Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Anton Knoetze skryf: In hierdie week se uitgawe van Christianity Today het ’n fassinerende artikel verskyn met die volgende opskrif: “Wat ’n vermoorde Russiese gevangene ons kan leer oor morele oortuiging”. Alexei Navalny was ’n Russiese opposisieleier, prokureur, anti-korrupsie-aktivis en politieke gevangene. Hy het anti-regeringsbetogings georganiseer en vir hervormings teen korrupsie in Rusland en teen president Vladimir Poetin en sy regering gepleit.
Die artikel gaan voort deur te sê voordat die wêreld die dooie liggaam van Alexei Navalny in die subzero-omgewings van ’n Arktiese strafkolonie vergeet, moet ons deeglik na hom kyk om te sien wat morele moed van jou oortuiging regtig is. Navalny het dit nie maklik gehad nie, hy het vergiftiging in 2020 oorleef, in Europa herstel, maar soos Bonhoeffer het hy teruggegaan na sy vaderland, al het hy geweet wat hom in die gesig sou staar. Hy is in 2023 tot 19 jaar gevonnis op ’n nuwe stel aanklagte, waarvan een die aanklag van ekstremisme was. Dit was ’n bedekte skuif om te verseker dat hy geïsoleerd en in die tronk sou bly. Navalny het herhaaldelik na sy Christelike geloof verwys en treffend in Bybelse terme verduidelik wat dit beteken om vir ’n mens se oortuigings te ly.
Hy het gesê: “Die feit dat ek ’n Christen is, stel my gewoonlik bloot aan bespotting by die Anti-Corruption Foundation, want die meeste van ons mense is ateïste. Ek was ook eens ’n militante ateïs, maar nou is ek ’n gelowige, en dit help my baie in my aktiwiteite want die lig van die Bybel maak alles baie, baie makliker”. Meer spesifiek, het Navalny gesê, word hy gemotiveer deur die woorde van Jesus: “Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt 5:6). “Ek geniet nie regtig die plek waar ek is nie, maar ek is nie spyt dat ek teruggekom het of oor wat ek doen nie. Dit is altyd goed om die regte ding te doen. Om te blom waar jy geplant is bring bevrediging, want in moeilike tye kon ek doen soos die Skrif vir ons wys sonder om daardie opdragte te verloën.”
Hierdie woorde van Navalny klink dalk maklik. Maar dit is nie dat Christene die moed van hulle oortuiging het terwyl ongelowiges dit nie het nie. Daar is genoeg bewyse vir die teendeel. Navalny het eerder erken dat die moed van jou oortuiging beteken om alleen te staan. Dit is altyd maklik om jouself te oortuig dat om stil te bly nou die regte ding is. Navalny het egter die versoeking herken in die feit dat hy deur volksgenote as ’n verraaier gebrandmerk kon word en om deur mense in die kerk as skeurmaker uitgekryt te word. Hy het besef dat ’n mens “jou vreemdelingskap op aarde moet omhels. Dit is nie maklik nie, want jy sit in ’n sel en jy is ’n alleenloper, want niemand hier hou van wat jy sê of het dit wat jy sê nodig nie.”
En dit is die belangrikste ding wat die hele stelsel vir mense wat vervolg word probeer sê: Jy is alleen, want vir hulle is dit belangrik om te intimideer en om vir ander te wys dat jy alleen staan. Om Christen te wees, is juis om net ’n gewone persoon te wees wat weier om uit die stryd te tree, om ter wille van jou oortuiging dit te doen wat selfs uiterste swaarkry kan bring.
Christianity Today sluit dan die artikel af met: Dit was die kern van Navalny se morele oortuiging. Hy was gewillig om alleen te staan, hy was selfs bereid om daarvoor te sterf. Dit is nie net dat hy sekere Bybelverse geken het nie; die pro-Poetin-patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk het ongetwyfeld baie meer van die Bybel geweet. Maar dit was hoe hy dit wat hy geweet het toegepas het. Die punt is dat ’n mens nie jou oortuigings kan uitleef as jy nie bereid is om daarvoor weggestuur te word nie. Dit is die vreugdevolle ironie: ’n Mens staan nooit alleen as jy deel is van ’n groter storie en wanneer jy aan ’n groter liggaam behoort nie.
