Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Paulus het in ’n sosiale storm geleef. Eers as vervolger van die eerste Christene, en toe as verkondiger van Jesus, was Paulus opgevang in die kettingreaksie van konflik wat die ontstaan van die kerk ontketen het.
In Antiogië is heidene met ope arms ontvang maar in Galasië het gemeenskappe geskeur oor die vraag of hulle ook soos Jode moes leef.
Lees ook: Marius Nel: Beide is belangrik: Die evangelie van en oor Jesus
In Korinte was die konflik oor die plek van vroue in eredienste, die gawes van die Gees en die nagmaal. Van die konflik wat hy ervaar het was meer persoonlik van aard. Sommige het meer van Apollos, of Petrus, se prediking gehou as van Paulus s’n.
Daar was klagtes dat sy prediking of te eenvoudig of te moeilik was om te verstaan! Dat hy te lank vat om gemeentes te besoek en te veel kwaai briewe skryf. Hy is boonop deur enkeles gewantrou oor hy vir homself voorsien het deur as tentmaker te werk, terwyl ander sy insameling vir die gemeente in Jerusalem bevraagteken het. Omtrent elke gemeente waarin hy werksaam was, is in ’n krisis gedompel.
Besoekende leraars het hulle verwar, gemeentelede het gestry oor die besnydenis, die eet van offervleis en die viering van heilige dae. Sommige het gedink die wederkoms was naby en ander dat dit nooit sou plaasvind nie. Te midde van dié storm skryf Paulus briewe, stuur gesante en besoek en onderrig gemeentes. Hy loop duisende kilometers, trotseer storms ter see en vlug soms vir sy lewe.
Lees ook: BOEK-FOKUS: ‘Die ryk en vreemde veelkantigheid van Jesus se lewe’
Uiteindelik word hy deur sy eie mense verwerp en deur die Romeine vermoor. Dit is daarom ’n vraag waarom Paulus volhard het. Waarom het hy nie weer soos na sy ontmoeting met die opgestane Jesus in Arabië (Gal 1:17), oos van Damaskus, gaan woon om in vrede oor die evangelie te besin nie? Wat het hom laat volhard? Uit die groeteboodskappe van sy briewe soos dié aan die Romeine kan ons sy antwoord aflei. Paulus het te midde van al die weerstand wat hy ervaar het ook iets anders beleef: om deel te wees van ’n gemeenskap waarin almal, mans en vrouens, Jode en nie-Jode, arm en ryk, welkom was. Vir hom was die konflik wat hy beleef het niks anders as familiekonflik nie en was daar vir hom geen groter vreugde as om aan die diverse, soms moeilike, familie van God te behoort nie.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is die assessor van die Wes-Kaapse Sinode.