Geweld teen vroue: Dit is tyd dat mans begin praat saamgestel deur Bernard Lategan, Jody Hendricks, Willemien Brümmer, Kopano Ratele en Chris Jones
Uitgewer: Naledi 2023
Resensent: Rethie van Niekerk
Vanaf 25 November tot 10 Desember vanjaar word die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld wêreldwyd gedenk, soos elke jaar sedert 1991. Die samestellers van Geweld teen vroue voel dat daar een groot blindekol in hierdie 16 Dae is: die rol van mans. “Mans is oorsaak én oplossing”, skryf Crispin Sonn.
Derhalwe werk die boek met die eenvoudige oortuiging: Dit is tyd dat mans begin praat. Mans word geroep tot introspeksie en aksie. Verskillende stemme word gehoor, mans sowel as vroue, Afrikaans en Engels, van “twee ou wit mans” [sic] tot Siya Kolisi.
Gedryf deur die vertellings van persoonlike ervarings, lyk dit asof die gespreksgenote twee dinge probeer doen: Eerstens word die “hoekom” vraag gevra. Gelukkig kom die “hoe” vraag ook deeglik onder die loep.

Om te vra hoekom mans geweld teen vroue pleeg (of enige geweld), is om ’n baie fyn lyn te loop tussen verklaar en verskoon – ’n lyn wat myns insiens nie altyd helder geloop word in al die nadenke nie.
Die krag van hierdie nadenke lê egter in die bydraes oor die “hoe”. Mans word genooi om te beweeg van ’n “bier, braai, bendes en bliksem”-manifestasie van manlikheid, na ’n nuwe vorm van manwees. Die skrywers pleit vir dringende aandag aan mans se emosionele welstand en geestesgesondheid. Praktiese idees rondom byvoorbeeld onderwys en geloofsgemeenskappe word gegee.
Hierdie is ’n dapper, belangrike gesprek. Hoewel ek hier en daar sou wou hê dat daar meer genuanseerd gepraat moet word, wens ek dat elke enkele man in ons land hierdie boek sal lees – en aktief, opbouend aan die gesprek sal begin deelneem. Deur, soos die skrywers sê, te begin by luister. Verandering begin inderdaad, soos Bernard Lategan sê, “wanneer ons ’n ander blik op die werklikheid kry.”
Beskikbaar by Naledi.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
