Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Japie van Straaten (1964 – 2022)

Jacob Willem Jacobus van Straaten is op 10 Oktober 1965 gebore in Bloemfontein. Sy vader is Jacob Willem Jacobus van Straaten, ’n rekenaarprogrammeerder, en sy moeder is Amanda Laetitia van Dressel, ’n ontvangsdame. Japie begin in 1971 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Sand du Plessis in Bloemfontein en in 1978 aan die Hoërskool Sand du Plessis waar hy aan die einde van 1982 matrikuleer. In 1981 is hy deel van die Vrystaatse Jeugkoor.

Japie voel geroepe om predikant te word en begin in 1985 aan die UOVS in Bloemfontein, waar hy die BA-graad verwerf. Hierna word hy student aan die Fakulteit Teologie op die Bult, waar hy die BTh-graad verwerf en sy skripsie handel oor: “Teologies-etiese beoordeling van kindermishandeling”. Aan die einde van 1991 word hy as proponent gelegitimeer. Hierna doen Japie sy militêre diensplig, ’n ervaring waar hy kosbare lewenskennis opdoen. Hy trou op 2 Januarie 1993 met Alida Petronella Olivier, ’n lewensmaat wat hom met liefde en wysheid bystaan op voetsoolvlak. Ds Japie en Alida het met vreugde hulle gesin grootgemaak.

Japie van Straaten aanvaar ’n beroep na die NG Moedergemeente Beaufort-Wes in die Groot-Karoo. Hier word hy in die historiese kerkgebou op 16 Junie 1995 met handoplegging ontvang en bevestig, sy eerste en enigste gemeente tot met sy sterfdag op 4 September 2022.

Ds Japie was vir meer as 27 jaar lank leraar van die NG kerkgebou in die hart van Beaufort-Wes, waar duisende groot vragmotors en motors met mense langs die wit kerktoring in die hoofstraat verbyry in die Karoodorp.

In ’n verklaring skryf die kerkraad uit die kerkkantoor: “Baie selde in ’n mens se lewe kom iemand besonders oor jou pad. ’n Mens wat nie net op een vlak ’n impak maak op ’n mens se bestaan nie. ’n Persoon wat in sy totale menswees iets spesiaal is en gebly het onder ons. Selde kry een mens dit reg om so ’n impak nie net op ’n gemeente te hê nie, maar ook in ’n gemeenskap. Dit het nie saakgemaak wie of wat jy in Beaufort-Wes was nie – niemand was ooit te onbelangrik of te gering nie. ’n Mens wat lief was vir musiek en om te sing. ’n Ware man van God. ’n Groot boom het geval. Rus sag in die koninkryk van Jesus.”

Jan Stadler dra die volgende boodskap op aan ds Japie van Straaten op sy Facebook-blad: “Wat ’n voorreg om jou te kon ken, my mentor en my vriend. Soveel keer saamgelag en soveel keer saamgehuil. Nou huil ons voor ons Herder. Ons bid vir jou mense en vir ons gemeente. Dankie vir jou voorbeeld. Ons sal jou ‘legacy’ laat voortleef.” Na sy sterfdag op 4 September 2022 hou die kerklike gemeenskap op Beaufort-Wes ’n gedenkdiens op 10 September 2022 uit die geskiedkundige kerkgebou langs die grootpad.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top