Die lewe is ’n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting saamgestel deur Frieda van den Heever
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers, 2023
Resensent: Rethie van Niekerk
Om woorde te gee wanneer daar geen woorde is nie, dit is die werk van digters. In hierdie bundel het Frieda van den Heever vir haar lesers woorde versamel wat die onbeskryflike beskryf.

Hier is nie soetsappige trooswoorde nie (maar hier staan ons: beskadigd en beletseld soos ons uiteindelik is – Antjie Krog). Tussen ou bekende en moderne digters se woorde deur, staan die brutaliteit van die dood (die dood is tog die onsubtielste ding. – Loftus Marais). Hierdie is ’n oopgevlekte, eerlike kyk na verlies, die morsige worstel met geloof (Mense sê “dood” en “God” gelate / want almal praat vertwyfeling / vlot. – Danie Marais). Die leser word onthuts, maar dalk, ook, ráákgesien. Van den Heever het vir ons ’n pynlik kosbare skat bymekaargemaak. Ja, pa, ’n goeie gedig rym nie op nie nie. / Ek weet, pa, maar dood rym nie met lewe nie – Pieter Hugo.
Beskikbaar by Graffiti boeke.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
