Pieter Jacobus Taljaard is op 9 Januarie 1950 gebore op Bothaville. Sy vader is James Thomas Taljaard, wat in die distrik boer, en sy moeder is Cornelia Johanna van den Berg, ’n huisvrou. Piet begin sy skoolloopbaan in 1956 aan die Laerskool Kleinbroek in die distrik Bothaville. Hy matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Bothaville. Hierna studeer hy aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en behaal die BComm-graad in 1970. Hierna werk hy onder meer tot in 1973 as inspekteur vir ’n korporatiewe vereniging, ’n werk wat hy met groot vreugde volvoer.
Intussen word die roepstem van die Here om predikant te word so sterk, dat hy nadat hy die nodige vakke soos Grieks en Hebreeus geslaag het, in 1974 toegelaat word tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Hy behaal die Diploma in Teologie in 1977 en word aan die einde van die jaar as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. ’n Beroep kom na die NG Gemeente Carletonville-Suid, waar hy op 13 Januarie 1979 met handoplegging ontvang en bevestig word. In hierdie myngemeenskap doen hy uitstekende werk en werk hard tot ’n roepstem kom na Bethlehem in die Oos-Vrystaat. Hier werk hy met oorgawe na sy bevestiging op 12 Augustus 1988, ’n gemeente met geweldige uitdagings op voetsoolvlak. In Bethlehem het hy hard gewerk en was ondervoorsitter van die SKDB en het met oorgawe na die belange van almal wat swaarkry omgesien.
In 2009 verlaat hy na twee dekades Bethlehem en word tentmakerleraar in die NG Gemeente Arlington, ’n gemeente in die Vrystaatse goudveld. In hierdie gemeenskap vol boere, bereik hy baie en weens die ontvolking van die platteland kombineer die gemeentes Arlington en Lindley, waar hy op 7 Desember 2014 bevestig word as leraar van die twee gemeentes wat een geword het. Hier werk hy tot hy in 2018 sy emeritaat aanvaar op 20 Mei 2023 na ’n besondere dienstyd in die NG Kerk.
Ds Piet Taljaard sterf op 20 Mei 2023 en ds Riaan van Zyl hou sy begrafnisdiens uit die NG Kerk Bethlehem-Wes, waarna sy aslegging plaasvind in die gedenkmuur op die kerkterrein. Mariana Eilers se woorde op die begrafnisbrief is treffend: “Rou is ’n drieletterwoord, nie eens ’n handvol letters nie. So kort. So stom. En leeg. Maar ook sinvol. Vol heimee. Vol verby. Vol weg. ’n Ewigheid. Maar ook net ’n nagwaak”. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM