Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die skrywer (regs) en mede-afgevaardigdes op die eerste dag van die vergadering van die Algemene Sinode Moderamen wat vandeesweek in Benoni vergader.

Estian Mentz: Eerste indrukke van ASM-vergadering


Met die intrapslag by die eerste Algemene Sinode Moderamen (ASM)-vergadering (27-29 Feb) na die vergadering van die Algemene Sinode Oktober 2023 was daar baie onsekerhede in die gesprekke rondom die aankoms se etenstydtafels.

Die vergadering begin altyd met ’n ete, en daarna begin die vergadering.Hierdie is my vierde of vyfde ASM, en dit was vir my uiters opvallend hoe vandag se vergadering begin het. Dit is ons nuwe moderatuur se eerste ASM-vergadering in persoon na hulle verkiesing, en die sake en kwessies in ons kerkverband is nou sterk op die voorgrond.Ek het gewoond geraak aan vergaderings wat soos vergaderings begin.

LUISTER: Kliek hier om die sinodelied te luister

Geborg

Ons open vinnig met ’n Skriflesing en gebed, en begin dadelik met die agenda. Saaklik, nie tydmors nie, net die sake hanteer en klaarkry want ons tyd is min.Wat egter vandag hier gebeur, is baie mooi.Nadat ons geëet het en almal verwelkom is en ons met mekaar gedeel het hoe dit gaan in die verskillende sinodes en ook op sommiges se persoonlike vlak het ons oorgegaan na die opening van die vergadering. Met die eerste instap in die vergaderinglokaal het ek klawerbordmusiek hoor speel oor die luidsprekers, ek het eers gedink dit is ’n opname wat gespeel word van ’n rekenaar af, maar tot my skok, en toe ook onmiddellike opgewondenheid staan dr Zander van der Westhuizen agter die klawerbord.

Ons was weer bevoorreg om vandag deur sy ongelooflike gawe ontmoet te word. Maar dit is nie al nie. Wat hier gebeur vandag is dat daar 90 minute afgestaan word vir die opening, met ’n volledige liturgie, liedere wat gesing word en oomblikke van gesprek en gebed rondom die tafels.

Die hele gees van die vergadering begin op ’n ander noot as gevolg hiervan. Ek hou baie van hierdie manier van doen, dit stel vir ons die ritme van waarheen die vergadering op pad is, dit gee vir ons rigting deur intensief om die tafel met ’n teks te werk, en dit bind ons aan mekaar deur gesamentlike aanbidding en ook geloofsbelydenis te doen.Êrens gaan ons die agenda ook moet hanteer, maar die openingsliturgie gee vir ons die pas aan, en ek hoop ons kan so deur die hele vergadering beweeg.Ons is hier, ons is saam, ons is kerk.

Ek hoop dit is die gees wat deur die hele vergadering sal heers. Een waar ons bereid is om na mekaar te luister en saam op pad te bly, saam met die Here wat ons voorgaan. Ons sing die sinodelied weer, en die woorde tref my net so hard soos die eerste keer toe ek dit gehoor het. “Want ons wil doen wat reg is, ons wil liefde bewys, ons wil lewe voor U, bedagsaam loop.”Bid saam vir die ASM, ons kerkverband en ons hele land.

Ds Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.