Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Oorlog is nie God se plan,’ sê aartsbiskop op dag wat sinodegangers besoek van vele leiers uit ander kerke kry

“Ons het ’n verskriklike behoefte om deur U gelei te word,” het ds Rudi Swanepoel van Andrew Murray Gemeente in Johannesburg Woensdaggend gebid met die aanvang van die Algemene Sinode se omvattende sessie oor ekumene. Swanepoel het gesê dat ons lewe moet spreek in tye waar dit voel of ons in doodstye leef.

Die woord “ekumene” kom van die Griekse woord “oikoumene”, wat verwys na die hele bewoonde wêreld. Dit is ’n term of woord wat gebruik word om te beskryf hoe kerke strewe na ’n eenheid en ’n samewerking in ’n wêreld wat gekenmerk word deur verskeidenheid.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het verskoning gevra vir sy Engels aan al die besoekende ekumeniese leiers en geterg hy gebruik dit slegs uit selfverdediging, voordat hy die video-opname van aartsbiskop Thabo Makgoba, president van die Wêreldraad van Kerke aan die sinode gewys het.

Groeteboodskappe word die Woensdagmiddag tydens die ekumene geleentheid hanteer. Ekumeniese vennote is genooi om vooraf groete boodskappe aan te stuur wat in die stukke opgeneem sal word. Boodskappe van die WRK, WGGK en AACC sal deur video-grepe oorgedra word. Foto: Robert Cable / Kerkbode

Aartsbiskop Makgoba het die volgende oor die rol van die kerk in die wêreld gesê: Dat daar gebid word vir ’n nuwe gemeenskap en land wat bestaan uit liefde. Hy verwys ook na dit wat in Israel en Gasa gebeur en beskryf dit as baie sleg. Maar dit is Suid-Afrika wat gewys het dat ’n vreedsame oorgang in 1994 moontlik was, het Makgoba gesê. Groot name soos oud-presidente Nelson Mandela, FW de Klerk en dr Johan Heyns het gehelp om ’n burgeroorlog te verhoed, het Makgoba gesê, en bygevoeg dat oorlog nie deel van God se plan is nie.

Hy verduidelik dat dit nou vir die groter kerk nodig is om die energie, vaardighede en kreatiwiteit (waarvan daar baie is) te kanaliseer sodat God se beloftes waargemaak kan word. Dit is die werk van die kerk.

Ds Moss Ntla, die algemene sekretaris van The Evangelical Alliance of South Africa. Foto: Nico Smit

Ds Moss Ntla, die algemene sekretaris van The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA) het toe die sinode toegespreek en die NG Kerk bedank dat die kerk die groot moed in die 1700’s gehad het vir die sendelinge wat vanaf Europa na die suide gekom het. Ds Ntla meen dat dit gemaak het dat hy in ’n Christenhuis gebore is.

Sinodegangers by die Algemene Sinode 2023.

Hy lig drie positiewe punte uit waar die kerk betrokke kan raak in ’n Suid-Afrikaanse konteks. Eerstens dat ons as gelowiges hier is en dat ons die Gees van God in ons het. Tweedens dat ons ’n droom het. ’n Droom na ’n florerende nie-rassige demokrasie wat ’n moontlikheid is vir ’n almagtige God. Derdens dat daar eilande van uitnemendheid in die kerk lê en ons dit moet gebruik, soos aartsbiskop Makgoba ook gesê het.

Hy sluit af en gee vir die sinode Romeine 12 as teks en meen dat ons gedagtes vernuwe moet word in die tyd waar ons leef. Dit is wat die rol van die kerk is in die tyd wat ons leef, veral in Suid-Afrika. Dat ons deur Christus vernuwe moet word en nuut moet dink oor hoe die kerk se rol in die wêreld kan lyk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top