Janke Hurter ontdek nuwe liturgiese voorstelle vir gemeentes om jongmense se kritiese deurgange binne ’n geloofsgemeenskap aan te bied.
Binne en buite baie gemeentes bestaan ’n gevoel dat jongmense besig is om die NG Kerk te verlaat. ’n Mens sien en beleef dikwels dat katkisante na hulle openbare belydenis van geloof hulle gemeentes verlaat.
Lees ook: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk
Die kerk soek al vir jare na alternatiewe maniere om aan die een kant ons verstaan van openbare belydenis te verbreed, en om ook die kopseer van belydenisaflegging, soos talle gemeente dit ervaar, teen te werk.
Die Taakspan Roetemerkers gee in hulle verslag aan die Algemene Sinode van Oktober meer lyf aan ’n alternatiewe roete vir belydenisaflegging.
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
In die verslag word verwys na ’n besluit wat by die Algemene Sinode van 2019 geneem is dat belydenisaflegging nie net as ’n eenmalige toeëiening van geloof gesien behoort te word nie, “maar dat daar gereelde roetemerkers (stilhouplekke) langs ’n lewenslange pad is waar gelowiges hulle geloof bely”.
Die taakspan maak nuwe liturgiese voorstelle hoe om twee roetemerkers, ook genoem kritiese deurgange in ’n jongmens se lewe soos in die verslag geïdentifiseer, binne ’n geloofsgemeenskap aan te bied. Die eerste is die betreding van adolessensie rondom die ouderdom van 12/13 en tweedens die betreding van jongvolwassenheid rondom die ouderdom van 17/18. Die nuwe liturgieë vervat onder andere ’n voorstel vir die hersiening van die Handleiding vir die Erediens asook verdere kreatiewe liturgiese nuutskeppings.
Die aard van ’n roetemerker veronderstel ’n vormingsproses waar ouers en medegelowiges as medereisigers gesien word om nuwe reisigers (kinders en volwassenes) saam te nooi en terselfdertyd as nuwe reisigers op die geloofspad in te lyf asook te begelei. Die verslag het egter vrae onder andere oor ouers se verstaan van die betekenis van die doop en hulle verstaan van die rede waarom hulle kinders ten doop gebring is. In ag genome die waarde wat roetemerkers in jongmense se lewe wil speel, sou ’n mens wil wonder of die wyse waarop liturgiese handelinge deur ouers ontvang en verstaan word, die belangrikheid en rol van liturgiese en simboliese handelinge, wat deur roetemerkers voorgestel wil word, in die lewe van jongmense sou beïnvloed?
Die roetemerkers neem die doop as teologiese en gemeentelike uitgangspunt. Die oortuiging bestaan dus dat geloof deur elke persoon bely word wanneer hulle saam met die geloofsgemeenskap nagmaal vier en ook elke keer wanneer hulle roetemerkers by kritiese deurgange oprig. Dit maak dat elke roetemerker teologies gesproke niks anders as ’n doopviering is nie.
- Ds Janke Hurter is jeugleraar by NG Berg-en-Dal, Bloemfontein.
- Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.