Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Stemme by die sinode: ‘Jesus se gelykenisse gee ons krag om in te spring en ’n verskil te maak’

Ons wêreld is regtig stukkend. Dit klink helder in die liedere en gebede by die Algemene Sinode op. By gelowiges roep dit ’n diep verlange na die teenwoordigheid van God op. Sal God ons nood raaksien, aktief ingryp en genesing bring?

Wie is hierdie God na wie ons verlang? Hoe is God aanwesig en bring God ’n verskil?

Die sinode het na aanleiding van die gelykenisse van Jesus oor hierdie vraag gesels. Aan ons tafel het die gesprek oor die gelykenisse van die mosterdsaad en suurdeeg gehandel. God se koninkryk is soos ’n mosterdsaadjie wat gesaai word, groei en met verloop van tyd ’n boom word waarin voëls kom nes maak. Die koninkryk is soos ’n vrou wat suurdeeg in ’n skottel meel inwerk, tot die hele skottel deursuur is.

LEES OOK: Jesus, die metaforiese teoloog – Marius Nel

Anders as aandrang van die heersende kultuur op spoed en prestasie, werk God onstuitbaar maar op ’n ander tydskaal. Ons krete na goddelike ingrype moenie in ongeloof eindig omdat God nie onderworpe is aan dieselfde beperkings van tyd as ons nie.

Waarop ons wel kan vertrou is dat die wêreldgeskiedenis onstuitbaar afstuur op die volheid van die koninkryksboom aan die einde van die tyd, wanneer die hele skottel deursuur is.

Hierdie gelykenisse nooi ons uit om anders oor ons wêreld en God se teenwoordigheid te dink.

Immers, toe Jesus hierdie gelykenis vertel het was die Romeine aan bewind. Die Romeinse Ryk het ’n era van ekstreme wreedheid en doodslag verteenwoordig. Keisers het paleise gebou en tempels, nie hospitale, klinieke, ’n kragnetwerk of polisiediens wat burgers beskerm nie. Daar was haas geen sosiale veiligheidsnetwerke nie.

Jesus se lewe, bediening, sterwe en opstanding het ’n saadjie gesaai wat oor die afgelope tweeduisend jaar gegroei het tot ’n boom wat ’n enorme verskil maak. Christene het hulle vyande begin liefhê, omgee, respek vir lewe deel van die daaglikse bestaan gemaak. Christene het wetenskaplik begin nadink en die kerk het ’n massiewe rol in die ontstaan van die universiteitswese gehad. Dink net aan die mediese wetenskap as deel van die vrug hiervan. Hoe rof dit tans ook al gaan, het Christene bygedra om die wêreld ’n ongelooflik beter plek te maak.

LEES OOK: NG Kerk is steeds kragtige netwerk in SA wat steier en afglip teen gladde paal van gesonde demokrasie-indeks

Die boom het gegroei en die suurdeeg het sy werk gedoen.

Die koninkryk groei stadig maar onstuitbaar.

Hoe troos dit ons, veral wanneer die bloed spat, die inbraak jou huis leeg gelaat het en die geweldslagoffers pynlik by die roudiens gegroet is?

Ons word eerstens herinner dat God werk, al kan ons dit nie altyd helder sien nie.

Danie Mouton

’n Paar dekades gelede was daar drie brandpunte in die wêreld waarvan mense gedink het dit kan net in absolute vernietiging eindig. Een was die stryd in Noord-Ierland, die tweede die stryd in ou Suid-Afrika en die derde die konflik in Israel-Palestina.

’n Ongelooflike ontknoping het in Noord-Ierland en Suid-Afrika plaasgevind. Dit is God aan die werk. Daarom kan ons bly hoop en bid vir Palestina-Israel. Die koninkryksekonomie en tydskale maak dit die logiese om te doen.

Daar is meer oor God se saad-en-suurdeeg-ekonomie te sê. God skep geloofsgemeenskappe en gelowiges wat hulle lewe wy aan die goeie dade wat pas by saad en suurdeeg. Terwyl ons ’n nes vind op God se takke, kom ons in opstand teen gebrokenheid. Ons word vennote in God se projek om herstel te bring.

Dan help die gelykenisse ons ook om ons eie lewe op ’n ander tydskaal te plaas. Baie van die keuses en goeie dinge wat ons doen dra vrugte wat veel verder as die tydskaal van ons eie lewe strek. Ons gaan nooit al die uitkomste van ons eie worstelende pogings om God se opdragte te gehoorsaam beleef nie.

Aan die ander kant is baie van die seën wat ons tans beleef die uitkoms van voorgangers se keuses. Minder as wat ons dink is dalk die vrug van ons eie werke. Dit kom oor die eeue aan na ons toe. Op dié manier leer ’n mens nederiger oor jouself te wees. Jy is dalk nie heeltemal die self made sukses as wat jy gedink het nie.

Aan tafels het ons vir mekaar gesê Jesus se gelykenisse gee ons die krag om elke dag in te spring en ’n verskil te maak.

  • Ds Danie Mouton is direkteur van die Sinode Oos-Kaapland.
  • Die berig is deel van ’n reeks getuienisse uit die sinode.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top