Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nadia Marais: Die geskenk van sterflikheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Memento mori. Onthou die dood, onthou dat jy gaan sterf.

Talle kunswerke sou oor eeue heen gewy word aan hierdie herinnering, dikwels deur die uitbeelding van ’n skedel; maar soms ook vergesel deur ’n horlosie of ’n uurglas, blomme of plante, en ander aanduidings van verganklikheid en die verloop van tyd. Dink maar aan die kunswerke van Vincent van Gogh en Pablo Picasso, Caravaggio en Albert Dürer, wat op verskillende maniere hierdie gedagte vergestalt.

Ook binne ons konteks sou kunstenaars en filosowe worstel met die implikasies van hierdie herinnering. In Suid-Afrikaanse digbundels wat oor die afgelope paar jaar gepubliseer is, word juis iets van hierdie ou wysheid – onthou die dood, onthou dat jy sterflik is – weergegee. Sowel ouer, geliefde gedigte as nuwer, meer onbekende gedigte – wat byvoorbeeld opgeneem is in die versameling Die lewe is ’n asem lank (geredigeer deur Frieda van den Heever, 2023) of in die verskeie volumes van die AVBOB Gedigsprojek I wish I’d said (geredigeer deur Johann de Lange en ander, sedert 2019) – wil ons laat onthou dat ons mens is, en daarmee sterflik, stoflik, weerloos.

LEES OOK: LUISTER | Met ’n roeiboot oor die Atlantiese Oseaan: Jaco Strydom gesels met Peet Botma

Memento mori wil ons egter nie net daaraan herinner dat die dood onvermydelik is nie, maar moontlik ook iets dieper leer – veral op Aswoensdag en dalk juis in Lydenstyd, omdat ons in hierdie tyd op moontlik meer akute maniere herinner word daaraan dat die dood – meer spesifiek, Godsdood aan die kruis – aan die hart van die goeie nuus van die evangelie lê.

Om herinner te word aan ons sterflikheid is om te onthou dat niks permanent is nie, en dat die lewe – ons eie, en dié van almal rondom ons – nie ’n gegewe is nie. Heelwat teoloë sou by hierdie gedagte – memento mori, wat dikwels met klassieke Griekse filosowe (en die Stoïsyne in die besonder) geassosieer word – aansluit in hulle nadenke oor ’n teologie van die dood.

Ons sou kon dink aan die Katolieke teoloog Karl Rahner se On the theology of death (1973) of die Lutherse teoloog Eberhard Jüngel se Death (met die subtitel The riddle and the mystery (1975). Die dood verteenwoordig ’n verval in totale verhoudingloosheid (Jüngel), maar is terselfdertyd ’n natuurlike einde aan ’n persoon en ’n liggaam (Rahner). Vir beide hierdie teoloë is sterflikheid deel van Gods goeie skepping, hoewel misvormd en verdraaid en daarom ervaar as ’n vyand, as geweld, as totale verlies.

LEES OOK: Nadia Marais | O, die goeie tyding?

Vir sowel Jüngel as Rahner verkry die dood egter nuwe betekenis deur Godsdood – in die lewe, kruisiging en opstanding van Jesus Christus. Godsgenade bevry ons vir die natuurlikheid van die dood, sou die Gereformeerde teoloog Karl Barth in sy Kerklike Dogmatiek aanvoer. Anders gestel: die genadelogika van verlossing omvorm die vreesaanjaende gedagte dat ons alleen en vervreem van God en mens sterf tot die goeie nuus dat ons, of ons leef en of ons sterf, aan Jesus Christus behoort.

“Alles kom uit die stof en alles keer terug na die stof,” herinner die Prediker (3:20). Wanneer ons op Aswoensdag ons vingers in die as druk, en ’n kruis op ons voorkop of in ons hande maak, onthou ons dat ons self ook as sal word, want uit die stofgrond is ons geskep (Gen 2:7), en tot die grond sal ons terugkeer. In die Bybel en tradisie word dood en lewe immers op wonderlik komplekse maniere verweef in en met ons mensheid.

Ons is stoflik, sterflik. Ons is doodmenslik.

In sy digbundel met juis hierdie titel, Doodmenslik (2018), dig die filosoof Willie van der Merwe – in ’n gedig getiteld ‘grafsteen’ – oor ons terugkeer na grond:

berei vir my ’n hemelbed

van rooigrond en potklei

dek my toe met gruis

en maak ’n leiklip staan:

my troos is dat ’n steen

op aarde my onthou

Die dood het egter verskillende aangesigte, sou die Amerikaanse teoloog Daniel Migliore aanvoer. Nie net is die dood natuurlik, of ’n herinnering aan Godsoordeel nie – die dood is ook ontvangs in God. Met ons dood word ons ontvang deur God, aan wie ons nie ophou behoort wanneer ons sterf nie. Anders gestel: om te sterf is om oorgegee te word vanaf die een hand van God na die ander, aldus die Hollandse teoloog Heiko Oberman.

Ons lewe en sterwe is en bly in Godshand(e).

Ons onthou ons sterflikheid egter anders, en kan anders sterf – en leef – wanneer ons onthou dat Godsdood aan die hart van die goeie nuus van die evangelie lê. In die herinnering aan Godsdood – memoria mortis Dei – word die herinnering dat ons sal sterf – memento mori – opgevang en omvorm. Ons onthou lyk anders, en omdat ons onthou anders – minder bevrees, meer verbeeldingryk – is, kan ons dalk juis in hierdie tyd van die kerklike jaar die geskenk van ons eie sterflikheid raaksien en ontvang.

Die dood lê vir ons almal voor. So, onthou die dood, onthou dat jy gaan sterf. Memento mori.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen gekoppel.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.