Die kuratorium op Stellenbosch het op 8 April 2024 ’n groep diensleraars asook ’n gemeenteleraar gelegitimeer in die NG Moederkerk op Wellington. Ook het twee studente weer volledige predikantstatus (na colloquium doctum) ontvang en is dr Frederick Marais bevestig as kerklike dosent by Hugenote Kollege waar hy as dekaan aangestel is van die Skool vir Sosiale Innovasie.
Hierbenewens is sertifikate uitgedeel aan studente wat die Bedienaarskursusse by Hugenote Kollege voltooi het.
Diensleraars
Ulrich Barnard is gebore op 21 Mei 1998. Hy het in 2016 gematrikuleer by Paul Roos Gimnasium en het in 2017 met sy teologiese studies begin by die Universiteit Stellenbosch. Aan die einde van 2021 het hy die besluit gemaak om sy teologiese studies te voltooi by Hugenote Kollege en as diensleraar gelegitimeer te word. Sy plan is egter om verdere teologiese studies te voltooi om eendag as vol leraar gelegitimeer te word. Hy beskryf homself as iemand wat ’n groot passie het vir die jeug. Hy bedien die jeug van hulle gemeenskap, binne en buite die gemeente. In 2017 het hy by NG Helderberg Gemeente met jeugwerk begin onder kinders van graad 4 tot graad 6. In 2018 het hy die rol as jeugwerker by NG Helderberg oorgeneem, en is tot nou betrokke by dieselfde bediening. Hy is ook passievol oor sport en rig al vir vier jaar die o-20’s af van Helderberg Rugbyklub. Op 16 Desember 2023 het hy getrou met Chanelle Barnard wat werk as ’n sosiale bemarker by Mobius Digital in die Kaap. Hy werk ook tans voltyds as ’n praktykbestuurder. Hy wil die liefde en genade van die Here aan almal gaan verkondig en sy passie en liefde vir mense uitleef binne die bediening. Ulrich kan op 079 692 8300 of by uli.barnard@gmail.com gekontak word.

Karin Botes (néé Botha) is op 21 Julie 1977 gebore in Pretoria. Sy het in Boksburg en later Bellville grootgeword. Sy matrikuleer in 1995 aan die Hoërskool DF Malan en gaan studeer daarna maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch. In 1999 behaal sy ’n B-graad in Maatskaplike Werk en begin werk as ’n maatskaplike werker by CMR Wynberg (later bekend as Badisa Wynberg). In 2011 begin sy haar privaatpraktyk as ’n maatskaplike werker wat deesdae fokus op geriatrie en kuratorskapwerk. In 2020 roep die Here Karin tot die bediening en sy skryf weer in as ’n student. In Maart 2023 behaal sy haar PG Dip in Teologie (Praktiese Teologie) cum laude onder leiding van prof Cas Wepener. Die onderwerp van haar minitesis is Die aanbieding en uitvoering van die liturgiese ritueel van ’n hibriede klassieke gereformeerde erediens: ’n Prakties-teologiese verkenning. Karin is tans ingeskryf vir haar MTh (Praktiese Teologie, volle tesis) en hoop om die studieveld van liturgiese rituele verder te verken.
Karin, haar man Louis en hulle twee tienerseuns, Louis (matriek) en Nico ( Graad 10) is lidmate by NG Kerk Tamboerskloof. Beide Karin en Louis dien op die kerkraad. Karin is op ’n kontrakbasis aangestel as ’n pastorale hulpwerker by die gemeente. Sy is verantwoordelik vir die jeugbediening op Sondagaande. Sy kan op 082 900 5334 of karin@uwezekano.co.za gekontak word.

