Marileen Steyn in gesprek met Piet en Sarizé Retief.
Vra my nie waarom ek, telkens as ek oor ’n brug ry, eers probeer kyk of ek water sien nie. Miskien is dit soos hoop werk. Of miskien is dit ’n soort bevestiging van wat ek oor Garies en omgewing gehoor het.
“Ek ry oor riviere van onvervulde gebede,” vlieg die woorde in my kop – en dadelik wonder ek of dit is hoe daardie boere dink.
As ek maar ’n bietjie meer begrip kon hê vir die boere se gevoelens … Sommige smag al nege jaar lank na reën.
Dié wêreld voel vir my, stadskind, vaal en hard, maar ek weet dis ’n omgewing wat tallose mense as “mooi” sou beskryf.
Die pastoriebewoners
Ek leer ken Piet en Sarizé in hul sitkamer: Piet, die predikant by die NG gemeente Garies; Sarizé, die predikant by die NG gemeente Aggeneys, en as konsulent nou betrokke by die gemeentes Grootmist (Kleinzee), Alexanderbaai en Port Nolloth wat almal tans vakant is.
Twee predikante, een groot Namakwalandse avontuur. Dis hoe hulle daarna verwys.
Hulle deel hierdie avontuur met hul honde. “Op die platteland is honde belangrike pastoriebewoners,” sê Piet. Allereers: Hulle is jou vernaamste terapeut. Tweedens: Hulle herinner jou aan die waarde van die evangelie.
Honde is, volgens Piet, die beliggaming van genade en onvoorwaardelike liefde. “Hulle herinner my daaraan om hierdie dinge op myself en op ander toe te pas. Honde is die naaste praktiese voorstelling van Jesus se lewe – behalwe dat hulle nie juis ’n liefde vir vreemdelinge het nie!”
Om gereeld met die honde te gaan stap, om te oefen en enkele ander roetines te volg, het dié egpaar aan ’t beweeg gehou in ’n jaar waarin hulle “anders” moes werk.
“Anders, maar harder. Ja, ons het die verpligte piesangbrood gebak,” lag Piet, “en ons het ’n virtuele braai gehou saam met familie in die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Limpopo.”
“Ons kookvernuf is uitgedaag,” sluit Sarizé by hom aan.
Saam met al hierdie kos het hulle die waarde van ’n goeie wynvoorraad ontdek. En goeie koffie. “Ek sal in ’n Zoom-vergadering sit en ’n foto neem van my leë koppie koffie – en sommer gou word daar vir my ’n nuwe koppie gebring,” lag Sarizé.
Uitreik
Piet en Sarizé se avontuurlus het hulle tydens die grendeltyd na die hospitaal en na ’n grenspos geneem, met pannekoek in die hand. Hierdie klein handeling, tesame met die ander ondersteuning wat hulle aan die hospitaal gebied het, was hul poging om die gesondheidspersoneel op te beur.
Teen die tyd dat die eerste Covid-19-geval die dorp getref het en hulle die vrees kon aanvoel, het hulle reeds ’n goeie verhouding met die hospitaalpersoneel gehad. Miskien is dit juis hierdie kontak wat bygedra het tot Piet se diepe waardering vir diegene wat hul lewe op die spel plaas om ander te versorg.
Piet is dankbaar dat hulle in die grendeltyd tóg meer na gemeentelede kon uitreik. Daar was meer geleenthede vir gesprekke oor die foon en via WhatsApp. En hy reken dat mense deur hul foon met groter vrymoedigheid as gewoonlik oor hul uitdagings kon praat.
Nie dat hy té gek is na telefoonkommunikasie nie; hy moes dit noodgedwonge herontdek.
Nie nét sleg nie
Hy vertel dat sy MTh-studies in Pastoraat hom veral gehelp om gesprekke te stimuleer, en om gou na die praktiese terug te keer. Voorts het hy die waarde van nood-huisbesoeke besef. Dis heel anders as huisbesoek wat “uit gewoonte” plaasvind of omdat die struktuur dit vereis.
“Daar is meer substansie in eersgenoemde,” sê hy. Daar gebeur iets dieperliggends wat hom opgewonde maak.
Volgens Piet is dit belangrik om in dié tyd perspektief te behou, om byvoorbeeld te onthou dat die pandemie nie slegs verliese meebring nie. Sarizé, wat sê dat die grendeltyd vir haar “op die regte tyd” gekom het, noem ’n paar voorbeelde hiervan: “Die koronaviruspandemie was my lewensboei teen uitbranding,” vertel sy.
Dit het haar die geleentheid gegee om na haarself om te sien en om asem te skep.
Sy is ook een van diegene wat nie te hard huil dat soen en druk vir eers agterweë moes bly nie. Dit was vir haar ’n tyd waarin haar fisieke grense gerespekteer is.
“En,” voeg sy by, “dit was vir my lekker om my man vir myself te hê.”
Dit was vir haar ’n lekker belewenis dat sy en Piet die huis alleen kon geniet. Dit was goed om eensklaps weer ’n naweek saam te beleef.
Piet vertel hoe hy die kontak met Sarizé, haar asem in die huis, waardeer het. Onder normale omstandighede bring Sarizé al om die ander week in Aggeneys deur.
Hulle twee kon in dié tyd diep gesprekke oor hul geloof en die bediening voer.
Kreatiewe kerkwees
Sarizé vertel hoe die gemeentes waar sy werk uit hul gemaksone gedwing is, en hoe hulle uitgedaag is om kreatief te wees. Kerkwees is immers meer as erediens hou. Sy vertel egter ook hoe sy die samekomste gemis het, die gemeenskap van die gelowiges.
Piet vertel hoe hy die ouer mense in die gemeente jammer gekry het. Soveel van die bejaardes se beweging is na buite gesentreer: kerk toe gaan en bidure bywoon en winkel toe gaan. Dis dié dat hulle regtig swaar gekry het toe die streng grendeltydreëls gegeld het.
Die vereensaming was ’n bevestiging van die waarheid dat ’n mens slegs mens kan wees deur ander mense, en daarom was dit vir Piet-hulle belangrik om steeds maniere te vind om saam te kom, veral in ’n gemeenskap wat reeds deur ’n uitmergelende droogte geknel word.
Aanpasbaar, veerkragtig
Die kans om te rus, was nie al wat in dié tyd deur Piet en Sarizé aangegryp is nie. Daar was ook ’n lewensles of twee: Almal en alles is aanpasbaar. En: Die wêreld vergaan nie as iets nié gebeur nie.
“Boonop is die kerk een van die mees aanpasbare organismes in die wêreld.”
Piet vertel iets van hierdie soort veerkragtigheid in die gemeente: Ten spyte van dataprobleme kon die gemeentelede aanpas deur boodskappe rond te stuur. Dié aanpasbaarheid het beteken dat mense se idees oor wat kerkwees behels, verander het.
En dit het dominees genoop om nuut te dink. Om alles te gebruik wat tot hul beskikking is. “En dan nie slegs te gebruik wat daar is nie, maar om dit ook op innoverende maniere aan te wend.”
Om dit te kan doen, sê hy, maak hom meer opgewonde as ooit oor die kerk.
En hier is nog ’n belangrike lewensles: Dis oukei as alles nie uitwerk soos jy dit beplan het nie.
Saam groei en saam reis
Ten spyte van hul geredelike aanpasbaarheid, het dié twee teen Augustusmaand tog tam geraak, en hulle het ’n week lank ’n retraite meegemaak waar hulle in stilte slegs vir hulleself verantwoordelik was.
Geloofsgroei was die afgelope jaar vir albei ’n prioriteit. Piet gesels opgewonde oor dissipelskapvorming en geloofsgroei wat in dié tyd by die gemeente plaasgevind het. Dit hang vir hom aan die besef dat dissipelskap nie van ’n ander afhang nie, maar dat dit elkeen se eie verantwoordelikheid is.
Hy vertel ook hoe die pandemie gesinne weer saamgebring het.
Sarizé deel haar besorgdheid oor geloofsgroei by die kinders. Sy het in die grendeltyd aan ouers en voogde gevra om hul doopbelofte te onthou. Om die opdrag aangaande hul kinders se geloofsgroei juis in dié uitdagende tyd te gehoorsaam.
Dis egter nie net die kinders wat ’n behoefte aan geloofsgroei het nie. Die volwassenes het ook ’n behoefte aan daaglikse inspirasie. “Dis ’n leemte wat ons ontdek het, en ons sal voortgaan om daaraan aandag te skenk.”
Op ’n persoonlike vlak het Sarizé nuwe maniere ontdek om dissipelskap te benader. “Daar het ’n soort hoop na vore gekom, dit staan geanker waar jou ware identiteit lê.”
Dit gaan vir haar daaroor om, net soos die verlore seun, weer terug te keer na wie die Vader is. Om nie op die wêreld te fokus nie.
“Alles begin en eindig by God,” verklaar sy. “As jy by die Vaderhuis begin, kan jy enigiets doen. En jy hoef nie bang te wees nie.”
Die metafoor “saam reis” het op verskeie vlakke in haar lewe neerslag gevind.
Piet en Sarizé sê hulle het in dié tyd baie gegroei. Hulle was dankbaar vir die manier waarop die breë kerk aangepas het en byvoorbeeld VBO-kursusse en die jaarlikse Lentekonferensie aanlyn aangebied het.
Hulle woon ver van al die opleidingsentra af en persoonlike bywoning van sulke kursusse is nooit regtig ’n opsie nie. Daarom het kursusse wat via Zoom aangebied is hulle kosbare geleenthede tot inskakeling gebied.
Piet sê hy is wel jammer dat e-posse nou Zoom-vergaderings geword het …
Hy vertel dat sy teologiese beskouings buitengewone verdieping in dié tyd ondergaan het. Hy besef ál meer dat ’n mens nie naastenby God se almag kan beskryf nie. Slegs God het die antwoord vir die koronaviruspandemie.
“Ek het meer bewus geword van hoe God by ons is … en ook déúr ons is.”
Die groot Namakwalandse avontuur van dié twee predikante is nog lank nie verby nie. Maar twee dinge is seker: Hulle sal by die roete aanpas. En hulle sal die pad saam met mekaar en saam met God stap.