David Magerman van Komaggas skryf: Ek wil aanhaal uit die lied, Tears in heaven deur Eric Clapton. Hy het hierdie lied geskryf, nadat hy sy 4 jarige seuntjie tragies verloor het. Hy probeer iets van sy hartseer in die ballade verwoord. En ek wil die aanhaling opdra aan Dylan Klaase en Eldré Fortuin, wat onlangs verdrink het.
“Would you know my name?
If I saw you in heaven
Would it be the same?
If I saw you in heaven
I must be strong
And carry on
‘Cause I know I don’t belong
Here in heaven
Would you hold my hand?
If I saw you in heaven
Would you help me stand?
If I saw you in heaven”
Ek weet die dood van Dylan en Eldré het ons almal stom. Ons probeer sin maak en iets verstaan – van die klomp vrae. Die ouers van hierdie twee pragtige seuns, die families, die gemeenskap van Steinkopf en selfs ons land is diep getref. Ons elkeen het ons eie weergawe – waarom dit gebeur het, of selfs waarom dit nie hoef gebeur het nie. Die psalmdigter sê, “ek is stom ek sal my mond nie oopmaak nie.” Die dood het die manier om ons stom te maak…
Hierdie is so ’n tragiese event, het my mentor gesê. Dit laat dink my aan koning Dawid se woorde, na die dood van sy seun Absalom. “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.” Dit is ’n ander tipe seer, die dood van jou kind. Dit sny deur jou hele wese. Woorde kan nie hierdie verlies en pyn beskryf nie. Dis hier waar jy net soos die vriende van Job – in stilte, by hulle wat hierdeur geraak is gaan sit. Die dood tref ons elke keer, maar soms harder wanneer kinders sterf. Dan maak dit soveel seerder!
Ek wil glo dat die dood van Dylan en Eldré, soveel meer vir ons inhou. Meer as wat ons met die oog kan sien, of met die verstand kan verstaan. Hierdie twee kinders se tragiese heengaan, het die potensiaal om ’n gemeenskap te versoen. Dit het die potensiaal om ’n gemeenskap bymekaar te bring. Dit kan selfs Namakwaland, ons land laat verenig. Dit kan selfs ons land bymekaar bring, beter as wat die Springbokke by die wêreldbeker rugby dit kon regkry. Ek dink meer nog – ek glo hul dood kan ons lewens verander, ons lewens red. Die twee kinders kan ons help, om te doen wat die kinderwet sê – in die beste belang vir die kind. Dat ons hande sal vat, op alle gebiede en ons kinders se beste belange sal soek. Juis omdat hulle die leiers van môre is.
Dawid het nadat sy kind gesterf het, opgestaan en na die huis van die Here toe gegaan. Familie, vriende van Dylan en Eldré, gemeenskap van Steinkopf – dis waar julle jul krag sal kry. In die huis van die Here, dis die plek vir jul genesing. Dis die plek waar julle wysheid sal kry. Ek glo die huis van die Here is die plek, waar julle mekaar ook sal vind. Daar weer opnuut sal ontdek, ons het mekaar nodig. Ons kan nie sonder mekaar nie. Ons moet hande vat om saam, die uitdagings die hoof te bied. Die huis van die Here, dis die plek waarheen ons almal, deur hierdie twee seuns toe terug geroep word. Die huis van die Here behoort aan die Here! Hy alleen is die enigste Hoof. Dis Hy wat ons eintlik na Hom toe roep…
My troos is in die lied – daar is geen trane in die hemel, want my Jesus is daar. In die begin met die Skepping was daar een tuin, waar almal saam in gewoon het. In die tuin van Eden, aan die einde sal ons almal weer saam wees, in die saalge hemelwoning. Mag ons so leef en strewe, dat ons almal eens weer saam mag wees, by die Heer, by die Heer. Daar waar Dylan en Eldré is, is die Here. Volgens Openbaring hoofstuk 21: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Mag die Here Dylan en Eldré se ouers, almal wat geraak is deur hul dood, se trane Self kom afdroog…
Rest in Peace and Rise in Glory…
Geborg