Jacques de Lange is op 17 November 1976 in Johannesburg, Gauteng, gebore. Hy het in Roodepoort grootgeword en in 1994 aan die Hoërskool Florida gematrikuleer, waar hy ook sy toekomstige eggenoot, Altia, ontmoet het. Kort na skool het hy by die familiebesigheid aangesluit waar hy vir meer as 20 jaar betrokke was. In 2000 het hy en Altia aan mekaar trou belowe, en eers agt jaar later is hulle eerste dogter, Sophia, gebore, gevolg deur Isabella in 2010. Oor die volgende paar jaar het Jacques ’n persoonlike roeping van God ervaar, deel geword van ’n kerkplantingsaksie, en in 2014 het sy gesin Johannesburg verlaat vir die Overbergdorp van Napier, waar sy roepingsbewustheid en liefde vir die agtergeblewenes gegroei en vorm begin kry het deur die plaaslike gemeente. Hy het in 2023 sy BTh-graad met ’n fokus op Christelike berading ontvang en begin kort daarna om homself toe te rus as ’n diensleraar. Sy passie lê daarin om saam met die gebrokenes op hulle pad na holistiese welstand in die volheid van Christus te reis en by te dra tot die vestiging van ’n ware, verteenwoordigende kerk waar velkleur, taal, kultuur of sosio-ekonomiese welstand nie ’n rol speel nie. Verder het Jacques ook ’n musikale agtergrond en is hy vir etlike jare al deel van sy gemeente se sang- en musiekbediening. Jacques is beroepbaar en kan by 082 926 6032 of jacdelange@gmail.com gekontak word.

Gerald Kamfer is gebore op Oudtshoorn op 14 Januarie 1977. Hy is getroud met Amanda Deidre Kamfer op 18 Desember 1999. Sy dogter Gina Sue-Lisa is gebore op 24 Maart 1998, ook op Oudsthoorn. Kleindogter Avery Alaia Kamfer het op 6 Augustus 2020 nog ’n toevoeging tot die gesin geword.
Hy het sy skoolloopbaan voltooi by Bridgeton Senior Sekondêre Skool in 1994. Direk daarna (1995) sluit hy aan by die Suid-Afrikaanse Militêre Geneeskundige Dienste (SAGD). Nadat hy sy basiese opleiding voltooi het begin hy rugby speel en word opgeneem in die weermag o-21 A-span om in nasionale rugbyweek te speel. Hy voltooi sy weermagloopbaan in 2002. Nadat hy vir so ongeveer drie jaar vryskutwerk gedoen het, sluit hy aan by die Departement van Gesondheid en kwalifiseer as aptekersassistent in 2006. Hy het hierna gewerk vir Coetzee Apteek, Pacaltsdorp Apteek en Clicks Apteek. In 2014 kry hy ’n vastetermynkontrak by Mediclinic Suid-Afrika waar hy tans werksaam is.
Gerald kom tot bekering in 2015 waarna hy aansluit by die Christelike Afhanklikheidsbediening (CAB). Hy word verkies as sekretaris waar hy ook die groep aktief help om individue te help tot soberheid en ook om die geaffekteerde familie en kollegas te ondersteun. Hy dien as berader vanaf 2016 tot op hede. Hy is tans betrokke in sy gemeenskap waar hy help met bewusmaking van die gevolge van middelafhanklikheid. In 2015 word hy diaken in die VGK waar hy vir vier jaar dien op die kerkraad van ’n buitepos, Moerasrivier. Hy sluit aan by die NG Kerk in 2023 en word diaken in 2024. Gerald voltooi sy BTh-graad in 2023 aan die Hugenote Kollege. Diversiteit, versoening en geregtigheid is belangrik vir hom. Hy is passievol daaroor om te vertel van God se liefde as die groot gebod tot ons naastes. Gerald wil sy roeping uitleef in pastoraat en berading. Hy is beroepbaar en kan by 071 878 0282 en/of kamfies9526@gmail.com gekontak word.

