Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Gustav Claassen vertel meer oor die Interfaith Forum of South Africa-konferensie wat op 9-11 Oktober by die Birchwood Konferensiesentrum in Boksburg plaasgevind het met die tema: ONS LAND, ONS VERANTWOORDELIKHEID. Foto's: Verskaf.

TIFSA: Geloofsgemeenskappe praat saam om land se uitdagings aan te spreek 


Suid-Afrika het radikale rehabilitasie nodig om ’n bestaanskrisis af te weer, hoor Gustav Claassen tydens die onglangse nasionale saamkoms van die intergodsdiensgroep TIFSA, met die tema: ONS LAND, ONS VERANTWOORDELIKHEID.

 

TIFSA staan vir The Interfaith Forum of South Africa en is ’n organisasie wat bestaan uit verskillende geloofstradisies oor die wye spektrum. TIFSA poog om by te dra tot ’n samelewing wat gebou en gegrondves is op waardes en standaarde wat ’n regverdige en billike samelewing kan waarborg. 

Dié waardes is gebaseer op die grondslag van persoonlike integriteit, geregtigheid en die menswaardigheid van elke burger, ongeag ras, etnisiteit, geslag, sosiale en ekonomiese status, godsdienstige of politieke affiliasie.

Die rede vir TIFSA se totstandkoming is die feit dat Suid-Afrika homself op ’n ekonomiese en sosiale afgrond bevind. Die boodskap van die forum, is dat  Suid-Afrika by ’n kruisppad gekom het en dreig om in duie te stort. Die land het radikale rehabilitasie nodig om ’n bestaanskrisis af te weer. Die huidige situasie word gekenmerk deur toenemende armoede, ongelykheid, maatskaplike euwels, geweld, diskriminasie, korrupsie en wydverspreide werkloosheid wat baie burgers uitsluit van sinvolle en konstruktiewe ekonomiese en politieke deelname.

Geborg
Eerw Mzwandile Molo van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke by die skrywer.

Mislukking van nasiebou

’n Groot deel van die bevolking is ontnugter en moedeloos as gevolg van die mislukte beloftes en verwagtings van ‘n nuwe demokratiese bedeling. Van die belofte om ’n regverdige, versoende, billike en volhoubare Suid-Afrika, vry van rassisme, stamverwantskap, xenofobie en geslagsvooroordele, vry van korrupsie en ontbering, met kos en skuiling vir almal  en om vir elke kind wat gebore word die omstandighede te skep om sy/haar godgegewe potensiaal te ontwikkel, het niks gekom nie. Hierdie mislukking lei tot mislukte verhoudings onderling, gebrek aan welwillendheid tussen landsburgers oor alle grense en uiteindelik tot die mislukking van nasiebou. Die belofte van ’n beweging weg van ’n gefragmenteerde  bestaan van rasse- en klasse-opposisie na ’n verenigde Suid-Afrikaanse nasie, inklusief, vooruitskouend en in vrede met homself, het nie gerealiseer nie. Van die droom en visie soos vervat in die aanhef van die stellings in die Aanhef tot die Grondwet het niks gerealiseer nie.

Daarin sê ons, gesamentlik:

Ons, die mense van Suid-Afrika, verenig in ons diversiteit, neem hierdie Grondwet aan as die hoogste wet van die Republiek om:

  • die verdeeldheid van die verlede te heel deur ’n samelewing te vestig, gebaseer op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte;
  • die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin die  regering gebaseer is op die wil van die mense en elke burger gelyk deur die wet beskerm word;
  • die lewenskwaliteit van alle burgers te verbeter en die potensiaal van elke person te bevorder en
  • ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die familie van nasies kan inneem (vry vertaal).

Dit is teen hierdie agtergrond dat TIFSA ’n nasionale konvensie van alle sektore byeengeroep het. Die byeenkoms, bestaande uit die breë spektrum van ons burgerlike samelewing, beoog om te besin oor en betrokke te raak by die toekoms van ons land wat deur sy grootste, volgens talle kenners, bestaanskrisis uitgedaag word. Die pasafgelope konferensie het ten doel gehad om die verdeeldheid van apartheid reg te stel, die armoede en ongelyke menswaardigheid en waardes wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet voorgeskryf word, te bevorder en uit te bou.

Ons land, ons verantwoordelikheid 

Die TIFSA-konferensie met die tema ONS LAND, ONS VERANTWOORDELIKHEID het plaasgevind op 9-11 Oktober by die Birchwood Konferensiesentrum in Boksburg waar die NG Kerk se Algemene Sinode van 15-20 Oktober plaasgevind het. 

Geborg

TIFSA wil die begin wees van ’n waardegedrewe politieke proses om die nasionale agteruitgang om te keer deur positiewe waardes vir die regeer van die land op alle vlakke vir regering met integriteit te vestig. In die nastrewing hiervan moet politieke partye wat poog om as dienaars van die mense van Suid-Afrika te regeer, ’n agenda gegee word van wat Suid-Afrikaners verwag hoe hulle regeer moet word. Politieke partye sal moet rekenskap gee hoe hulle aan die nood en behoeftes van landsburgers gaan voldoen en goeie regering gaan verseker.

Om algemene kwessies aan te spreek, sal die TIFSA op ’n kritiese en konstruktiewe wyse met ander liggame betrokke raak, insluitend besigheid, burgerlike samelewing, regering, arbeid en NRO’s.

Die Konferensie is ontwerp om ’n beweging te begin op voetsoolvlak ten bate en behoud van die hele Suid Afrika.

’n Beroep is deur die Konferensie op alle landgenote gedoen om hul rol te speel in die bou van ’n billike, verenigde en volhoubare nasie van integriteit waarin hul deelname betrek sal word. Landgenote se betrokkenheid sal veral deurslaggewend wees in die voorstelle ten opsigte van die inhoud van etiese leierskap as ’n beoordelingsmodel  vir politeieke partye. Dit sal van toepassing wees vir elke politieke party wat deelneem aan die 2024-verkiesing.

TIFSA wil ’n bydrae lewer om rigtingwysers te identifiseer ten einde ‘n bekwame Staat met integriteit en aanspreeklikheid vir almal daar te stel. Dit wil koersaanpassings en riglyne voorstel om ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse nasieskap, met volhoubare waardes te verseker. TIFSA wil hom beywer vir  ’n ekonomiese argitektuur wat volhoubare lewensbestaan vir almal verseker.

Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

TIFSA_CONFERENCE_STATEMENT_FINAL_11_October_2023_2493.1410231100

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand