Baie oggende wanneer ek die son sien opkom, dink ek aan tant Kowa Strauss. Tant Kowa woon op Eksteensfontein in die Richtersveld, in ’n witgekalkte huisie met ’n holgetrapte drempel en ’n bakoond in die jaart.
Ons het toevallig ontmoet, ek en sy.
Ek moes Richtersveld toe en is die dag laterig eers uit die Kaap weg. Toe ek net ná halfelf die aand op Eksteensfontein kom, is die enigste gastehuis vol en byna die hele dorp slaap al.
Eksteenfontein is ’n klein plekkie: een of twee winkels, elk met die onafwendbare Coke-teken op die gewel; ’n poskantoor, ’n munisipale kantoor, boerbokke oral. Geen straatligte nie.
Ek het maar die bakkie in die donker onder ’n boom langs die straat getrek en my onder ’n slaapsak op die sitplek tuisgemaak. Of nee: Ek het eers lank op ’n klip langs die bakkie die stilte sit en beluister. Dit was donkermaan en die sterre was laag en helder.
Oorkant die pad, kon ek vaagweg sien, was ’n huisie.
Die mense van Eksteenfontein het hulle eie groot trek gehad om hulle hier te kom vestig. In 1947. Tant Kowa is een van die oues wat daardie trek meegemaak het.
Tant Kowa se voormense kom uit Vanrhynsdorp se omtes. Dit was ’n vroeër tyd voor die plase omhein was. Hulle kon met hulle skaapkuddes rondtrek agter water en weiding aan. Maar op al hoe meer plekke het die boere hulle plase begin afkamp en omhein. Dit het tant Kowa-hulle se leefwyse tot ’n einde gebring. Hulle kon nie meer met hulle vee rondtrek nie.
Op die ou end het tant Kowa-hulle op die plaas Bo-Sluis in Kliprand en Pofadder se wêreld beland. Dit was toe ’n ander land. Bruin mense soos tant Kowa-hulle kon nie sommer op enige plek grond besit nie. Ds Pieter Eksteen, destyds ’n predikant op Pofadder, het hom oor die Bo-Sluis-mense ontferm en gehelp om vir hulle ’n stuk grond hier in die Richtersveld te beding.
LEES OOK: Brief uit Noorweë: ‘Kersfees is ’n tyd om weer ons deernis te vind,’ skryf Charlotte Sibanyoni
Om hier te kom, het hulle met hulle donkiekarre tot hier getrek, meer as 400 km ver, met al hulle besittings op die donkiekarre gelaai. Op Bo-Sluis het hulle ’n sinkkerkie gehad, wat hulle afgebreek en hier kom oprig het. Deesdae is hier ’n mooi, waardige kerk van stene en sement.
Elke keer wanneer ek daardie leë wêreld inry, voel dit asof ek in myself inry.
Later het ek teruggeklim in die bakkie en die slaapsak oor my getrek.
Die volgende oggend, voor vyf, toe word ek wakker van ’n vrou wat êrens in die donker sing: “Nader my Go-hod, by U …” In so ’n trekkerige oumensstem.
Eers het ek gedink ek droom, maar toe ek regop kom, hoor ek die stem kom uit die huisie oorkant die pad se koers: “… Al is daar ook ’n kruis nodig vir my …”
Nou was ek wawyd wakker en onseker wat om te doen. Ek was lus vir koffie, maar het niks by my gehad om mee koffie te maak nie. Slaap sou ek nie weer kon nie. Toe sit ek maar en luister na Psalm 8: “Daar is geen land so ver en woes geleë …”
In die ooste het die dag agter die klipkoppe begin deurslaan.
“… geen strand, o Heer, of wilde waterweë …”
Ek het later uit die bakkie geklim en weer op daardie klip gaan sit. Dit was amper asof daardie stem die son wou aanjaag: “… geen hemelsfeer in die oneindigheid …” Die lug agter die koppe het begin gloei, in die oopte het kokerbome en halfmense verskyn en êrens het ’n hoenderhaan aan die kraai gegaan. “… Of orals blink u Naam en majesteit …”
’n Koue luggie het uit die aarde opgeslaan en ek kon doudruppels op die klipaalwyntjie naby my se blare sien blink. Dit was of daardie stem dringender geword het hoe hoër die son geskuif het. Byna asof dit daardie stem is wat die son laat skuif.
LEES OOK: Brief: Beleef ‘iets wonderliks’ by seniorklub
Ek het omgekyk en toe, vir die eerste keer, sien ek in die skemer wie sing so. Sy het langs die huisie se voordeur op ’n bankie gesit met ’n kierie tussen haar knieë. Tant Kowa Strauss.
Dit het nie gelyk of sy van my teenwoordigheid bewus is nie. Sy het voortgesing, en terwyl sy sing, het die son in ’n helder gloed agter die koppe uit geskuif. Toe verskyn daar allerhande bossies en plante: duifdorings en gansoë en stinkkruid en karkoere. En in die verte het ’n troppie boerbokke uit die vlakte opgestaan en begin wei. En dit was mooi en dit was goed.
Ek het opgestaan en na tant Kowa toe gestap. Dit het steeds nie gelyk asof sy my sien nie, maar toe ek die hekkie oopstoot, vra sy: “Kan ek help?”
Ek het verduidelik ek kom van die Kaap af en het die nag voor haar huis geslaap.
“Jou tante hoop nie sy het jou wakker gemaak nie,” het sy geantwoord. “Jou tante sing mos maar soggens só. Sy kan mos nie Bybel lees nie.”
Toe eers het ek die twee blinde oë uit tant Kowa se oogkasse sien staar.
Ek kon my inleef saam met die skrywer en die nag met alles wat ons Skepper so mooi en goed gemaak het. Sou graag saam met Tant Kowa wou sing tot Sy eer.
Dit is Dana Soos ek Hom deur sy geskrifte leer ken het. Die man teken prentjies met sy Woord.
Dankie Dana
Ag wat sou ek wou gee om saam haar te sing. Ek 80 jr en is so lief vir sing. My ma ons elke oggend wakker gesing met n Psalm, gesang of hallelujah lied. In my gene die gesingery.