Stephanus Andries Louw is op 7 April 1982 in Bellville gebore en matrikuleer in 2000 aan die Hoërskool Bellville. Hy verwerf sy BRek- en HonsBRek-grade aan Universiteit Stellenbosch, waarna hy in 2005 na George verhuis om sy klerkskap by PriceWaterhouseCoopers te voltooi. In George is hy aktief by die George-Bergsiggemeente betrokke. In 2008 kwalifiseer Stephanus as geoktrooieerde rekenmeester en in 2009 aanvaar hy ’n werksgeleentheid in Bermuda, waar hy werksaam is tot 2011 en by die Presbiteriaanse kerk van Bermuda betrokke was. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 2011 sluit hy by ’n versekeringsgroep in George aan, waarvan hy tans finansiële hoof is. Stephanus deel sy lewe met sy vrou, Anja, hulle dogtertjie Ella, gebore in 2023, en hulle vriende. Die Louw-gesin leef hulle liefde vir die natuur – berge, bome en see, natuurlik met ’n braaivleisvuurtjie – volkome uit. Dit is ook hier waar Stephanus sedert sy terugkeer na Suid-Afrika weer by die George-Bergsiggemeente betrokke is as voorsitter van die kerkraad en ook dien op die finansiële komitee. Hy glo dat ’n gesonde balans tussen gesin, vriende, kerk en werk baie belangrik is. In 2023 het Stephanus sy Nagraadse Diploma in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waarna hy in 2024 sy bedienaarskursus by Hugenote Kollege voltooi met spesiale fokus op preek- en erediensleiding. Sy roeping is om ondersteunend tot predikante op te tree deur die waarneming van eredienste, wat hom ook in staat stel om sy passie vir Woordverkondiging uit te leef. Stephanus kan by stephanuslouw@gmail.com of 083 225 2040 gekontak word.

Kobus Mouton is in 1959 in Zambië gebore en het in Noordwes (Wes-Transvaal) grootgeword. Hy het onderwys studeer en daarna vir 13 jaar Afrikaans aangebied. Hy was ook vir ses jaar departementshoof by Potchefstroom High School for Girls. In hierdie tyd verwerf hy ’n honneursgraad (cum laude) in onderwysbestuur. In 1997 het Kobus die onderwys verruil vir die sendingveld, waar hy in Youth With a Mission (YWAM), betrokke was (Jeffreysbaai, Worcester en internasionaal) met basiese dissipelskapopleiding en emosionele berading. Hy gee klas in die induktiewe studie van die Bybel en kreatiewe leierskapsontwikkeling. Sy spesialiteitsveld is spirituele formasie, emosionele berading en debriefing van spanne en individue. Hy is steeds in hierdie kapasiteit by die opleidingsbasis op Worcester betrokke. In 2005 verhuis Kobus en sy gesin vanaf Jeffreysbaai na Wellington waar hy vanuit Wellington-Moedergemeente die gemeenskap dien met sy gawes as trauma- en emosionele berader. Hy gee kort opleidingskursusse in berading en die hantering van individue en groepe in trauma. In 2013 aanvaar Kobus ’n deeltydse aanstelling by Wellington-Moedergemeente as pastorale begeleier. Kobus voltooi ’n kursus in krisis- en traumaberading (cum laude) aan die Teologie Fakulteit van die Noordwes-Universiteit.
Kobus is ’n ervare spirituele begeleier en is deel van ’n opleidingspan wat begeleiers oplei in die Ignatius-tradisie van spirituele begeleiding. Hy bied gereelde kapéldienste aan by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit en fasiliteer retraites. In 2024 voltooi hy sy Nagraadse Diploma in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (cum laude). Die titel van sy navorsingstudie is ‘Retrieving the practice of spiritual direction: A re-appraisal within the Reformed Tradition’. Kobus is gelukkig getroud met Magdarié. Hulle het vier getroude kinders en drie kleinkinders. Hy kan by kobus.mouton@gmail.com of 082 574 9850 gekontak word.

Danie Neuman, ’n boorling van Bronkhorstspruit, is op 21 September 1960 gebore. Hy matrikuleer in 1978 aan Hoërskool Erasmus. Na skool verwerf hy ’n BSc en BSc (Hons) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n MSc in NeuroFisiologie aan die Potchefstroomse Universiteit (nou Noordwes-Universiteit). Danie registreer as mediese wetenskaplike in 1991 en praktiseer as omgewingswetenskaplike. Sy teologiese opleiding begin in 2018/2019 met die verwerwing van ’n BTh (Hons) by SATS. Gedurende 2019 verwerf en registreer hy as kliniese traumatoloog by die Kanadese Traumatologiese Instituut. In 2022 voltooi Danie sy LLB by Unisa en spesialiseer tans in Kerkreg. In 2023 begin Danie met ’n MTh in Praktiese Teologie by Universiteit Stellenbosch – ’n graad wat hy gelyklopend met die Kern Kerklike Modules by die Kuratorium van die Wes-Kaaplandse sinode voltooi. Sy passie is om lidmate met diep trauma te help. Danie het in 2019 as pastorale berader gekwalifiseer en geregistreer. Sy fokus as nooddienskapelaan is op bystand by gevalle van selfdood in Tshwane en vliegongelukke in Gauteng. Danie se navorsing vir sy skripsie as deel van sy MTh handel oor traumateologie en die toepassing van sleutelaspekte daarvan in die daaglikse trauma wat ons beleef. Danie is getroud met Alta, ook ’n pastorale berader. Hulle het drie kinders en vyf kleinkinders. Danie se diensleraarbevoegdhede is dié van pastoraat en berading. Hy kan by 082 828 5310 of danie.neumann@outlook.com gekontak word.

