Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerkbode-leesfees: Idees vir Kersgeskenke

Ons boekeredakteur, Rethie van Niekerk, stel ‘n lysie saam van geskenk- en leesidees vir die feesseisoen.

Vir aanhangers van nie-fiksie

 

Kultusse in Suid-Afrika deur Jana Marx

Uitgewer: Lux Verbi, 2023

Resensent: Ghisnene Müller

Toe ek destyds die joernalis Jana Marx se dokumentêr Devilsdorp gekyk het, was ek verbaas dat so iets in die 21ste eeu in Suid-Afrika kon plaasvind. Dit is hoekom ek onmiddellik die geleentheid aangegryp het om die boek Kultusse in Suid-Afrika deur die einste joernalis te lees.

Marx herinner ons aan die belangrike rol wat godsdiens in die menslike psige speel. Minstens drie van die kultusse (en nog meer splintergroepe) wat in die boek genoem word, het hulle wortels, ten minste in Suid-Afrikaanse konteks, in die Afrikanerkultuur.

Na die uitsending van Devilsdorp, het die vraag by baie ontstaan: Hoe weet ek of die kerk of groep waaraan ek behoort, ’n kultus is? In ’n poging om hierdie vraag te beantwoord, begin Marx deur na die verskil tussen ’n kultus en ’n sekte te kyk. Sy fokus dan op spesifieke kultusse wat sy groepeer as moord- en gedagtebeheerkultusse, korporatiewe kultusse, sekskultusse en politieke kultusse.

Marx het ’n hele nuwe wêreld van kultusse, ook hier op eie bodem, vir my oopgemaak. Nooit sou ek kon dink dat daar op hierdie oomblik kultusse onverpoos en met minimale teenkanting kan bly voortbestaan nie. Kultusse wat amper dieselfde taal as ek en ander gelowiges praat en wat duisende volgelinge in Suid-Afrika en elders het.

Die najaag van geld loop soos ’n goue draad deur die versillende kultusse in die boek genoem. Soos ook dié van mag, onderdrukking en geweld.

Marx het daarin geslaag om my in hierdie kultusverhale in te trek. Sy het my gehelp om kennis en begrip te kry. Sy sluit die boek ook af met ’n hoofstuk waarin dié kennis gebruik word om die tekens en gevare van kultusse uit te wys. Sy gee aanwysings oor hoe om hulle te herken en ook wat om te doen as ’n geliefde betrokke raak. Ek is verras oor hoe relevant hierdie boek is.

Kultusse in Suid-Afrika is ’n lekker (en vinnige) lees en Marx kry dit reg om die boek toeganklik te maak vir alle lesers.

Beskikbaar by Exclusive Books.

Ds Ghisnene Müller is predikant by Verwoerdpark-gemeente in Alberton.

 

Vir aanhangers van fiksie

Onze Rust deur Pieter Verster

Uitgewer: Naledi, 2022

Resensent: Deon Strydom

Met die eerste oogopslag is Onze Rust bloot twee parallelle verhale: die verhaal van twee predikante, een oud, die ander jonk, en die verhaal van president Steyn wat na die Anglo-Boereoorlog terugreis na sy geliefde Vrystaat. Die eerste verhaal speel in die tydperk 2019-2020 af, die tweede in 1905.

In die verhaal van die predikante is daar die verwagte spanning tussen oud en jonk en verskillende maniere van doen. Deurentyd is daar egter ook dieper vlakke van spanning, spanning wat veral binne die persone van president Steyn en Herman, die ouer predikant, leef. Die spanning in Herman spruit onder andere uit die manier waarop hy grootgeword het en sy dienspligtyd. Dit lei ook tot spanning in sy huwelik met Sandra en depressie.

Die jonger kollega, Jacques, se frustrasie met Herman kom ook duidelik na vore en word lewensgetrou uitgebeeld. Hy wil na die toekoms reik en sien Herman as vasklouend aan die verlede.

President Steyn worstel ook met spanning oor of die manier waarop hulle die oorlog geveg het reg was, oor die uitrek van die oorlog en die lyding wat dit teweeggebring het.

Onderliggend aan die ooglopende is daar ’n dieperliggende spanningslyn – hoe weet ek of dit wat ek doen en besluit korrek is? President Steyn en Herman word albei uitgebeeld as worstelend met vertwyfeling in hulle gemoedere. In Steyn se geval is dit ’n gebaar van iemand wat alles verloor het wat vir hom rus gee. By Herman is dit ’n krisis, wat amper sy dood veroorsaak, wat versoening en aanvaarding bring. Ook tussen hom en Jacques.

Ek het aan die begin gesukkel met die skryfstyl van kort, soms byna staccato, sinne en moes op plekke kophou om by te bly met wie aan die woord is. Soos wat ek aan die styl gewoond geraak het, het ek die boek al meer geniet. Die skryfstyl het ook daartoe bygedra dat Herman se spanning byna aangevoel kon word. Ek het die karakters lewensgetrou ervaar en ’n hele klomp nuwe goed oor president Steyn geleer!

Beskikbaar by Naledi.

Ds Deon Strydom is predikant by Stutterheim Verenigde Gemeente (NG Kerk en Presbiteriaans).

Inkommers deur Hans du Plessis

Uitgewer: LAPA, 2022

Resensent: Rethie van Niekerk

Een van die dinge wat my tienergedagtes in die vroeg 1990’s fundamenteel rondom ons land se destydse politieke bestel gevorm het, was Hans du Plessis se Skuiwelinge. Intussen het Du Plessis geen bekendstelling nodig nie, van jeugromans tot die beminde “Griekwa-psalms”. Inkommers stel eweneens nie teleur nie.

Inkommers is ’n eietydse verhaal, ’n kroniek van die Afrikaners – die familie, nie die volk nie – wat al van die Groot Trek se dae af wydsbeen oor die vuil Vaal in die Vredefortkoepel boer,” sê die uitgewer. Plakker Prinsloo vertel die verhaal van die Afrikaners en die Kom – ’n verhaal waarvan sy as inkommer mettertyd al meer self deel raak. Soos die verhaal ontknoop, kom onverwagse lyne bymekaar.

Du Plessis vertel die verhaal van grond, van mense se gebondenheid aan die land, die manier waarop ons geskiedenis verweef is met plek. Wie hoort en wie hoort nie? Aan wie behoort die grond? Wat bewaar ons? Wie is “ons” en wie is “ander”?

Wanneer daar in Suid-Afrika oor grond en plek en behoort gepraat word, is die verwagting dat dit noodwendig ’n politieke verhaal gaan wees. Tog is Inkommers, anders as Skuiwelinge van my tienerjare, nie ’n politieke verhaal nie. Dit is ’n mense-verhaal van liefde en behoort.

Met fyn humor waarvoor die leser soms uit die maag uit lag, diep wysheid waarby jy wil stilstaan en herkou, subtiele verwysings na bekende Afrikaanse literatuur, tot oomblikke waar jy saam met die karakters huil, weef Du Plessis sy verhaal met drama en intrige.

Van hierdie leser se vermoedens bly tergend onbevestig. In die storie, soos in die regte lewe, word alle vrae nie klinkklaar beantwoord nie. Tog kom die lyne bevredigend genoeg bymekaar dat die verhaal afgehandel voel, dat die leser die Kommers kan agterlaat om hulle lewe rustig voort te sit. Al bly hulle verhaal – soos enige goeie fiksie – lank in jou agterkop spook.

Beskikbaar by LAPA.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

 

Vir tieners

Veergewig deur Jan Vermeulen

Uitgewer: LAPA, 2023

Resensent: Elmarie Dercksen

Jan Vermeulen het al verskeie pryse gewen vir sy jeugromans, en ook hierdie lekker storie was deel van die kortlys vir die Lapa Jeugromankompetisie van 2021. Die skrywer weet hoe om ’n verhaal vir jongmense oemf te gee.

Die karakters is kleurvol, veral die rooikop-hoofkarakter Talia Bekker. Sy voel egter nie soos ’n Bekker nie, want sy is aangeneem. Haar broer Hamer sal altyd ’n Bekker wees, al is hy ’n tronkvoël. Dit is onregverdig, want sy moet baklei daarvoor – letterlik. Talia het boks gekies as sport. As sy soos haar pa ’n amateurkampioen kan word, sal sy haarself miskien as ’n Bekker kan aanvaar. Dit is hoekom die komende klubkampioenskap vir haar so belangrik geword het. Net jammer sy moet teen Amber te staan kom, almal se gunsteling.

Haar vriendskap met Endolene, haar verhouding met haar ouers, en haar bewondering vir meneer Spies ly alles onder Hamer se inmenging – die leser raak skoon senuagtig vir Talia se part. Verder is daar ook nog moeilikheid met ouens: haar jeugvriend Odin en die aantreklike matriekseun Justin. Die storielyn het ’n hele paar kinkels wat ’n mens se aandag behou, en die krisis en ontknoping kom uit ’n verrassende oord.

Die dialoog is eg sonder om geaffekteer te wees. Talia se wêreld van skool en vriende weerspieël jongmense se werklike ervarings: die skakerings van boeliegedrag en etikettering, maar ook die moed om op te staan vir wat reg is.

’n Heerlike element van Talia se wêreld is die boksklub; die leser word behoorlik meegevoer en leer tegelykertyd van ’n skaarser sportsoort. Die enigste jammerte is dat die pastorie as ruimte nie heeltemal slaag nie. Hoewel dominee Bekker ’n deernisvolle pa is, en mevrou Bekker ’n veelkantige karakter, voel die gemeente en hulle onrealistiese eise soms gemaak-antagonisties.

Beskikbaar by Lapa.

Ds Elmarie Dercksen is predikant op Bloubergstrand en skrywer van die roman “Die gawe van groen”.

 

Vir jong tieners

Aardewurm, Tydboom en die Springmat deur Siegfried Louw, Tinus van Zyl en Marileen Steyn

Uitgewer: Bybel-Media, 2023

Resensent: Ankia du Plooÿ

Aardewurm, Tydboom en die Springmat (geïnspireer deur die boek van dr Andries Cilliers Onder die blaredak: Verwonder oor die gawe om te kan glo) is ’n meesterlike werk wat jong lesers saamneem op ’n betowerende reis deur tyd en ruimte op soek na geloof, hoop en liefde.

Die eerste ontmoeting tussen Fia en Johan, in die parkie, is die vonk wat hierdie betowerende reis aansteek. Die skrywers se vermoë om ’n wêreld vol verbeelding te skep, word duidelik in die beskrywings van die karakters se avonture en ontmoetings. Die ontwikkeling van die karakters, veral Fia en Johan, van twyfelende individue tot gelowige reisigers, is ’n inspirasie. Die gebruik van fantasie-elemente, soos Aardewurm se slim grappies en Tydboom se vermoë om deur tyd te reis, voeg ’n magiese dimensie by die verhaal.

Elke hoofstuk bied ’n nuwe en meesleurende ervaring, van die ontmoeting met Bybelse figure soos Abraham, Moses en Paulus, tot die finale visioen van ’n nuwe wêreld onder die boom van die toekoms. Die boek is ryk aan simboliek en diepe betekenis, wat dit ’n waardevolle leeservaring maak vir lesers wat op soek is na ’n dieper begrip van geloof en spiritualiteit.

Die skryfstyl is toeganklik en kindervriendelik, met pragtige beskrywings en beeldspraak wat aan die verhaal lewe gee. Die boodskap van geloof, hoop en liefde word deurgaans sag, maar kragtig oorgedra. Aardewurm, Tydboom en die Springmat is ’n moet-lees vir jong lesers (en selfs volwassenes) wat hulleself oopstel om saam met Fia en Johan op ’n ontdekkingsreis te gaan wat hulle bring by verwondering oor God en die lewe.

Spring saam met Fia en Johan op hierdie wonderlike reis! Dit sal jou laat verstom staan oor God en die wonder van die lewe.

Beskikbaar by Bybel-Media.

Ds Ankia du Plooÿ is die uitvoerende bestuurder van die vrouebediening in die sinode van Wes-Kaapland.

 

Vir kinders

Ben en die groot toets deur Zuléka Smit en Johann Strauss (illustrasies)

Uitgewer: LUCA, 2023

Resensent: Rethie van Niekerk

Ben, ’n graad 1-leerder, hou van skool. Totdat Juffrou aankondig dat hulle hulle eerste toets gaan skryf. Ben se vrees kry hom byna onder, totdat sy mamma hom herinner aan Jesaja 41:10. Hy leer “as jy hard werk, glo in jouself, en weet dat Liewe Jesus jou beskerm, hoef jy nie bang te wees nie.”

Hierdie is ’n lekkerlees boek, wat ouers sal help om goeie gesprekke oor skool, vrees en vertroue in God te voer. ’n Hoogtepunt is die pragtige, prettige illustrasies.

’n Storie waarmee kinders sal kan identifiseer.

Beskikbaar by LAPA.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

 

Vir aanhangers van nie-fiksie

Christ’s love moves us to reconciliation and unity: An ecumenical challenge in Africa deur Johannes Knoetze en Jerry Pillay (redakteurs)

Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2023

Resensent: Cobus van Wyngaard

Die titel en subtitel van Christ’s love moves us to reconciliation and unity beskryf die versameling goed. Akademiese boeke wat uit ’n versameling hoofstukke van verskillende outeurs bestaan, is nie altyd bekend daarvoor dat die hoofstukke ’n koherente geheel vorm nie, dalk eerder ’n koor van stemme, party wat skerp uitstaan. Die leser van Christ’s love moves us to reconciliation and unity sal waarskynlik ook meer aanklank vind by sekere hoofstukke as ander, maar hier vind ons definitief perspektiewe op versoening en eenheid wat ’n diverse koor van ekumeniese stemme uit Afrika laat saamsing.

Party hoofstukke voel of dit ’n bietjie ouer werk is wat herhaal word, en ander kom uit ’n konteks wat vir ons in Suider-Afrika vreemd mag voel. Maar tussen die hoofstukke is daar belangrike stemme wat by ’n verskeidenheid lesers sal aanklank vind.

Die besluite van ’n pas afgelope Algemene Sinode van die NG Kerk is nog in my agterkop soos wat ek hier skryf. Die sake wat duidelik prioriteit gekry het by die sinode is die NG Kerk se publieke getuienis en roeping in Suider-Afrika. Christ’s love moves us to reconciliation and unity kan ons help om teologiese taal te hoor wat plaaslik en uit die breër vasteland ontstaan.

Een belangrike tema wat in hierdie boek weer bevestig word, en praat met ons huidige gesprekke in die NG Kerk, is dat die debat oor ’n spanning tussen versoening en geregtigheid na ’n einde toe beweeg. Outeurs wat diverse kerklike en teologiese agtergronde verteenwoordig herinner ons dat die vraag oor versoening, veral in Suid-Afrika maar ook elders, nie losgemaak kan word van die krisis van werkloosheid en armoede nie. Die versoening waartoe ons geroep word as kerk vra dat die ongelykhede in ons samelewing en gemeenskappe aangespreek word. Dalk is dit tyd dat ons hierdie konsensus meer gereeld hoor.

Wie moet hierdie boek lees? Daar waar ons oor versoening en roeping praat, maar gereeld nog na die Noord-Atlantiese omgewing kyk vir ons teologiese taal, kan Christ’s love moves us to reconciliation and unity aanbeveel word om ons te help om ons gesprekke in Afrika te grond. Is dit toeganklik vir lidmate? Hoewel dit uit akademiese referate bestaan, sal ’n ingeligte lidmaat sonder formele teologiese opleiding baie van die hoofstukke gemaklik kan volg.

Beskikbaar by CLF.

Prof Cobus van Wyngaard is predikant by NG Pretoria en professor in Sistematiese Teologie by die Universiteit van Suid-Afrika.

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top