Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Skrywers bied puik wegspringplek as jy oopkop op reis wil gaan met die vraag hoekom jongmense wegbly uit die kerk

Ontmoet die toekoms: 12 Rigtingwysers oor jong volwassenes, die kerk en spiritualiteit deur Andriëtte de Ridder, Francois Maritz en Stephan Naudé, met Nicola Alberts

Uitgewer: Dinkjeug 2023

Resensent: Luané McLachlan

Die vraag op almal se lippe: “Hoekom bly die jongmense weg uit die kerk?” Ek ken nie ’n predikant wat nog nie met hierdie vraag geworstel het nie. Ontmoet die toekoms het hierdie vraag geneem en aan die werk gespring om antwoorde te kry.

Na deeglike navorsing, het die skrywers hulle bevindings kreatief en verstaanbaar uiteengesit in die vorm van 12 rigtingwysers wat poog om die kerk en haar nabye mense te help om hierdie belangrike vraag te beantwoord. Maar pasop, hulle bevindings is selde wat jy sal verwag! Die jong mense wat deel was van die navorsing hou nie terug nie, en het hulle eerlike en brose opinies gegee. Die teikengroep van hulle navorsing was jong volwassenes, 20 tot 35 jaar, wat geklassifiseer word as “ver van die kerk”, dws jongmense wat spiritueel is, ’n verskil wil maak, maar wat krities is oor die kerk.

Die 12 rigtingwysers gee vir die leser ’n raamwerk waarbinne hulle geïnspireer word, uitgedaag word om kopskuiwe te maak, en nog verder uitgedaag word om te eksperimenteer met nuwe maniere van bedien in hulle gemeenskap. Hierdie aanwysers help ons om uit ons gewone maniere van dinge doen te klim en anders oor kerk te begin dink. Ons word verder uitgedaag met die vraag: “Hoe kan die kerk relevant wees in die wêreld van vandag?”

Hierdie boek gee hoop aan die predikante en lidmate wat glo in die roeping van die kerk, maar onseker is hoe die kerk van die toekoms gaan lyk. Daar ís ’n plek vir die kerk in die toekoms, maar vir dit om ’n werklikheid te word, gaan die kerk van vandag bereid moet wees om uit hulle gemaksone te beweeg, dapper die toekoms aan te gryp, en die harde en kreatiewe werk te doen. Ontmoet die toekoms is ’n uitstekende wegspringplek vir enigiemand wat bereid is om op hierdie reis te gaan.

Beskikbaar by Bybel-Media.

Ds Luané McLachlan is dominee by die NG Kerk Murraysburg.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top