Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kinderboek oor ‘eerste stories’ kyk baie wyd na geloofsisteme

Sterretjiekind Naledi en ons eerste stories

Deur Lizette Rabe

Illustrasies deur Mandi Fuchs

Uitgewer: Naledi, 2023

Resensie: Le Roux Schoeman

 

Hier leer lesers van Sjintoïsme, Sikhisme, Christendom en Afrika-Tradisionele gelowe … Van Boeddha se ontwaking, Jesus se kruisdood en verwagte wederkoms … Selfs die NG Kerk het ’n kameerol.

Als van Ateïsme tot Zoroastrisme word bondig behandel in hierdie boek wat lees soos ’n mengsel tussen naslaanwerk, bedtydstorie en manifes.

Die eenvoud van die aanbieding van die boek, met sketse tussendeur en oop blaaie waar daar kreatief meegewerk kan word, trek dalk aandag af van die kompleksiteit van twee onderwerpe wat Sterretjiekind Naledi en ons eerste stories noodwendig sal aktiveer.

Eerstens, geloofsvorming binne bepaalde geloofsisteme. Met ander woorde waar gelowige ouers ten diepste hoop om hulle eie oortuigings suksesvol met hulle kinders op ’n outentieke en verstaanbare wyse te deel.

Tweedens, die intergodsdiensgesprek (wat onlangs opnuut binne die NG Kerk gevoer is ná ’n verslag by die Algemene Sinode van 2023) waar dit juis gaan oor die gelowige se poging om genuanseerd oor ander geloofsisteme te dink én praat.

Lizette Rabe, ’n afgetrede akademikus, skrywer en navorser van Stellenbosch, skep kennelik nie hier ’n kinderweergawe van iets soos Penguin se Dictionary of Religions nie. En nie net oor die werk minder omvattend is nie. Daar is ’n bronneblad en ’n slotwoord oor die belangrikheid van barmhartigheid wat soos ’n soort verklaring, of ten minste organiserende beginsel, funksioneer. Hoewel Sterretjiekind Naledi dus ensiklopedies voorkom, is die oorhoofse interpreterende aard van die inskrywings eerder as die kennisbouprojek opsigself die gom wat die boek bymekaar hou.

Haar benadering herinner aan die opmerking wat Alain de Botton destyds met die publikasie van Religion for Atheists gemaak het oor die waarde van godsdienste onder dié buite godsdienste: “Once you look at religion as a work of humanity not as a divine creation, the idea of selectively navigating through it, seems totally legitimate.”

Die skrywer blyk die normatiewe krag van stories en die rykdom van metanarratiewe te waardeer, maar lê in dié blaaie min klem op die indiwidu se behoefte aan ’n lewegewende ervaring met iets groter as hom/haarself.

Koop aanlyn by Naledi.  

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top