Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jaco Strydom gesels met Rethie van Niekerk: ‘Iets kan gelyk ontsettend pynlik en beautiful wees’


“Net na middernag het ons huis afgebrand,” vertel Rethie van Niekerk wat pas aangestel is as dominee by Driehoek-gemeente in die Vaaldriehoek. Dit het in 2019 gebeur.

“Mense praat altyd van wat gaan ek vat as my huis afbrand. Maar daar’s twee goed wat gebeur. Die een is, wanneer jy uit jou huis uit hardloop, dink jy nie ek gaan nooit terugkom nie. Die tweede is, jy hardloop vir jou lewe! Dit was in die middel van die nag. Dit was sekondes. En ons het alles verloor. Alles.”

Sy sê mense mense praat malik van “wêreldsgoed”, maar elke ding in ’n huis het ’n storie.

Lees ook: Stories oor diep geloofsvrae in die lewe van jonges

Lank daarna sou die reuk van iets wat brand weer die trauma van daardie aand in haar geheue oopkrap.

“As ’n huis afbrand ruik dit soos elke moontlike tipe brand, dis ’n elektriese brand, dis plastiek wat brand, vleis wat brand, hout,” sê sy.

Rethie vertel van die verlies, die trauma, die skok, maar ook van groot lewenslesse. “Iets wat ek daar geleer het, is dit is nooit net één ding op ’n slag nie. Iets kan gelyk ontsettend pynlik en beautiful wees. Ons het daai selfde nag blyplek gehad. Mense het vir ons voorsien op maniere wat jy nie kan dink nie.”

“Ek is ’n gemeentedominee. First and foremost.”

Oor Somerstrand-gemeente in Gqeberha waar sy daai tyd predikant was, sê sy: “Hulle het vir ons voorsien soos jy nie kan beskryf nie.”

Ook ander gemeentes het gehelp. PE Moedergemeente asook van die plaaslike VGK gemeentes het vir hulle offergawes opgeneem.

“Ons het in daardie tyd dikwels gepraat oor twee dinge: hoe ons letterlik alles verloor het, maar ook oor hoe ons steeds meer het as die meeste mense in die land,” sê sy.

Lees ook: PODSENDING: Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand 

Dit is asof hierdie ervarings Rethie en haar man se oë meer as ooit tevore oopgemaak het vir die werklikheid van die paradoks waarin ons onsself bevind. “Ons het besef dit is deel van ons privilege. Mense het omgegee omdat hulle identifiseer met ons. Maar mense reageer nie dieselfde as daar ’n shack in ’n township afbrand nie.”

Hulle is letterlik deur die vuur anderkant uit, maar soos hulle sê: when it rains it pours! Selfs nog groter uitdagings het in die nabye toekoms gewag.

“Ons huis het in Januarie 2019 afgebrand en in April het Somerstrand my laat gaan, na negentien jaar daar, weens finansiële onvermoë.” En dan, nes jy dink dit kan seker nie erger gaan nie, voeg Rethie by: “En toe, in dieselfde maand verloor my man sy werk.” Sy sug. “So, ons het daai jaar alles verloor. Jy weet, dis jou huis, dis stuff, dis jou geloofsfamilie, jou stabiliteit … dit is alles.”

Ek vra wat sy gedoen het in die tyd toe sy sonder werk was.

“Ek het gehuil, baie. En ek het gebid. Baie!” sê sy.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Danie en Esther van Niekerk: Die paradoks van witblits in ’n bottel in die vorm van ’n kruis

Maar sy het nie gaan lê nie. Rethie was sonder werk, maar besig! Daar was skryfwerk, preekbeurte by gemeentes, digitale werk, die ontwikkeling van nuwe materiaal, retraites, om net ’n paar te noem. Behalwe vir ’n klomp projekte waarvan sy reeds deel was, het Rethie nou betrokke geraak by nuwe inisiatiewe in die gemeenskap, veral met betrekking tot geslagsgeweld en sosiale geregtigheid.

Ons gesels oor die effek wat al hierdie dinge op haar groei gehad het.

“Ek dink daai broosheid wat ek ervaar het, het my op ’n fundamentele manier gevorm. Ek het geleer om dit te embrace. In daai hele tyd wat ons werkloos was, het ek dit as my taak begin beskou om te werk daaraan om nie hard te word nie. Om sag te bly en toe te laat dat die seerkry my mooi maak. Eerder as lelik. Dit is nie eenvoudig nie. Dis vrek harde werk. En om nie bitter te raak nie! Maar ek dink daai broosheid is nou deel van my menswees. Ek verstaan dat die lewe gebeur en dat dit seermaak en dat ons nie altyd in beheer is nie, maar ook van deernis hê.”

Die storm het uiteindelik verbygegaan en Rethie was vir ’n paar jaar dominee by Blouwaterbaai-Familiekerk. “Een van die mees diverse gemeenskappe wat jy jou kan indink,” sê sy en vertel van die mooi mense wat sy daar leer ken het.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Danie Mouton

Daarna was dit Noord, Gauteng se kant toe.

Dit is nou net mooi ’n maand vandat sy bevestig is in Vanderbijlpark. “Die sonsondergange is beeldskoon en die gekoer van duiwe is die dorp se klankbaan,” sê sy.

Rethie is gebore in Kimberley, haar pa was predikant op Plooysburg. Sy was in baie skole en het uiteindelik gematrikuleer in Porterville.

Een van die groot draaipunte in haar lewe was toe sy tot bekering gekom het in graad elf. Direk na matriek gaan studeer sy teologie op Stellenbosch.

Op ’n stadium het Rethie ’n politieke loopbaan oorweeg. Ten spyte van alles wat gebeur het, was sy nog nooit spyt dat sy in die teologie beland het nie.

“Ek is ’n gemeentedominee. First and foremost. En nou is ek mos nog splinternaaldnuut in ’n nuwe gemeente. So, ek is besig om die gemeente, gemeentekultuur en die mense te leer ken.”

Sy is steeds deel van die Faith Action to End Gender Based Violence Collective, wat in 2020 onder leiding van die Verenigde Nasies ontstaan het.

Lees ook: Gratis gids vir gesprek oor gender en seksualiteit

“Ek is spesifiek betrokke by die deel wat werk rondom ‘Changing the narrative’. Een van die dinge wat ons doen, is ’n program genaamd: Faith Leader Gender Transformation. Kerkgenootskappe vaardig elke jaar twee leiers af om ’n tien-maand-program by te woon.”

Die rapper Scatman sing “I want to be a human being, not a human doing” en dit vat iets saam van Rethie van Niekerk se strewe in die lewe. “As ek dit kon regkry om nie my lewe gejaagd te leef nie, sou dit kon getuig van die waardes wat ek belangrik ag: dat mense waarde het as mense, nie bloot op grond van wat hulle produseer nie; dat ons moet wag en moet luister; dat ons nie slawe is van die ekonomiese masjien nie,” sê sy.

Sy vertel van Walter Brueggemann se boek Sabbath as resistance en sê dan: “Ek is nie vreeslik geroetineerd nie. Ek probeer om my lewe rustig, met kantlyne te leef. Sodat daar tyd is vir onderbrekings. Vir mense. Sodat daar tyd is om verras te word deur die Gees.”

 

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.