Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Ai, as die man maar net wou luister!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Smuts Janse van Rensburg van Oudtshoorn skryf: Vir baie jare was die NG Kerk ’n mooi huwelik – ’n steunpilaar en inspirasie in die gemeenskap. Ja, daar was geskille en verskille, maar keer op keer het die liefde alles op ’n manier aan mekaar gehou. Maar iewers langs die pad het iets verkeerd geloop. Die man met die naam Algemene Sinode (AS) het kop verloor. Selfvoldaan en belangrik in sy eie oë. En sy oë het begin dwaal. Hy’t begin flirteer met ander vroue, met die voorwendsel dat hy van die wêreld ’n mooier en ’n beter plek wil maak. Maar vroulief, met die naam Koinonia Sinode (KS), het diep onrustig geraak. Elke keer as sy met manlief wou praat, het sy net so sydelings gehoor “daar is niks om oor bekommerd te wees nie”.

LEES OOK: Kerkbode Kollig Episode 3: In saamloop lê hoop

Vroulief het gepleit, gesmeek, gebid, maar niks het verander nie. Manlief het met sy streke voortgegaan. Vroulief het snags haar kussing nat gehuil (doleer), maar manlief het hom nie daaraan gesteur nie. Hy’t selfs op ’n dag vir haar gesê daar staan nie in hulle huwelikskontrak (Kerkorde) iets van huil en trane nie. ’n Paar keer het vroulief lang briewe (beswaarskrifte, gravamina) aan haar man geskryf, maar hy het dit nie eens gelees nie. Vier keer het sy ’n brief onder manlief se kussing gesit: “Kom ons gaan sien ’n berader (mediator)”. Maar manlief het ook dié gedagte afgeskiet. Hy’t iets gemompel van sy het nie ’n voet om op te staan (locus standi) om op berading aan te dring nie. Vroulief het regtig nie meer geweet wat om te maak nie. Haar man praat met almal, ook met ander vroue, maar vir sy huwelik en vir behoorlike gesprek met haar sien hy nie kans nie.

LEES OOK: NG Kerk hoef stééds nie te skeur, sê Lubbe ná regslui gemeentes se ‘aktes van opskorting’ kap en as ‘vreemd aan die Kerkorde’ bestempel

Die situasie het vir vroulief onhoudbaar geraak. Sy’t dit duidelik gemaak: “Ek wil nie skei nie. Maar ek sien ook nie langer my weg oop om saam met jou in ’n bed te slaap en aan tafel te sit nie (opskort).” Manlief was glad nie hiermee gelukkig nie. Hy’t sy huwelikskontrak (Kerkorde) onder haar neus gevryf: “Sien jy iets in ons kontrak van skei van tafel en bed?” Hy’t ook sommer dadelik ’n regsmening ingewin. Sy een regsgeleerde vriend het vir hom gesê hy hoef nie bekommerd te wees nie. Haar dreigement is niks werd nie, dis ’n nulliteit. Sy ander advokaat-vriend het weer vir hom gesê hy moet haar dreig, sy moet weet sy gaan kaal uitstap as sy met haar bed-en-tafel-skei aksie voortgaan. Intussen moes vroulief ook ’n regsgeleerde gaan sien, net om seker te maak dat sy nie verkeerd optree nie. Sy moes dit doen sonder die luukse van haar man se dik tjekboek (AS se beursie), want sy moes al die jare by die huis bly om die kinders (gemeente) te versorg.

En so gaan hierdie hartseer huweliksage voort … terwyl die kinders (lidmate) nie mooi weet wie se kant om te kies nie – pa of ma? En terwyl sommige lidmate net nie meer huis (gemeente) toe wil kom nie – sommige bly nou by ander mense, maar ’n hele klomp sit op straat. Intussen skinder en lag die gemeenskap oor hierdie eens voorbeeldige huwelik – party agter die hand, ander sommer openlik.

Ai, as die man maar net wil luister!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top