Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nadia Marais | O, die goeie tyding?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Adventstyd is vir baie van ons goedvoeltyd, verloftyd, vakansietyd, rustyd. Ons sing in hierdie dae van die goeie tyding, die blye tyding – ja, oral hoor ons dis Kersfeestyd. Dit is ’n tyd van afwagting en hoop, want die Kind is op pad. In ons Kerssangdienste sing ons van die Christuskind wat met vreugde en onder geklank van engelekore ontvang word. Maar wat maak van hierdie dae ’n goeie tyd, en van die Adventsboodskap ’n goeie tyding?

 

Is dit die opgewonde vooruitsig van ’n baba wat binnekort gebore word? Of dalk die diep verligting dat ’n blaaskans van die gejaag, druk en spanning wat kenmerkend geword het van ons elkedagse lewe, op ons wag? Is dit noodwendig die kerk, of die evangelie, of geloof wat van hierdie tyd ’n goeie tyd maak, of is die tyd en die tyding goed ten spyte van die konflik, geweld en vergrype wat in die naam van geloof gepleeg word – ook in die kerk?

LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem

Dit is moeilik om aan hierdie tyd as goeie tyd te dink wanneer daar wyd berig word oor duisende Palestyne wat vermoor word en in aanhouding is in hierdie dae. Israel se oorlog teen Palestina – in die geboorteplek van die Kind wat kom – het alreeds meer as 15 000 Palestynse lewens geëis, waarvan meer as 6 000 kinderlewens is. Dit sluit die 8-jarige Adam Al Ghoul in, wat in Jenin op straat sokker gespeel het toe hy deur soldate in die rug geskiet is.

Geborg

In sy boek Faith in the face of empire (2014) argumenteer die Palestynse teoloog Mitri Raheb – gebore in Bethlehem – dat die Bybel ’n Midde-Oosterse boek is en dat God juis mens word in Jesus Christus, ’n Midde-Oosterse Palestynse Jood. Daarom kan die kerk nie stilbly oor wat in Israel-Palestina gebeur nie, want die Bybel en die evangelie dring ons tot optrede en protes.

In ’n heelwat vroeëre boekpublikasie, I am a Palestinian Christian (1994), vertel Raheb – wat ’n predikant is in die Evangelies-Lutherse Kerk in Bethlehem – van die Kersfeesvieringe wat in 1987 gekanseleer is weens talle Palestyne wat deur Israeliese soldate doodgeskiet is. Twee dae voor Kersfees, so vertel Raheb in hierdie boek, is die volgende woorde – juis na aanleiding van hierdie sterftes – teen die muur van die Lutherse kerk in Bethlehem geverf: “Excuse us, dear Christ, unfortunately we cannot celebrate your birthday this year, for we are an occupied people whose children are denied life!”

LEES OOK: Nadia Marais | Die geskenk van versoening

In sy Kersdagpreek vra Raheb, met hierdie woorde in gedagte, na die sin van Kersvieringe – die goeie van die goeie tyding – wanneer kinders in die strate doodgeskiet word en daar geen einde blyk te wees aan die lyding van onskuldige mense nie. Hy herinner die gemeente in Bethlehem daaraan dat die Kersverhaal die verhaal is van ’n vlugtelingkind. Dit is ’n kind gebore in die tyd van Herodus die Grote, wat die bevel gegee het dat kinders in die area van Bethlehem vermoor word. Nie eens die Jesuskind se lewe is gewaarborg nie.

Tog – preek Raheb in hierdie Kerspreek – kom God na die wêreld juis in en deur hiérdie kind: God is naby eerder as ver van die Palestynse mense wat verdruk word, meen Raheb, want God verstaan die lyding van die Palestyne deur Godskind wat dit aan eie lyf – as ’n Palestynse vlugteling – sou voel. Die Kind wat kom gaan die Palestyne vooruit, en daarom is hulle nie alleen in hulle lyding nie. Godskoms na die wêreld in die vorm van ’n klein en weerlose babatjie is die voorwoord op die kruisigingsgebeure en ’n heenwysing na die Gekruisigde God.

