Sexy but psycho: How the patriarchy uses women’s trauma against them deur Jessica Taylor
Uitgewer: Constable 2022
Resensent: Quinette Le Roux-Weitsz
In Sexy but psycho: How the patriarchy uses women’s trauma against them ondersoek die skrywer die ingewikkelde manier waarop vroue se trauma gemanipuleer en verdraai word binne die heersende patriargale sisteem.
Taylor begin deur die diep gewortelde stereotipering rondom vrouens te ondersoek, veral die digotomie tussen “sexy” en “psycho”. Sy redeneer dat hierdie tweedelige stereotipering ’n nadelige narratief skep wat vrouens se onafhanklikheid en emosionele welstand beskadig.

Deur ’n kombinasie van navorsing, persoonlike ervaring binne die praktyk en ware gevallestudies, demonstreer sy hoe die hedendaagse (of eeue oue) stereotipering van vrouens die gemeenskap toelaat om vrouens wat dit waag om hulle gevoelens uit te druk of hulleself te probeer beskerm, te marginaliseer en verwerp.
Sy kry dit reg om dwarsdeur die boek komplekse sielkundige konsepte te verduidelik en te wys hoe vrouens se trauma teen hulle gebruik word en selfs uitgebuit word. Taylor pleit vir ’n kritiese evaluering van ons kulturele norme, veral wanneer dit kom by gevalle waar vrouens deur trauma beïnvloed is en dan met persoonlikheidsversteurings gediagnoseer word. Hierdie boek is ’n skrikwekkende verslag oor wat gebeur as vrouens en meisies verwys word na sekere sielkundiges, psigiaters en selfs maatskaplike werkers, nadat hulle trauma en misbruik gerapporteer het.
Taylor voer aan dat die sisteem siek is, nie die slagoffers nie. Sy pleit dat professionele persone wat werk met vrouens en meisies wat deur trauma en misbruik is, meer opleiding moet kry om te verstaan hoe trauma ’n mens beïnvloed en dat vrouens moet gesien word vir wie hulle regtig is – ’n bang persoon en nie noodwendig ’n onstabiele persoon wat net wil wraak neem of aandag soek nie.
Hierdie boek gaan beslis baie mense ongemaklik maak, selfs kwaad maak. Maar dit is ’n belangrike boek om te lees vir almal wat belangstel in traumaberading.
Beskikbaar by Wordsworth.
Ds Quinette Le Roux-Weitsz is predikant by Cambridge-gemeente in Oos-Londen, familieberader en mediator.
