Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Tussen die lyne van Nioma Venter se lewensverhaal, lê die getuienis van roeping, identiteit, deursettingsvermoë en baanbreker-wees vir die diakonaat, maar veral ook vir vroue en leierskap in die kerk, berig VrydagNuus. Venter is aangewys as die opvolger van dr. Gustav Claassen as Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode. Sy neem op 1 Februarie 2024 hierdie tuig in die kantoor van die Algemene Sinode in Hatfield, Pretoria op. Foto: Le Roux Schoeman / Kerkbode

Elders gesien: Nioma Venter pak tasse vir Pretoria, volg Gustav Claassen op by kantoor van Algemene Sinode 


Vandeesweek groet die Wes-Kaapse Sinode een van ons predikante in sinodale diens (PSD), ná dr. Nioma Venter in Oktober 2023 aangewys as die opvolger van dr. Gustav Claassen as Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode. Sy neem op 1 Februarie 2024 hierdie tuig in die kantoor van die Algemene Sinode in Hatfield, Pretoria op.  

“Die geleenthede wat oor my pad gekom het, is te veel om te noem,” sê Venter aan VrydagNuus op 26 Januarie. “Voeg hierby die voorreg van kollegas met wie ek kon saamwerk as vriende, geesgenote, vertrouelinge en ook mentors.” Buiten die vormende effek van haar werk as PSD in die diensgroep Diaconia, was daar ook haar rol in leierskap in twee streeksinodes en tussen 2019-2023 in die Algemene Sinode wat bygedra het tot haar ontwikkeling. Alles ter voorbereiding vir die nuwe verantwoordelikhede wat op haar skouers sal rus. “Ek troos myself daaraan dat die nabye kollegiale bande wat gesmee is, blywend van aard is. In dié opsig laat ek niks agter nie, maar verbreed bloot die terrein van my diensbaarheid aan God en aan die kerk.”

LEES OOK: Anti-rassisme: ‘Kerk is die plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë’

Nioma het in 2008 haar Lisensiaat in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Haar beroepspad het egter as maatskaplike werker, alumni van die Hugenote Kollege (1988-1991), begin. Oortuig van ’n roeping, maar met ’n kerk wat nog nie gereed was vir vroue in die amp as leraar nie, het sy eers vir 16 jaar as maatskaplike werker in die veld van alkohol- en middelmisbruik gewerk. Haar bediening as leraar het in die NG Gemeente Prieska begin (2008-2012), waarna sy na die Moedergemeente Worcester (2013-2017) beroep is. In Februarie 2017 begin sy as PSD vir Diaconia werk. In haar tyd by Diaconia doen sy ook navorsing oor die potensiaal van samewerking tussen die kerk en kerk-eie maatskaplike diensorganisasies. Die resultaat is ’n Phd aan die Universiteit Pretoria (2023).

Tussen die lyne van hierdie lewensverhaal, lê die getuienis van roeping, identiteit, deursettingsvermoë en baanbreker-wees vir die diakonaat, maar veral ook vir vroue en leierskap in die kerk. “My lewe en my werk is in God se hande. Soms voel ek oorweldig, maar die Here wat ons (my) roep, is getrou,” getuig sy. “Ek aanvaar die verantwoordelikheid van die nuwe posisie, bloot omdat ek oortuig is van my roeping en daarom van God se teenwoordigheid wat vooruit gaan.”

Nioma se skuif Pretoria toe beteken dat haar en Leon Venter se twee kinders, Nickus (25) en Esté (20), asook haar bejaarde moeder in die Wes-Kaap agterbly. Die skuif kom met persoonlike opoffering en ons bid haar en haar gesin die Here se vrede en seën toe.


Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top