Só preek die 25-jarige Mitri Raheb op Kersdag van 1987.

Dalk is die goeie tyding dat Christus, die vlugtelingkind wat (oor)leef, nie dood is nie. Of dalk is die goeie tyding dat Christus, die Kind wat leef, juis sterf – en met sy kruisdood vir ons die lewe, te midde van soveel dood, oopbeur.

Geborg

In Suid-Afrika ken ons maar te goed die hartseer verhaal van kinders wat in strate doodgeskiet word deur soldate. Dink maar aan die bekende gedig van Ingrid Jonker, oor die kind wat doodgeskiet is deur soldate in Nyanga (aangepas hier, met apologie) – 

Die kind is die skaduwee van die soldate

op wag met gewere sarasene en knuppels

die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings

die kind wat net wou speel in die son by Jenin, is orals

die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Midde-Ooste

die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld

Geborg

 

sonder ’n paspoort

 

Mag ons in hierdie dae nie vergeet dat die Kind wat kom ook die Een is wat Palestynse kindertjies sou nooi om na Hom toe te kom. En mag Advent by ons ’n heilige ongeduld kweek vir ’n tyd en ’n tyding wat goed is – ook in Palestina, ook hierdie Kerstyd.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

6 thoughts on “Nadia Marais | O, die goeie tyding?”

  1. Alle lyding wat veroorsaak word is onaanvaarbaar. Alle geweld moet verwerp word. Nie net dit wat deur Israel gepleeg word nie, maar ook dit wat deur Palestyne (Hamas) gepleeg word. Die artikel is ongelukkig eensydig.

    1. Chris, jy is 100% reg. Dit is vir my verbasend dat in die tyd waarin ons leef die terroriste opgehemel word as die mense wat reg en goed is. Dit wat hulle doen en gedoen het word glad nie raakgesien nie. Die wat optree teen terroriste is nou die mense wat verkeerd en sleg is. Ek kan saamstem met een van die stellings in die artikel en dit is dat presies dit ook gebeur in Suid-Afrika.

  2. Ek is en wil hoegenaamd nie ‘n pleitbesorger vir die Israel-saak wees nie. Verder skrei die dood van vroue en kinders natuurlik ten hemele. Hoe ‘n akademikus egter so eensydig net een kant van die werklikheid belig en met min nuanses hierdie uiters komplekse en sensitiewe kwessie kan beredeneer gaan my verstand nogal ‘n bietjie te bowe. Dit reflekteer ongelukkig nie goed op teologiese opleiding nie

  3. waarom Israel in ‘n slegte lig probeer stel en net die Palestyne simpatiek gesind wees? So beleef ons ook ons regering wie se werke wys wie hulle dien.

  4. Stronkie van Wyngaard

    Dit is so hartseer as ‘n dosent/ teoloog so ‘n eensydige artikel skryf. Soos Chris Smith tereg se , alle geweld is verkeerd !

  5. Ek praat geensins die Israel/Palistina oorlog goed nie, maar dit is verbysterend dat ‘n dosent/teoloog die liberale agenda so adverteer sonder om ‘n oog te knip. Maar dit is te verwagte as vorige skrywes gelees word. Christus was nie ‘n Palistynese Jood nie – gaan lees behoorlike geskiedenis en raak ingelig. Hamas is ‘n erkende terrositiese organisiasie wat menigte terreur aanvalle uitgevoer het en daarvoor bekend is dat hulle hoofsaaklik agter gewone Palistynese burgers wegkruip (human shields). Interessant dat daar geen melding gemaak word van Joodse babas wat onthoof is, Joodse bejaardes wat gemartel is, Joodse tieners wat voor die voet gedood is, ens. nie. Vir elke aksie is daar ‘n teenoorgestelde en direkte reaksie. Die harde werklikheid? – Moet nie saai wat jy nie bereik is om te maai nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.