Conrad Christiaan Pienaar is gebore op 20 September 1984 en het op George grootgeword. Hy matrikuleer in 2002 aan PW Botha-kollege. In George was hy aktief betrokke by die NG Kerk Moedergemeente. Hy was werksaam in George as ’n nooddienswerker en het verskeie kwalifikasies en toekennings ontvang. In 2013 het hy na Port Elizabeth verhuis waar hy sy akademiese loopbaan uitgebrei het deur ’n hoërsertifikaat in ekonomiese bestuurswetenskappe en ’n diploma in veiligheidsbestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika te behaal. Conrad is getroud met Lecia Pienaar, ’n apteker, en saam het hulle twee kinders, Leriché en Christiaan. Hy is werksaam by ’n maatskappy as ’n bestuurder en veiligheidsouditeur. Hy het ook al verskeie gemeentes gehelp om te voldoen aan COVID-regulasies en veiligheidswetgewing. In 2024 behaal hy met lof ’n BTh-graad in missionale bediening aan Hugenote Kollege. Hy het al verskeie leierskapsrolle vervul in gemeentes waarby hy betrokke was, naamlik diaken, ouderling, jeugleier, mentor en voorsitter van verskeie bedieninge. Hy was ook al as afgevaardigde by vergaderings van die ring en Wes-Kaapse sinode. Hy het ’n passie vir jeug- en familiebediening met meer as tien jaar ondervinding daarin. Hy is tans betrokke by die NG Kerk Kraggakamma, waar hy ’n aktiewe rol speel in hulle musiekbediening en selgroepe, en by geleentheid ook eredienste lei. Hy lei ook op versoek eredienste by ander gemeentes in die ring van Algoa. Hy beplan om sy studies in teologie voort te sit. Conrad is beroepbaar as ’n diensleraar met ’n fokus op jeug- en familiebediening, en kan by conradpienaar001@gmail.com gekontak word.

Marinda Prinsloo is gebore op 5 November 1997 in Klerksdorp in Noordwes. Sy het grootgeword in Klerksdorp en Somerset-Wes. Sy matrikuleer by Strand Hoërskool in 2015 en begin in 2016 met verplegingstudies in Australië. Daarna keer sy terug na Suid-Afrika in 2017 en begin in 2018 met haar BTh-studies by die Universiteit Stellenbosch. Sy voltooi haar graad in 2022. Tydens haar studies is sy betrokke by NG Helderberg as jeugleier waar sy tans tydelik aangestel is as ’n deeltydse jeugwerker. Sy is deel van die familiebedieningbeplanning by Kinderkerk sowel as Tienerkerk. Sy dien ook op die kerkraad. Marinda stel belang in berading, spesifiek kinderberading, en sal graag verder hieroor wil leer. Sy is ook tans verloof aan Wihann Goosen en woon in Somerset-Wes. Marinda is beroepbaar en kan by 074 467 0561 en marinda848@gmail.com gekontak word.

Dr Matthiam J Theron is op 2 Desember 1949 op Hoekwil gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Outeniqua op George voltooi. Hy het reeds tydens sy hoërskooljare gevoel hy moet ’n predikant word, maar die Here het hom elders in sy koninkryk nodig gehad. Hy het in 1974 tot die onderwysberoep toegetree en het vinnig deur die range bevorder tot hy in 1995 Direkteur by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement geword het. Deur sy hele onderwysloopbaan het die Here hom in die godsdiensveld betrek. Hy was op nasionale vlak koördineerder van beleidsontwikkeling vir die godsdiensvakke. Sy hoofbedieningsveld oor die jare was onderwys vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Na sy aftrede in 2010 het hy nog vir drie jaar as onderwyskonsultant opgetree. Sedert 2015 is hy egter bykans voltyds by missionale werk betrokke. Hy is ’n lewenslange student en beskik oor verskeie kwalifikasies, waaronder ’n BTh- en ’n DEd-graad. Hy word as diensleraar: Prediking gelegimiteer. Sy passie is om die evangelie deur woord en daad te verkondig. Hy kan gekontak word by 083 303 8402 of theronmatthi@gmail.com.

