Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Peet Botma het vir 45 dae alleen in ’n roeiboot dieselfde roete dwarsoor die Atlantiese oseaan geroei wat Christopher Columbus eeue terug geseil het. “Dit vat so dertig dae se totale alleenwees, voor jy dit aanvaar en die waarde daarvan begin ontdek,” vertel hy vir Jaco Strydom. Foto’s: Verskaf

LUISTER | Met ’n roeiboot oor die Atlantiese Oseaan: Jaco Strydom gesels met Peet Botma


“My boot was rooi van die sand, so ook al die vlaggies op die dek, én my sonpanele. En dit is nie goed nie. Want jy is ongelooflik afhanklik van die paar elektroniese goed op die roeiboot,” vertel Peet Botma.

Dit was sy tiende dag op die Atlantiese oseaan, reeds meer as 700 km van die naaste droë grond af. Daar was ’n sandstorm in die Saharawoestyn en die oostewind het dit die diepsee in gewaai.

Christopher Columbus draai sekerlik in sy graf om, het ek gedink toe ek dié storie hoor.

Geborg

Hy sou dit eenvoudig nie kon glo nie. Dat iemand presies dieselfde roete as wat hy in 1492 geseil het, oor die ganse Atlantiese Oseaan, manalleen, in ’n roeiboot sou roei!

Net soos Columbus het Peet op die Kanariese eilande naby Marokko weggespring en eers weer voet aan land gesit op die Karibiese eilande, 4 800 km verder, reg bokant Suid-Amerika – as gevolg van die seestrome en die wind moes hy op die ou einde meer as 5 200 km roei.

Hy het dit in 45 dae gedoen.

Lees ook: ‘SA kort ’n opvolg-wonderwerk’, pleit Storey by Teologiese Dag

Veertig roeibote neem jaarliks deel aan The World’s Toughest Row. Die meeste van die roeibote het twee of drie roeiers op, maar daar is elke jaar ook ’n paar alleenroeiers, soos Peet Botma.

Teen vieruur die eerste middag, het hy die laaste keer ’n ander roeiboot gesien, en toe eers weer agt en twintig dae later – en dié keer net een bootjie vlugtig in die verte.

“Dit kan tot ’n honderd dae neem om die oseaan oor te steek,” vertel Peet. Ons gesels in ’n koffiewinkel in Pretoria, nadat hy die vorige oggend terug in Suid-Afrika geland het. Heelwat van die roeiers was toe steeds iewers op die see.

Geborg

“Jy kan nie glo hoe alleen en hoe afgesonder jy is nie,” sê hy en vertel dat hy, behalwe vir die eerste drie dae, slegs twee keer skepe op die horison gesien het.

Soms het hy gestop en met ’n tou om sy lyf in die see gespring. “Dan het ek net daar langs die boot in die water gehang en in die diepte in gekyk en geweet dit is meer as 5 000 meter af. En dan het ek gewonder: Wat is alles hier onder my, wat gaan alles hier onder aan waarvan ons nie weet nie?”

Luister ook: Boekgesprek: Cas Wepener oor trane vir hoop in Lydenstyd

Die grootheid laat jou nederig en klein voel. Maar min dinge het hom ook al so lewendig laat voel.

Dit was wonderlik, maar “maklik” en “lekker” is die laaste woorde waarmee jy die ervaring sou kon beskryf. Dikwels sou hy tot laat in die nag roei, en dan was dit moeilik om selfs net ’n enkele volle uur se slaap in te kry, want die kajuit is klein en bedompig en die bootjie skommel erg in die deinings van die diepsee.

“Ek het gelukkig net dolfyne gesien en nou en dan ’n vis wat verbykom,” vertel Peet toe ek hom uitvra oor die seelewe. Twee van die ander roeibote is aangeval deur marlyne. ’n Groot marlyn se snawel het dwarsdeur die een boot se romp gesteek. Een kant in, ander kant uit. “Dit is nogal iets waarvoor almal baie bang is,” sê hy.

