Kontra-intuïtief: ’n Gevaarlike én verbysterende belydenis deur Ernst Conradie
Uitgewer: Bybel-Media, 2023
Resensent: Fay van Eeden
Die oomblik wat jy Kontra-intuïtief oopmaak, weet jy hierdie boek gaan jou uitdaag. Uit die staanspoor vra Ernst Conradie jou uit oor wat jy presies bedoel wanneer jy bely dat God die skepper is. Conradie begelei die leser om op ’n deeglike en gestruktureerde wyse na te dink oor skepping en Skepper. Hy dink saam met die leser aan die hand van verskeie filosofiese en wetenskaplike vraagstukke oor wat die bogenoemde konsepte beteken.
Conradie vra darem nie net vrae nie. Hy bied ook pragtige beelde, soos dié van ’n huishouding en ’n dans, om iets te verduidelik van die verhouding tussen God en die wêreld.

In hierdie boek stel Conradie voor dat “skepping” waarskynlik die sinvolste manier is om na ons wêreld te kyk. Hy bied hiermee ’n herbeskrywing van die wêreld as skepping en ’n toeskrywing van ons wêreld aan God. Conradie self beskryf hierdie interpretasie as tegelyk kontra-intuïtief, gevaarlik en verbysterend.
Kontra-intuïtief is nie net ’n insiggewend boek nie, maar ook tydig. Myns insiens gee Conradie se insigte vir die kerk en gelowiges taal vir ons verstaan van die wêreld. Dit gee ’n goeie teologiese fondament waarop ons ons nadenke en gesprekke rondom ons roeping tot rentmeesterskap en ’n meer volhoubare manier van leef, kan bou.
Kontra-intuïtief is ’n boek wat jou met hoop vul – ’n aktiewe hoop wat nie op omdat gebaseer is nie, maar eerder ten spyte van.
Beskikbaar by Bybel-Media.
Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Gemeente Stellastraat en blogger oor volhoubaarheid by enroutefoodie.com