Erick van Breda is ’n gedrewe professionele persoon met byna 20 jaar ondervinding in die herwinningsbedryf. Hy wil sy onlangse BTh-graad in teologie saam met sy leierskapsvaardighede, bemarkingskundigheid en tweetalige vaardigheid in Afrikaans en Engels benut om in ’n dinamiese werksomgewing uit te blink. Sy loopbaandoelwit is om voort te gaan om ’n positiewe impak te maak deur bedrywighede effektief te bestuur, innovasie te bevorder en groei in die herwinningsektor aan te dryf. Gelyklopend wil hy ook as toegewyde deeltydse diensleraar betekenisvol bydra tot die geestelike welsyn van ander en hulle help om aktief deel te neem aan die missio Dei. Hy wil daarna streef om ’n verskil te maak in beide sake- en geestelike gemeenskappe, onder die leiding van die Heilige Gees. Sy kwalifikasies sluit in: BTh by Hugenote Kollege (2023); NDip Bemarking by Tshwane University of Technology (2006). Hy het in 2000 gematrikuleer by Hoërskool Pretoria-Noord. Erick kan by 082 923 2622 of op erick@justmetals.co.za gekontak word.

Jack Wasserfall is gebore in Windhoek op 4 Oktober 1966 en was vir sy hele skoolloopbaan ’n koshuiskind. Hy matrikuleer in 1984 aan Windhoek Hoërskool en doen eers nasionale diensplig van 1985 tot 1986 voor hy in 1987 aan Universiteit Stellenbosch begin studeer. In 1990 behaal hy sy graad in meganiese ingenieurswese. Hy begin werk by Waterwese in 1991 en registreer as professionele ingenieur in 1993 by die Namibiese Raad van Professionele Ingenieurs. In 1996 trou hy met Alta Venter, ’n laerskoolonderwyseres, en begin werk by die Windhoek Munisipaliteit. In 1998 aanvaar hy ’n posisie by die nuutgestigte NamWater en waag sy hand in die privaatsektor in 2003, voordat hy as projekingenieur begin werk by Namdeb in Oranjemund in 2007. Hy voltooi ’n nagraadse diploma in projekbestuur aan die Stellenbosse Besigheidskool in 2015, word aangestel as volhoubaarheidsbestuurder en raak nou betrokke by die Oranjemund transformasieprogram om die myndorp volhoubaar te maak as onafhanklik van die myn.
In 2021 begin Jack missionale teologie aanlyn studeer by die Hugenote Kollege na aanleiding van die gebrek aan opgeleide predikers vir die afgeleë Oranjemund. Hy voel geroepe om die gemeente te begelei om werklik Liggaam van Christus te wees. Die Covid-19 pandemie het die gebrek aan die gemeente se betrokkenheid in die gemeenskap baie uitgelig en het een van die fokuspunte geword waarna die gemeente wil werk. Die dorp en die gemeente het ’n lang en komplekse geskiedenis. Die herstelproses het in 2022 begin met ’n 18 maande brugproses wat opgevolg moet word met ’n proses van gemeenteopleiding en -bemagtiging en die verfyning van die gemeente se spesifieke visie.
Jack is passievol oor suiwer Woordverkondiging en die ontwikkeling en bemagtiging van die gemeente as Liggaam van Christus as die basis vir gemeenskapsontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid. Hy glo dat opbouende respekvolle verhoudings die absolute grondslag is vir ontwikkeling en betrokkenheid en is oortuig dat die kerk in die vorm van gemeentes geroepe is om ’n positiewe, tasbare verskil in hulle gemeenskappe te maak, verkieslik in samewerking met die ander gemeentes en denominasies van die gemeenskap.
Jack en Alta is geseën met vier talentvolle kinders: Jacob (25, ingenieur, getroud met Ester), Mariné (24, onderwyseres), Jannes (21, studeer veeartsenykunde), en Loots (20, studeer ingenieurswese). Hy hou homself fiks met langafstandhardloop en fietsry, kan tegnies swem, en geniet houtwerk en in die algemeen om met sy hande te werk en te skep, luister graag musiek, en lees boek en bou legkaarte vir ontspanning. Hy kan gekontak word by 081 127 1128 of jack.wasserfall@namdeb.com.