Totale alleenheid op die grootste wildernis op aarde is ’n spieël waarin min mense die kans kry om in te kyk.

Geborg

“Dit vat so dertig dae se totale alleenwees, voor jy dit aanvaar en die waarde daarvan begin ontdek,” sê Peet, en vertel hoe dit gou al meer ’n geestelike reis begin word het.

Jare terug, toe hy die eerste keer hieroor begin droom het, was sy motivering bloot persoonlike uitdaging en sy liefde vir die see. Maar tydens sy voorbereiding het dit gou al meer begin voel of God die hele ding oor sy pad gebring het, en dalk ’n groter doel daarmee het. “Ek is nog besig om presies te ontdek wat dit beteken,” sê hy. “Noudat ek terug is voel dit of daai journey steeds aangaan. Of die einde van my seereis op ’n manier eintlik ’n nuwe begin was.”

Behalwe vir die diep persoonlike ontdekkings wat Peet gemaak het, kon hy ook geld insamel om kinders in nood te help.

“Kort voor die roei het ek afgekom op die Local Surf Lounge Academy en die Small Things Foundation in Muizenberg. Hulle is ’n klein charity wat in baie moeilike omstandighede, met bitter min fondse, ongelooflike werk met behoeftige kinders in die omgewing doen.”

Peet is nog altyd baie aktief. Hy het onder andere waterpolo en Tuks 1 rugby gespeel, toe hy destyds by UP geswot het. Tans is hy ’n eiendomsontwikkelaar in Midstream, Pretoria. Hierdie belewenis het hom egter oortuig dat dit nie genoeg is om bloot volgens die wêreld suksesvol te probeer wees nie. ’n Mens moet verwondering en ontdekking doelbewus opsoek, en ’n bydrae probeer lewer tot die nood in die gemeenskap.

“Terwyl ek roei het ek na Nelson Mandela se Long walk to freedom geluister, wat my ongelooflik geïnspireer het, en laat dink het, as hy kon doen wat hy gedoen het, vir soveel jare, dan moet ek hierdie roei kan klaarmaak. Sy manier van doen en uitkyk op leierskap is ongelooflik.”

Lees ook: Dana Snyman: Oggendgodsdiens

Geborg

Daar was baie tyd om te dink op die water en Peet sê hy het veral nuwe waardering gekry vir die mense op sy lewenspad.

Hy is dankbaar teenoor mense soos Zirk Botha en die Cape Coastal Rowing Club in Simonstad vir hulle inspirasie en raad met die roeitog. Hy vertel van die ondersteuning van sy meisie, sy familie en vriende, en meer as een keer van sy belewenis van die Here se teenwoordigheid.

“Ek het so ses aande voor die einde ’n ongelooflike mooi volle reënboog oor die see gesien. Dit het my net weer gewys, ek is nie alleen op daai see nie!”

Noudat hy terug is, is daar geleenthede om via die media en by skole, kerke en op ander plekke met uiteenlopende mense oor sy ervarings te praat. “Ek het agtergekom hoeveel mense ongerealiseerde drome het. Ek hoop regtig my roeistorie inspireer meer mense om braaf genoeg te wees om hulle eie drome na te jaag, ongeag die verskonings. Ek het ook die waarde van ondersteuning gesien, en hoop ons kan mekaar vroeg reeds ondersteun, sodat niemand ooit ’n droom alleen hoef na te jaag nie.”

Peet lyk vir my glad nie moeg of uitgeteer, soos ’n mens van iemand sou verwag na so ’n ervaring nie, inteendeel … Ek vra hom uit oor sy toekomsplanne.

“Ek weet nie nou dadelik nie, maar wat ek weet en glo is dat ’n mens nie kan kleinspeel met die lewe en al die geleenthede, talente en gawes wat ons ontvang het nie,” sê hy en sy oë blink asof sy batterye nou éérs gelaai is.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.