Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

DINKSTOF: Is almal dalk reg in verkeerd-wees?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


En toe wen die Sprinbokrugbyspan die Wêreldbeker in 2023 – weer ’n keer!

Dit is omdat die span se leuse “Saam is ons sterker” is, verkondig kaptein Siya Kolisi. Saam het ons, wat uit verskillende kulture en agtergronde kom, dit vir Suid-Afrika gedoen. Die gevolg van hierdie oorwinning het ons in die dae daarna in Suid-Afrika sien afspeel. Oor ras-, taal- en kutuurgrense het mense saam feesgevier. Hierdie span en dit wat hulle in 2019 en in 2013 vermag het, sal vir ewig in die annale van Suid-Afrika se geskiedenis opgeteken staan.

LEES OOK: Kerkbode se volledige sinode-dekking

En die NG Kerk? Die NG Kerk het in 2023 Algemene Sinode gehou. Hoe anders was die uitkoms egter nie. Na ure of was dit dae se debattering oor die selfdegeslagverbintenisse het verskillende stemme tydens en na die vergadering opgeklink: “Hierdie is ’n groep van gemeentes en hulle het volgens die Kerkorde geen locus standi nie,” is van die Koinonia-Sinode gesê. “Met hierdie besluit sal ons die kerk weer in die hof sien,” het ’n ander stem laat hoor. “Dit is die einde van die pad – nou loop ons,” het ander gesê. Van “Een in liggaam en Gees” was en is daar geen sprake nie – en almal is reg!

Miskien is dit die hartseer verhaal van die NG Kerk se geskiedenis: In 1853 met die ontstaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika was almal ook reg: Dirk van der Hoff en Andrew Murray. In 1859 met die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika was Dirk Postma reg. In 1987 met die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk was Johan Heyns en Willie Lubbe reg – en deur die jare tussenin met elke afskeiding en wegbreek was almal soos nou regtig reg – of nie?

Die groot vraag is of dit dalk moontlik kan wees dat almal in hulle absolute reg-wees ook verkeerd kan wees? Verkeerd in ’n land met meer as 30 miljoen arm mense, verkeerd in ’n land waarin daar elke 21minute iemand vermoor word, verkeerd in ’n land waarin daar tussen Oktober en Desember 2022 sowat 5 935 vrouens verkrag is – min of meer een elke 22 minute, verkeerd in ’n land wat sy morele kompas verloor het as gevolg van gierigheid en korrupsie, verkeerd in ’n land wat smag na hoop, verkeerd in ’n land waar sport vir ons moes wys wat gebeur as saamwees ons sterker maak.

LEES OOK: Amptelike besluite by Algemene Sinode 2023

Wat gaan in die annale van die geskiedenis van die NG Kerk in 2023 geskryf staan? Dat almal reg was in hulle verkeerd-wees of dat lidmate van die kerk daarin kon slaag om saam te bly en regtig ’n verskil te maak?

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “DINKSTOF: Is almal dalk reg in verkeerd-wees?”

  1. korrek Soos met elke afstigting Gemeente groei, kry tweede predikant, polarisasie, stig af, bou kerk, groei, kry weer tweede predikant, weer polarisasie, stig af en bou weer kerk.
    Dus Vandag meer leegstaande kerke met min tot ekonomies nie volhoubare gemeentes: alles ? agv
    onbenullige verskille Soos wat elke groep die Bybel interpreteer om by hulle siening van sake in te pas.
    Daar is genoeg getuienis in Jesus se eie woorde Lees dit Soos ‘n kind en leef dit

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.