Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek weet my Afrikaanse onderwyseres het gesê ’n mens mag nie ’n sin met die woord “maar” begin nie, maar ek voel so sterk hieroor dat ek glo ’n uitsondering is hier aanvaarbaar. Ek glo ons beste tye lê nog voor, die nuwe gebou wat op die geraamtes van die verlede gebou is, kan ons grootste verwagtings oortref. Maar … ons gaan moet leer om na mekaar te kyk en die mens raak te sien. Ons gaan moet leer om na mekaar te luister, en nie te fokus op dit wat ons verdeel nie, maar op dít wat ons saambind. - Ds Piet Retief, leraar by die NG gemeente Garies.

Stemme uit die sinode: ‘Ons’ en ‘hulle’ is woorde soos bomme wat op ons lewenshuis gegooi word

Piet Retief skryf**: Terwyl ek die voorreg het om die 18de Algemene Sinode by te woon, is ek net weereens intens bewus van die manier hoe ons na mekaar kyk, en wat ons sien wanneer ons na mekaar kyk.

Ek verwys natuurlik nie na die klere of enige ander fisiese kenmerke nie. Ek verwys ook nie na wie jy is of waar jy vandaan kom nie, want as iemand dan na my naam sou kyk sou hulle dalk klaar ’n bepaalde beeld of ideologie aan my koppel. Ek verwys na die feit of ons die mens(e) langs, agter en voor ons werklik raaksien.

Veral in ons gesprekke oor rassisme, geregtigheid en versoening, Skrifbeskouing, maar eintlik die hele agenda as ek eerlik is, bly die woorde van prof Jurgens Hendriks my by: “In Afrika is verhoudings belangriker as die waarheid.”

LEES OOK: ‘As jy by die Vaderhuis begin, kan jy enigiets doen’

Ons leef in ’n wêreld en konteks waar woorde en etikette so maklik na ander gegooi word. Ons etiketteer so maklik mense as “ons” en “hulle”. “Ons” is natuurlik almal wat dieselfde as “ons” dink, lyk en klink. “Hulle” is natuurlik almal wat van “ons” verskil, en by implikasie en vanuit die staanspoor is “hulle” natuurlik verkeerd. “Ons” en “hulle”. Twee woorde wat meer skade aanrig as wat “Little boy” en “Fat man” ooit kon droom om aan te rig!

“Ons” en “hulle”. Hierdie woorde is soos bomme wat op ons lewenshuis gegooi word, en die skade daarvan word dikwels eers baie later bepaal en verreken. In die proses word alle pogings om verhoudings te bou met mense wat anders as ons lyk, anders as ons dink, anders as ons optree, nie net tot op die grond afgebreek nie, maar selfs tot onder die fondamente onherkenbaar verwoes.

Vroeër hierdie jaar het ds Charlotte Sibanyoni ons by die Wes-Kaapse sinodesitting kom besoek, en ons as sinode het aan haar lippe gehang, soos ek glo baie ander wat haar storie hoor. Uit haar verhaal, en ander stemme wat praat oor verhoudings wat op hierdie spreekwoordelike ruïnes gebou is, is dit duidelik dat opregte dialoog en die vermoë om werklik na mekaar te luister, nodig is om ankerpunte in hierdie bourommel te vind. Daarmee saam is dit belangrik dat die ankerpunte met kabels van vertroue aan mekaar verbind word. Onder andere het ds Charlotte ’n pleidooi gelewer dat ons moet aanhou om na mekaar uit te reik, selfs as dit moeilik is. Veral as dit moeilik is. Ons moet op ’n punt kom waar ons ons motivering kry nie in die pyn van die verlede nie, want dit sal ons altyd agtertoe trek. Nee, ons moet veel eerder ons motivering en passie kry by die Bybel en die God van die Bybel. Om haar aan te haal so goed ek kan onthou: “The blood of the covenant will always be stronger than the blood of the womb!”

LEES OOK: Stemme by die sinode: ‘Jesus se gelykenisse gee ons krag om in te spring en ’n verskil te maak’

Sjoe, dit wat “ons” almal “ons” maak, is altyd sterker en meer as dít wat “hulle”, “hulle” maak! Ek lees baie van die Joodse filosoof Martin Buber se werk, en dit is vir my aangrypend hoe hy dié saak aanspreek. Hy maan ons om, ten alle koste, nooit terwyl ons probeer herbou en opbou, na mekaar te kyk en die ander as objekte te sien nie. Hy maan ons om nie, terwyl ons in die ruïnes van ons geskiedenis rondkrap op soek na iets van waarde wat gebruik kan word wanner ons weer begin bou, aan onsself as slagoffers en aan hulle as die oortreders te dink nie. Om “hulle” nie te sien as “hulle” nie, want in die proses maak “ons” “hulle” niks meer as ’n konstruk van ons eie gedagtes en oortuigings nie! Gesien in die lig van die feit dat Buber self aan eie vel beleef het hoedat die bomme van rassisme en anti-semitisme sy eie leefhuis – letterlik én figuurlik – verwoes het, is hierdie woorde dalk meer van toepassing op ons eie konteks as wat ’n mens sou dink!

Tydens ’n sessie die afgelope week, het ons gesels oor hoe ons pad vorentoe lyk. Iemand het die vraag gevra: Glo ons ons beste tye is in die tru-spieëltjie, of glo ons ons beste tye is in die voorruit sigbaar? Is ons beste tye in die verlede, of in die toekoms?

LEES OOK: Stemme by die sinode: ‘Ons kan nie toemaak nie, want wie gaan dan na die oumense kyk?’

Persoonlik glo ek dit lê nog voor. Ek weet my Afrikaanse onderwyseres het gesê ’n mens mag nie ’n sin met die woord “maar” begin nie, maar ek voel so sterk hieroor dat ek glo ’n uitsondering is hier aanvaarbaar. Ek glo ons beste tye lê nog voor, die nuwe gebou wat op die geraamtes van die verlede gebou is, kan ons grootste verwagtings oortref. Maar … ons gaan moet leer om na mekaar te kyk en die mens raak te sien. Ons gaan moet leer om na mekaar te luister, en nie te fokus op dit wat ons verdeel nie, maar op dít wat ons saambind.

Ons voete is geanker in Afrika. Dit is “óns” kontinent, waar daar gelag en gehuil, beplan en gebou word. Ons gaan dalk moet leer om te bly sit in ongemaklike gesprekke, wanneer elke sel in ons liggaam wil opspring en uithardloop. Ons gaan moet leer om nie te fokus op die kleur van die ander se iris nie, maar op die pupil van ons medemense wat die Lig deurlaat, want dít maak van “hulle”, ons!

** Die berig is deel van ’n reeks getuienisse uit die sinode.

Ds Retief is leraar by die NG gemeente Garies.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top