Leraar
Bettie Terblanche se beroepservaring sluit in: tandtegnoloog, IT-konsultant en gastehuiseienares wat troues, funksies, konferensies en bestuur behartig het vir amper 20 jaar. Sy het intussen ’n graad in teologie ontvang en is tans besig met haar BTh honneurs met die hoop om volgende jaar MTh in kliniese pastoraat by Universiteit Stellenbosch te doen. Sy het ook ’n diploma in berading en doen pastorale berading privaat en by die kerk. Sy help met siekesorg, blomme en bied ook ’n “grief share” (rou-ondersteuning) kursus aan. Bettie dien ook op die uitvoerende komitee van Tutela (Kemptonpark). Sy glo God bekwaam dié wat Hy roep. Sy kan by 079 498 8278 of bettie@africantribes.co.za gekontak word.

Na Colloquium Doctum
Hennie Möller is gebore op 26 Junie 1965 in Pretoria. Hy matrikuleer aan die Hoёrskool Silverton en voltooi die graad BD in Teologie en Hons in Sielkunde in 1989 aan die Universiteit van Pretoria. Daarna voltooi hy die graad MSc in Kliniese Sielkunde in 1991 aan die Mediese Universiteit van Suid-Afrika. Hy verrig sy nasionale diensplig deur die SAPD en is polisiekapelaan in Pretoria vanaf 1993-1996. Vanaf 1996 is hy tentmakerpredikant in die NG Gemeente Skuilkrans in Pretoria en behartig ’n pastorale sielkunde spreekkamer. Vanaf 2004-2008 studeer hy vir die graad MArch (Prof) aan Universiteit van Pretoria en registreer as professionele argitek by die Suid-Afrikaanse Raad vir Argitekte in 2011. Sedertdien werk hy as professionele argitek in sy eie praktyk op Stellenbosch. Sy belangstellingsveld is by Neuro-Argitektuur en die kwalitatiewe effek van ruimtes op menslike gedrag, asook die ontwerp van aanbiddingsruimtes binne kerkverband. Hy is tans betrokke by die stildiensgemeenskap op Stellenbosch en geniet die kontemplatiewe aard van stilwees binne aanbiddingsruimtes. Hy kan by 083 455 4543 of hendrikm@mweb.co.za gekontak word.

DJ Müller is op 6 Februarie 1987 gebore en het sy skoolloopbaan in Cradock begin en voltooi. Na skool het hy eers Jazz by Tshwane University of Technology studeer. In hierdie tyd het hy ook, na ure, fotografie studeer onder leiding van Suzette du Plooy van Open Window. In 2008 het hy teologie begin studeer aan die Universiteit van Pretoria. Hy behaal in 2011 ’n BTh en in 2013 ’n MDiv in Praktiese Teologie onder leiding van prof Cas Wepener. Die titel van sy Mdiv-tesis is Psalmstrukture vir die verryking van die orde van die liturgie. In 2010 het hy en Nadia (ook ’n NG dominee) getrou. Aan die begin van 2014 is DJ by NG Gemeente Prieska as leraar georden en bevestig. DJ is geseën met kreatiewe gawes en gebruik dit daagliks in sy werk en bediening. Hy is tans ‘n multimediavervaardiger by Kaapkerk (Sinode van Wes-Kaapland), vrywillige pastor by Monte Christo Miqlat (NPO) en aanbiddingsleier by Simondium Familiekerk, waar Nadia leraar is. DJ verkies om buite die boks te dink en leun in sy bediening graag na die kant van die gemarginaliseerde. Sy droom is dat die kerk meer sal waag om ongemak en die onbekende aan te gryp, en sodoende op vreemder plekke by God se werk te kan aansluit. Hy kan by 079 648 1114 of djmullerza@gmail.com gekontak word.

- Berig is aangepas na publikasie.
