Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dit was vir hom een van die moeilikste besluite om te besef hy sal vir Buddy, sy Jack Russell tot siens moet sê, vertel emeritus-prof. Pieter Carstens van Pretoria wat ’n paar jaar terug weens terminale kanker beplan het om sy lewe met bystanddood te neem. Foto: Verskaf

Bystanddood: Prof vertel oor omkeerpad met terminale kanker


Emeritus-prof Pieter Carstens van Pretoria wou in Februarie 2019 weens ’n terminale kankerdiagnose sy lewe waardig afeindig. Sy plan was om dit te doen met bystanddood by die Dignitas-kliniek in Switserland soos wat Carol de Swardt van George (ook gediagnoseer met aggressiewe velkanker) vroeër vanjaar gedoen het.

Toe gebeur in sy woorde “net ’n wonderwerk”. Danksy ’n toe nog redelik nuwe kankermedikasie is die kwaadaardige gewas op sy kop heeltemal genees. Hierdie kenner in kriminele en mediese reg het Kerkbode Kollig vertel hy gebruik sy tweede kans op lewe om te kyk hoe hy vir ander iets goeds kan doen. So gesels hy ook graag oor sy belewenis omdat so baie mense vrae het rondom bystanddood of genadedood, soos wat hy in Februarie vanjaar gedoen het tydens ’n samekoms wat gehou is die NG Gemeente Wonderpark in Pretoria.

Dit het begin met ’n knoppie op sy kop

Pieter is nou 64 maar vertel hy was so 56 toe hy in 2016 ’n klein knoppie voel op sy kop. Hy is dadelik dokter toe wat gesê het hy dink nie dit is kwaadaardig nie maar dit sal verwyder moet word.

Geborg

Dit het Pieter nie juis bekommer nie, want hy het toe al verskeie klein kankervlekkies laat verwyder. Nie een was kwaadaardig nie. Die vlekkies was die nagevolge jare later van ure in die son wat hy as tiener en jongman op die tennisbaan deurgebring het in die 60’s “toe ons nie geworry het oor plus 50 sonbeskerming” nie.

Drie en half maande later gaan hy dat die plekkie verwyder kan word, maar toe wys toetse dit is wel kwaadaardig. Dit is gediagnoseer met aggressiewe plaveiselkarsinoom. Dit is die tweede mees algemene velkanker in Suid-Afrika volgens Kansa en geneesbaar in 95% van gevalle indien dit vroeg opgespoor word.

In sy geval het die kanker egter reeds in sy skedel ingegroei. Pieter vertel die dokters het dit probeer verwyder in ’n prosedure waar hulle dit “soos ’n ui skil” maar die gewas het reeds deur die skedel gegroei tot in die dura mater (dikwels net na verwys as die dura is dit een van die buitenste lae wat die brein omhul om dit te beskerm, volgens die webblad van die National Library of Medicine).

“Jou nommer is op”

Uit die aard van sy opleiding en agtergrond het Pieter verskeie (omtrent 17) spesialiste geraadpleeg wat almal vir hom gesê het “jou nommer is op”. Hy sou ’n ingrypende breinoperasie bekend as ’n kraniektomie moes ondergaan wat sou behels dat ’n deel van sy skedel afgehaal word. Dit is ’n ingrypende operasie wat gepaard gaan met baie bloeding en die ernstige risiko’s inhou van ’n massiewe beroerte, ernstige breinskade of die dood.

Twee goed: Versterk jou immuunstelsel en hou die gewas skoon

Pieter het besluit om nie die operasie te laat doen nie. Hy verduidelik daar is ’n term hiervoor, ingeligte weiering. Die wet op nasionale gesondheid maak daarvoor voorsiening dat ’n mens mag weier om ’n vorm van mediese behandeling te ontvang.

Vir die volgende drie jaar het Pieter aangegaan met klasgee en werk asof alles normaal was, maar die groeisel op sy skedel het aanhou groei.

Dit was later so groot soos ’n groterige plak sjokolade (12×7 cm), maar 5 cm hoog. Dit het ook sleg geruik. “Dit was soos vrot pasta wat daar gelê het wat vir my ontsettende ongemak veroorsaak het,” verduidelik hy. Sy behandeling tot op daardie punt was tweeledig. Hy het ’n Johannesburgse dokter gesien vir alternatiewe behandeling om sy immuunstelsel te versterk en drie keer per week het hy die tumor laat skoonmaak en verpleeg om infeksies te voorkom. Vir die wondverpleegsters wat hiermee gehelp het, het Pieter net waardering: “As dit nie vir hulle was nie, weet ek nie wat sou van my geword het nie”.

Geborg

Die vroue se simpatieke hantering staan vir hom in skerp kontras met sy ervaring van sommige dokters wat hy as ontsettend kortaf beleef het veral na hy die voorstel vir die ingrypende breinoperasie geweier het. “Hulle het basies vir my gesê het as jy nie wil hê wat ons vir jou voorstel nie dan is jy op jou eie,” vertel hy.

Pieter Carstens het in Februarie by NG Gemeente Wonderpark in Pretoria oor sy ervaring gepraat. Foto: YouTube

Bystanddood is ’n baie moeilike besluit

Teen daardie tyd was dit vir hom duidelik dat hy sou sterf. Sy laaste paar maande wou hy met waardigheid leef. Dit het duidelik geword dat hy teen die einde so sou verswak dat hy nie normaal sou kon funksioneer nie en waarskynlik bedlêend in ’n hospies sou opeindig.

Dit was iets waarvoor hy nie kans gesien het nie.

“Ek kan nie myself sien as ’n hoogsfunksionerende intelligente mens om vegetatief in ’n bed te lê in ’n hospies vir wie weet hoe lank.”

Die keuse vir bystanddood was vir hom steeds ’n baie moeilike besluit om te neem. Hy onthou hy was depressief. Pieter is ongetroud, maar het ’n agtjarige Jack Russell, Buddy, wat “soos ’n koning in die huis leef”. Dit was vir hom een van die moeilikste besluite om te besef hy sal vir sy hond tot siens moet sê.

Hy vertel hy het as gelowige geworstel met die argumente oor of dit verkeerd of toelaatbaar is om genadedood te kies ter wille van ’n waardige einde van sy lewe.

Kruisigingverhaal gee rus

Vir hom het ’n aandagtige herlees van die verhaal van Jesus se kruisiging in die Bybel berusting gebring. Pieter verduidelik dit is glad nie dat hy die verskriklike lyding wat Jesus deurgegaan het met syne vergelyk het nie, maar “die metafoor daarvan is vir my belangrik”.

Geborg

Hy het besef tussen Jesus se gebed in Getsemane en sy dood aan die kruis het Hy ontsettende lyding deurgemaak. Jesus se “onmenslike en brutale lyding” het vir hom nuwe betekenis gekry. Pieter vertel, “ek het vir myself gesê dit bevry my nie net van sondes nie, maar Hy het ook die pyn vir my oorwin. Daai pyn wat Hy gehad het was die ergste pyn denkbaar en daai pyn het my pyn uitgewis”.

Hy vertel hierdie besef was vir hom ’n baie belangrike moment. Hy weet nie hoe Skriftuurlik sy siening is nie, maar hy kan nie sien hoe ’n mens hiervoor verdoem kan word nie. Die dood bring verligting vir pyn en dit, sê Pieter, is “al wat ’n mens vra met genadedood. Die dood kan dus vermag wat dokters nie kan nie – dit stop pyn onmiddellik”.

Hoewel selfdood nie ’n misdaad is nie, is dit steeds onwettig in Suid-Afrika om iemand wat terminaal siek is te help om hulle lewe te beëindig. Dit is iets wat Pieter hoop binnekort sal kan verander. Soos hy verduidelik is dit vir hom verkeerd dat jy enige dag gewelddadig doodgemaak kan word, maar nie die keuse mag uitoefen om in ’n gereguleerde wyse genadedood te mag ontvang nie.

Sy soektog vir bystand vir ’n waardige dood het hom uiteindelik uitgebring by die Dignitas-kliniek in Switserland. Dit is die nou al bekende instansie wat mense bystaan wat terminaal siek is en hulle lewe wil beëindig soos byvoorbeeld Carol de Swardt van George (ook gediagnoseer met aggressiewe velkanker) wat vroeër vanjaar daarheen gegaan het.

Die wonderwerk

Sy afspraak was klaar gemaak vir Februarie 2019 toe ’n student van hom vir Pieter vertel van Keytruda, ’n nuwe kankermedisyne wat mense met velkanker kan help. Hy het uitgekom by ’n onkoloog in Pretoria wat hierdie baie duur medikasie gebruik vir immunoterapie spesifiek vir die behandeling van die soort kanker wat Pieter gehad het asook ander soorte kanker.

Die Keytrudo-behandeling, wat binne-aars toegedien word, het toe sowat R100 000 per behandeling gekos. Sy mediese fonds wou nie daarvoor betaal nie, want die behandeling was toe nog baie eksperimenteel, maar Pieter sê hy was maar te bly om homself daaraan bloot te stel. Selfs al moes hy van sy eiendom verkoop om dit te kon bekostig.

Die behandeling het gewerk. Binne ’n paar weke na die eerste behandeling het die tumor op sy kop begin krimp. Soos hy dit stel, “binne twee weke het die ding op my kop begin doodgaan en kon ek die velle begin aftrek soos droë blare”. Binne 12 weke, en sowat R400 000 en vier behandelings later, was die kankergroeisel weg.

Geborg
Die behandeling het gewerk. Foto: Verskaf

Pieter vertel niemand het dit geglo nie, maar dit was weg. “Ek is nou al in remissie vir vyf jaar. Dit is ’n wonderwerk”.

Vir hierdie tweede kans om te lewe is hy ontsettend dankbaar. Selfs ’n diagnose met Parkinson se siekte vier jaar gelede demp nie sy entoesiasme nie. “Dit gaan met my goed,” sê hy en voeg by, “na hierdie ding op my kop met my gebeur het is elke dag ’n bonus en probeer ek voluit lewe”.

Hoekom hulpverlening aan selfdood steeds ’n misdaad is

In SA is selfdood nie ’n misdaad nie, maar hulpverlening hiermee is wel. In baie lande is dit nie meer die geval nie – lande soos België, Nederland, Oostenryk, Portugal, Spanje asook sekere state in die VSA soos Oregon en nou onlangs het Nieu-Seeland en Australië bygekom. Die regte wetgewing is wat belangrik is met die nodige “checks and balances” soos byvoorbeeld in Nederland waar net Nederlandse burgers kan vra vir bystanddood.

Die reg op waardigheid is jou belangrikste reg

Suid-Afrikaners se reg op waardigheid word beskerm in Artikel 10 van die Grondwet. Vir meer hieroor beveel Pieter aan ’n mens lees oud-regter Laurie Ackerman se boek, Human dignity: Lodestar for equality in South Africa.

Pieter het in Februarie vanjaar oor sy ervaring en kennis van die mediese en regsaspekte gepraat by ’n samekoms wat gehou was by die NG Gemeente Wonderpark in Pretoria. Daar is ’n video hieroor beskikbaar op YouTube (sien onder).


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.