Oor die bose skryf NP van Wyk Louw in sy “Ballade van die bose” soos volg: “Die veles meen/ hulle ken my gesig/ maar ek skuil te glansryk, te na aan die lig”. Sonder hoewe, horings en ’n vurk is die bose inderdaad nie altyd maklik om te eien nie. Alte dikwels, ook in die kerk, skuil die bose na aan die lig.
LEES OOK: Brief: Wie is ware en wie is valse kerk?
Die liturgie is ’n voorbeeld van ’n plek waar die bose soms wolf in skaapklere is. Byvoorbeeld: Wanneer is die oordeel oor ’n liturgie en erediensbelewenis, gunstig? Wel, gewoonlik het dit daarmee te make dat die belewenis aangenaam was. Ook feestelik. Dat daar ’n offervaardigheid onder die deelnemers was met aktiewe deelname (die kerk was nie van agter af volgemaak nie). Ook het dominee ons vanoggend weer geroer! En die musiek was, in die woorde van Eksodus 32:18: “die klank van sang”. Eksodus 32 beskryf inderdaad ’n liturgie. In die 2020-vertaling is die opskrif van die hoofstuk “Israel se sonde met die goue kalf”. Vanuit ’n sekere hoek klink dit asof dit nogal ’n lekker en jollie affêre moes gewees het, hoe hulle offer en eet en drink, kringdanse dans en hulleself vermaak. Dit was lekker, maar dit was ’n bose liturgie.
Ons gaan nie in ons dag juwele afhaal en ’n goue kalf giet om te aanbid nie, maar ek sal ’n fout maak indien ek dink dat daar geen sulke kalwers is nie. Ons eie hedendaagse liturgiese goue kalwers is moeiliker om te eien as die een in Eksodus 32. Maar een van daardie kalwers wat baie naby aan die vlamme van die kerse in ons eredienste dans, se van is “Vermaak”. En sy naam is “Nuttig”.
LEES OOK: Leraar vertel oor Betlehem-besoek: ‘Ons het merkwaardige en brawe mense ontmoet’
Volgens die liturgis Paul Post hoort liturgie tuis in die domein van dinge wat nutteloos en mooi is. Soos kuns. Nutteloos beteken nie sonder betekenis nie. Om aan die liturgie deel te neem is volgens Post om soos ’n kind met ’n geskenk te sit en speel. En die enigste funksie of doel of nut wat die spel inhou, is dat dit ’n Vaderhart bly maak.
Wanneer die Christelike liturgie nutteloos is, is dit nuttig. Of, meer korrek, dan is dit betekenisvol. En wanneer dit nuttig is, is dit nie alleen nutteloos nie, dit is eintlik potensieel boos en skadelik. En in ons dag is daar ’n neiging dat liturgie dikwels nuttig en funksioneel word, veral met die oog op lekker vermaak. Die waarde van die erediens moet gemeet word aan presies dieselfde stel waardes waarmee ons kultuur die res van ons bestaan meet. Ons leef en vier ons eredienste in ’n laat-moderne kapitalistiese verbruikerskultuur. In hierdie kultuur is daar baie wat prysenswaardig is met heelwat voordele vir die welsyn en vooruitgang van die mensdom. Soos enige kultuur, het hierdie kulturele era waarin ons leef ook skadukante. Een van die groot skaduwees, is dat Sondag oor dieselfde kam geskeer word as Maandag tot Vrydag, die werkweek.
LEES OOK: Nioma Venter pak tasse vir Pretoria, volg Gustav Claassen op by kantoor van Algemene Sinode
Byvoorbeeld: Hoe weet jy iemand is belangrik? Want hy is besig. Watter beroepe is die belangrikste? Natuurlik dié wat die meeste geld maak. Uiteraard moet ons geld maak en hard werk en almal wil hê ons land moet goed funksioneer. Maar Sondag se “goed funksioneer” berus op ’n ander stel waardes en beginsels as dié van die werkweek.
Liturgie word meestal nie bewustelik en met kwade bedoelings deur iemand uitverkoop aan ons kultuur nie, maar daardie neiging en begeerte na funksie is in ons kulturele “wese se ondergrond/ en dit trap in jou spoor/ soos ’n goeie hond”. So word groter en vinniger en besiger en gemakliker en bevredigender altyd as nuttiger en vermaakliker en dus as beter beleef. Ook in ons eredienste.
In A sociological history of Christian worship verken die Britse liturgis Martin Stringer verskeie eras in die kerkgeskiedenis en fokus telkens op die plek en rol van liturgie. Wanneer hy in ons dag wat hy die era van “The globalisation of Christian worship” noem rondom hom kyk, sien hy: “… an increasing sense of comfortableness and intimacy in contemporary worship that stretches across the traditions: carpets on the floor, a crèche for the children, PowerPoint technology providing reassuring images, language that does not offend, and music aimed to speak to our emotions and calm us down. This clearly reflects contemporary, global society and the discourses of consumerism and individual well-being that dominate it …” En dan kom sy pynlike vraag oor dit wat hy waarneem: “… but is this truly Christian?”
LEES OOK: Kerk wat werk: NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria skep werk vir 50 mense
Is Stringer nie te krities nie? Liturgie kan tog lekker wees. Hoekom nie? Dit is nie nodig om ongemaklik te sit in die kerk nie. En erediensgangers mag tog gekalmeer en getroos word. Dit is natuurlik nie Stringer se punt nie. Die punt is wel dat liturgie soms neig om ’n vorm van vermaak te word. En vermaak het sy eie stel waardes. Vermaak is baie nuttig, uiters funksioneel en instrumentaliseer liturgie tot iets anders as kinders wat sit en speel en ’n Vaderhart verbly. Die troos en berusting wat hierdie soort liturgie bied mag klink soos God se beloftes wat gedeel word, terwyl dit inderwaarheid die verbond van verbruikerisme is wat gevier word.
Dit is dus goed om soms uit die liturgie te stap en op ’n afstand daarna te kyk. En dan saam met Van Wyk Louw te vra: “Ken jy my nou?/ Het jy die spieël gesien,/ en ken jy jou?” Wanneer ons so op ’n afstand gaan staan, kan ons onthou dat liturgie en kultuur onlosmaaklik verweef is. Dit is gewoon net hoe dit is. Maar vir die Christelike liturgie om betekenisvol te wees, moet die enigste nut en funksie daarvan wees om ’n Vaderhart te verbly.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.