Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Verstaan die ‘negatiewe’ jonger generasies nie dalk ’n hele paar uitdagings beter as ek en die Professors Positief van die wêreld nie?


Cas Wepener tob oor wanneer slegte nuus inderwaarheid goeie nuus is. 

Jongmense word uitgevra oor hulle mening tydens ’n paneelbespreking. Die tema is die stand van sake in die wêreld. Hulle is deur die bank erg krities, eintlik prontuit negatief oor wat hulle waarneem en beleef. Daar is ’n soort paradoks tussen hoe jonk en energiek hulle lyk en dit wat hulle sê.

Die gehoor is heelwat ouer as die jongmense wat ondervra word – ’n klompie Gen X-ers (1965-1981) soos ek, maar merendeels Boomers (1946-1964).

“Ai, maar dis hartseer,” merk ’n Boomer in die ry voor my op, verwysend na die algemene trant van die jonger generasie se antwoorde. “Die hele wêreld lê oop voor hulle. Soveel geleenthede, soveel potensiaal. Hulle moet net ophou kla, nie so negatief wees nie en die dag gryp. Maar as ons jongmense só praat, dan is daar maar min hoop vir die wêreld.”

Geborg

Die jeugkritiserende Boomer

Terwyl ek die jongmense op die verhoog hoor, en onvermydelik ook dit wat in die ry voor my gefluister word, is ek diep bewus van die enorme balk in my eie oog. Ek is die laaste een wat ’n splinter mag raaksien en verwyder. Hoe dit ookal sy … bewus van my skuld, vat ek nietemin ’n tweezer en mik vir ’n oog in die ry voor my.

Ek ken die jeugkritiserende Boomer goed. ’n Positiewe mens en ambisieuse akademikus. Elke geleentheid word aangegryp en indien dit nie bestaan nie, word dit geskep. Iemand wat sonder om te blik of te bloos meer as tien keer per jaar (letterlik, I kid you not!) internasionale konferensies regoor die wêreld bywoon. Om tien konferensies by te woon, benodig jy ’n minimum van twintig vlugte (bes moontlik meer). Elke internasionale konferensie, of jy nou genooi is om ’n aanbieding te doen of sommer net gaan bywoon, is mos net ’n ongelooflike geleentheid wat aangegryp móét word. ’n Mens kan net nie anders as om positief te wees en elke geleentheid te omhels nie. Elke glas is altyd, maar altyd, half vol. Carpe diem! Gryp die dag, nee, gryp sommer die hele week en maand en jaar en dekade. Gryp die planeet en elke laaste druppel fossielbrandstof wat oor is. Meer is altyd beter en ’n druk agenda en ’n volgeskryfde dagboek wat heelwat internasionale konferensies insluit, is ’n klinkklare bewys van sukses. Met hierdie negatiewe klomp jongmense is daar maar min hoop vir die wêreld en lyk die toekoms grou. Wat jonger generasies benodig is ’n goeie skeut positiwiteit, hulle negatiwiteit, hulle kritiese blik en geweeklaag, gaan die wêreld se agteruitgang beteken.

LEES OOK: ChatGPT help kerk ‘luister’ in soeke na pad vorentoe te midde van verdeeldheid by Algemene Sinode

Die Ugandees Emmanuel Katongole skryf in sy boek Born from lament dat uitdrukkings van klag hoop in aksie is. Toegegee, niemand is lus vir mense wat sommer net suur is en almal sonder rede depressief stem nie, maar is daar nie ’n fyn lyn tussen gesonde positiwiteit wat lepel lê met hoop en ’n verwoestende positiwiteit nie? Sou ’n mens, ek wonder, ek weet nie, maar sou ’n mens die jongmense se negatiwiteit nie dalk kon waardeer as ’n soort geboorte uit klag en dus as sodanig ’n vorm van hoop nie? Verstaan die negatiewe jonger generasies nie dalk ’n hele paar uitdagings, nee, ’n hele paar lewens- en wêreldbedreigende krisisse, ’n raps beter as ek en die Professors Positief van die wêreld nie? Byvoorbeeld die feit dat nie elke geleentheid, maak nie saak wat die koste daarvan vir die ekologie en jou geliefdes is, noodwendig ’n geleentheid is nie. Is ’n geleentheid nie eers ’n ware geleentheid nadat die koste daarvan bereken is nie?

Negatiwiteit eintlik positiwiteit?

Ek is geensins ten gunste van die kanselleerkultuur en dat Prof Positief uitgehaal moet word nie. En nie net omrede ek as middeljarige bevoorregte wit man in hierdie jagseisoen kroonwild is nie. Tog sien sommige van ons negatiewe en uiters kritiese jongmense miskien dinge raak wat mense van ouer generasies, soos yours truly, moeiliker raaksien en is hulle oënskynlike negatiwiteit soms dalk eerder die klanke wat ons nou benodig. Miskien is hulle negatiwiteit eintlik positiwiteit en sekere vorme van positiwiteit eintlik negatief. Miskien is hulle negatiewe uitkyk ’n uitdrukking van hoop wat na slegte nuus klink vir sommige, maar eintlik goeie nuus is vir die meerderheid mense en vir die planeet.

Geborg

’n Paar van die Bybel se profete was ook maar deksels negatief. Knorpotte en pretbederwers as jy my vra. “Ek haat, Ek verwerp julle feeste … Ek wil julle feesvierings nie ruik nie … Hou die lawaai van julle liedere weg van my …” Dit was in die lig van sosiale ongeregtigheid soos rykes wat armes vertrap wat Amos so negatief was. Miga en Jeremia en Jesus het ook wanneer nodig negatiewe klanke gemaak.

Uitdrukkings van hoop

In sy klassieke The prophetic imagination skryf Walter Brueggemann: “The task of prophetic ministry is to nurture, nourish, and evoke a consciousness and perception alternative to the consciousness and perception of the dominant culture around us.” Is dit nie dalk waarmee ons kritiese jongmense besig is nie? Sien hulle nie dalk die dominante kultuur wie se lug ons almal inasem sonder dat ons dit dikwels besef ’n raps beter en fyner nie? En is daardie negatiwiteit, die klagtes, nie miskien tegelyk profesieë en selfs uitdrukkings van hoop nie? Negatiewe klanke wat ons kan help met daardie alternatiewe bewussyn en uitkyk waarvan Brueggemann praat.

Daardie klagtes van die jongmense is dalk die goeie nuus wat ons in ons eie dag nodig het. Vir die Professors Positief van ons wêreld is daardie goeie nuus egter slegte nuus, maar vir ons planeet en vir die grootste gros van sy bewoners, veral ook dié wat nog gebore moet word, is dit goeie nuus.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand