Pieter Willem van Deventer is op 4 Augustus 1941 gebore op Prins Albert, ’n geskiedkundige dorp aan die Swartberge. Daar is bitter min van sy kinderjare bekend en hy voel om na sy skoolopleiding predikant te word. Hy ontvang die BA-graad en kry in 1968 toegang tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die Diploma in Teologie verwerf. Hier word hy aan die einde van 1971 as proponent gelegitimeer en is beroepbaar in die NG Kerk.
Ds Pieter van Deventer word op 3 Maart 1972 in die NG Gemeente Napierville in KwaZulu-Natal met handoplegging bevestig en ontvang. Hier werk hy tot hy op 27 April 1975 leraar word van die NG Gemeente Kroonstad-Wes, waar hy in die hart van die Vrystaatse Kerk gelukkige tye beleef. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Drakenstein, waar hy streekskapelaan word van die Victor Verster-gevangenis in die Paarl en die Annandale-gevangenis. Met hierdie ervaring word hy in 1987 streekskapelaan in die gevangeniswese in die Vrystaat.
In 1989 word hy verplaas na Schanskop as kapelaan in Pretoria. Hier werk hy tot hy op 14 Januarie 2008 sy emeritaat aanvaar. Hy sterf op 24 Februarie 2022 en sy mooi werk as gevangeniskapelaan word in herinnering geroep.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM