles begin het.
“Die grootste draaipunt was die Elim-kerk in Sunnyside wat afgebrand het op 12 Maart 1992. Dit was ’n skuiling vir straatkinders wat ek help begin het. Agt seuns is die aand dood. Ons het nog altyd vermoed dat daar gemene spel betrokke was en ’n forensiese deskundige David Klatzow het dit duidelik bewys, maar die howe en die polisie het saamgewerk om seker te maak die waarheid kom nooit uit nie, so niemand is vervolg nie,” beweer Stephan. Hy was net klaar met sy finalejaar in teologie toe dit gebeur het.
“Dit was ’n draaipunt omdat ek in die hele saga rondom die kerk, en dit wat voor die brand gebeur het, die boosheid van apartheid en rassisme intens aan my eie lyf kon voel. Dit het vrae laat ontstaan oor die kerk, oor God, oor geregtigheid, en oor waar en by wie God wil wees.”
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Rethie van Niekerk: ‘Iets kan gelyk ontsettend pynlik en beautiful wees’
Kort daarna gaan woon hy vir ses maande in Chicago in die huis van ’n aktiviste-predikant in ’n swart Amerikaanse kerk. “Alles wat ek nie in my ses jaar van teologiese opleiding gekry het nie, het ek in daai ses maande in ’n kitskursus gekry,” lag Stephan.
Nog iets wat ’n groot indruk op hom gemaak het was ’n artikel wat die stadsteoloog, Roger Greenway, geskryf het, genaamd: Why street people need pastors too.
Baie dinge het gebeur vandat daai gebou met die kinders van Sunnyside afgebrand het.
Stephan het gehelp om ’n klomp geboue en strukture in die stad tot bekering te bring. Onder andere die ou Transvaalse Landbou-uniegebou in Sunnyside, wat later verval het in ’n bordeel. Vandag is dit ’n plek van hoop wat laekostebehuising bied aan mense in nood; net een van die baie behuisingsprojekte wat Tshwane Leadership Foundation deur die jare onder sy leiding ontwikkel het.
Teologie en argitektuur was nog altyd twee van Stephan de Beer se groot passies. En hy het ’n PhD in beide.
Sy PhD in Praktiese Teologie het gehandel oor ’n teologie van stadstransformasie met ’n fokus op die kerk en behuising. Sy ander PhD is in Stadsbeplanning.
Vandag is hy die direkteur van die Centre for Faith and Community by die Universiteit van Pretoria en professor in Praktiese Teologie. Hy is ook aan die stuur van die Tshwane Urban Activist School. En hy is georden as leraar in die VGK.
Lees ook: PODSENDING: Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand
Die plek vanwaar ons teologies besin is iets waarop hy groot klem lê; en ek onthou hoe Stephan my destyds voorgestel het aan Joel van Dyke wat die boek Geography of grace geskryf het – iets wat Stephan de Beer lewe.
Hy het self grootgeword in ’n woonstel in Sunnyside en meer as vyftig jaar daar gewoon. Vandag bly hy steeds teen die middestad: “Ek kan die klanke van Sunnyside in die aand hoor,” sê hy.
“My ma het van kleins af by my ’n gevoel vir geregtigheid gekweek; ’n solidariteit met die ‘underdog’, ’n liefde vir die stad, ’n onortodokse verhouding met die kerk, ’n naïewe geloof en ’n uithouvermoë wat soms nie goed is nie,” sê Stephan en vertel hoe hy van jongs af ’n roeping van die Here beleef het om ’n dominee te word. En die kerk en argitektuur is eintlik in sy bloed, sy oupa het destyds kerke gebou, onder andere die kerkgebou in Hillbrow waar MES later sou ontstaan. Stephan vertel dat hy groot teologiese lesse in Hillbrow geleer het toe hy daar betrokke was as student.
Lees meer: MES se verhaal van hoop en genade
Sy diep passie vir weerlose mense maak dat ’n klomp goed in die kerkomgewing hom frustreer.
Kerke wat, as ’n reël, selfsugtig omgaan met hulle eiendom, in ’n land soos hierdie met enorme nood om elke hoek, ontstel hom erg. Dit is vir hom moeilik om te verstaan hoe gemeentes wat die radikale boodskap van Jesus verkondig, so selfsugtig kan wees. So min kan voel vir mense wat swaarkry, en so min voel vir eenheid met hulle broers en susters oor kultuur-, ekonomiese en selfs kerkgrense heen.
Stephan raak soms emosioneel wanneer hy hieroor praat, veral oor die nood van die stad. Jesus het gesê, “geseënd is dié wat treur,” dink ek. Wat is die teenoorgestelde hiervan? Dat ons hard is, apaties, ’n veer voel?
En ek het hom ook al meer as een keer woedend gesien, buite homself. Ek onthou hoe ek myself eenkeer betrap het waar ek dink: hel, dalk is dit presies die tipe holy anger wat ons juis nou in die kerk nodig het! Iemand wat ons kan wakker maak – soos die profete van ouds.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Johan Robyn: ‘Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in …’
Soos die meeste saints is Stephan ook ’n deeply troubled soul, iemand wat donker tye van diep persoonlike worsteling goed ken. “Party van ons is maar so gemaak, ek ook, so half prone to depression and darkness. Ek het lank terug vrede begin maak daarmee,” sug hy.
Wat maak dat jy aanhou? vra ek.
Hy vertel stories van mense wat hy deur die jare kon dophou en leer ken, weerlose kinders uit desperate donker situasies in die stad wat vandag ’n nuwe lewe met hoop leef. Hulle inspireer hom, sê hy en voeg dan by: “ Maar ook die opstanding van Jesus, daar is ’n nuwe môre.”
“Ek het ’n vreemde spiritualiteit,” verduidelik Stephan. “Ek is nie ’n ‘liberal’ nie, ek is ’n ‘liberationist’.” Liberationists is dikwels eintlik erg fundamentalisties oor die goed wat in die Bybel staan, vertel hy. “Omdat hulle byvoorbeeld glo in Handelinge 2 en 4 en glo in wat Jesus sê in Lukas 4:18 en 19 skaar hulle hulleself by mense wat veg vir geregtigheid en gelykheid.”
Ek vra hom oor die pad vorentoe, wat lê voor vir Stephan de Beer?
“Dit voel so ’n bietjie of ’n mens nou eers opwarm,” sê hy. “Ek wil graag sien dat daar sterk stedelike teologiese programme gevestig word in stede dwarsoor Afrika, want ons leef op die vasteland wat tans meer verstedelik as enige ander kontinent, maar ons teologie is landelik of voorstedelik. En ek wil ook dalk meer by beleidmaking betrokke raak, ’n inkubator help skep waar ’n kreatiewe verbeelding gekweek kan word vir radikale intervensies in plaaslike gemeenskappe. Waar geloof, navorsing, aktivisme, kreatiwiteit en aksie saamkom.”
Na ons gesprek vang ek myself droom oor hoe die kerk en die gemeenskap sou lyk as meer kerkleiers die passie en frustrasie van Stephan de Beer sou hê.
Mag hy ons help om kerkeiendom en -strukture tot bekering te bring sodat dit spasies van hoop kan wees, wat die mees desperate nood in Suid-Afrika aanspreek; en mag hierdie professor in Praktiese Teologie by Tuks ons help om weer te ontdek hoe prakties die teologie eintlik veronderstel is om te wees.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.