Hoe gaan Suid-Afrika ná die 2024-verkiesing lyk met die ANC steeds as grootste party, maar een met ’n versnellende afname in steun en daarby die onbekende landskap van koalisiepolitiek wat ’n groot rol in veral provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng speel?
Dit is ’n vraag wat voor sinodegangers opgedoem het ná die politieke wetenskaplike, Roland Henwood, se bydrae by die Algemene Sinode in Boksburg.
“Suid-Afrika is nie meer die flavour of the month nie,” het Henwood gesê. “Ons word uitgedaag op alle vlakke, het hy gesê in ’n voorlegging waarin hy twee maal uitgewys het dat hy glo die NG Kerk een van die “kern-netwerke” in Suid-Afrika is. “Die vraag is hoe benut ons dit ten beste,” wou Henwood, verbonde aan die Universiteit van Pretoria en lidmaat van NG Gemeente Elarduspark in Pretoria retories weet.
Met ’n paar PowerPoint-skyfies vol data oor werkloosheid onder die jeug in ’n hoofsaaklik jeugdige land en ons bevolkingsaanwas tot die meer as 60 miljoen siele wat die sensusspanne deesdae tel, was daar deeglike erkenning van uitdagings. Daar was nie ’n goeie woord vir dié wat regeer nie. Onsigbaar die meeste van die tyd. En “nie altyd positief” wanneer hulle wel die slag sigbaar word nie, aldus Henwood. Trouens, gepaard met sy data rondom ons demokrasie se afgly teen die ge-oliede paal van gesonde demokrasie-indekse regoor die wêreld, was Henwood se bydrae ’n taamlik suikerlose pil vir diegene wat aan wilde optimisme mag ly.
Maar vir diegene wat lus is vir die omvangryke taak van Projek Suid-Afrika, is sy raad om te fokus op hefbome soos kundigheid, ervaring, netwerke en bronne.
“Suid-Afrika is naby aan ’n ‘flawed democracy’ – ons is nog nie in daai klub nie, maar is besig om redelik vinnig te val in daai indekse,” het Henwood die sowat 400 mense in die sinodesaal gewaarsku.
“Swak regering skep deurlopende spanning, hoe verreken ons dit?” het Henwood gevra met verwysing na die konteks van ’n land waar “instellings agteruitgaan”, regeringsvermoë verswak en die parlement ’n domein van selfs fisieke geweld is.
Aan die positiewe kant het Suid-Afrika volgens Henwood steeds ’n redelike gesofistikeerde ekonomie, goeie universiteite en ’n geleentheid om te verbeter. “Maar ook geen waarborge nie,” meen Henwood. “Wat elders gebeur, kan ook hier gebeur – die positiewe en die negatiewe.”
Henwood meen die ANC is in groter moeilikheid as wat dié histories magtige party self besef. “Dit skep ’n ander konteks vir ons politiek – weg van dominante politiek, waar leiers kon doen wat hulle wil. Jy sien nog reste daarvan, maar dit is oorblyfsels van historiese mag.”
Maar, voeg hy by, daar is nie ’n enkelparty-alternatief tot die ANC nie. Daarom sien ons koalisies. “Daar is baie onsekerheid, daar is baie wat geleer moet word (oor koalisies). Dis nie die manier van doen wat ons aan gewoond is (in Suid-Afrika) nie. Ons moet daai proses onder die knie kry,” aldus Henwood en hy voeg by dat die EFF oënskynlik ’n steunplafon bereik het en dat dit onseker is of die DA se groei gestuit is. En terwyl die IVP waarskynlik die vinnigs groeiendste party in die land is, volgens Henwood, is die rol van klein partye soos die VF+ in die koalisie-dinamika belangrik.
“Die magsbalans in Suid-Afrika en die politieke speelveld gaan beduidend anders lyk as waaraan ons gewoond geraak het, die magsverhoudings gaan baie anders wees,” het Henwood gesê oor die post-verkiesing Suid-Afrika in sy toespraak.
Daarna is afgevaardigdes genooi om saam te dink aan die ronde tafels waarby hulle sit tydens sogenaamde “tafelgesprek”. Van die terugvoer wat daarlangs ontvang is, lui as volg:
- “Erken pyn van verlede, neem verantwoordelikheid van die toekoms. Vat hande …”
- Een tafel het gemeen die NG Kerk het baie kundiges wat betrokke moet raak. “Stuur hulle nou op die veld soos ’n bomb squad,” het die tafelgenote aan die hand gedoen met verwysing na die Springbokrugbyspan se taktiek om reserwespelers tot die hulp van moeë spelers in te span.
- Nog ’n tafel meen “ruggraat” skort. “Ons is die kerk. Gaan dien op rade. Stem. Wees deel van die retoriek.”
- Nog ’n tafel het laat weet: “Ons het ’n nuwe ballingskapsteologie nodig vir ons hedendaagse tyd. How shall we sit in a strange land and keep on singing?”
Om die NG Kerk weer sterk te maak moet gekyk word na tradisies. Verkose kerkraadslede moet sigbaar, herkenbaar diens doen.
die Pastoriemoeder moet deel van die beroep wees. Sy behoort ten minste vroue bidure te lei.
Kry die Vroue in die kerk en mans en kinders sal volg. Ek is bewus dat die stelling ongewild sal wees.
Ons kerke loop leeg net soos wat die swak anc steun verloor. Ongelukkig net baie vinniger. Huisbesoek moet nie onderskat word nie. Dit is geestelike bearbeiding en aansporing. ” Hoe kan ek kerk-los wees as Dominee en Mevrou my op die naam ken?”
Dink daaroor.