Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Cas Wepener | Gedagtes oor die aard van dominee-wees: Tussen hemel en aarde, tussen die Groot Misterieuse Iets en ’n ontluisterde wêreld

In Elizabeth Strout se roman Abide with me kuier Tyler, ’n Gereformeerde dominee, by sy eertydse Homiletiek-dosent, George. In die verloop van die gesprek sê Tyler oor sy werk as predikant: “It’s a very hard job, George. Good Lord, it is a hard job.” Hierop antwoord George droogweg: “Why do you think I teach?”

Eens op ’n tyd was ek ’n dominee, maar nou doseer ek Homiletiek. En my belewenis van dominee-wees was ’n bietjie soos om ’n tiener te wees. Mense verstaan jou nie. Hulle verstaan nie wie jy veronderstel is om te wees en wat jy veronderstel is om te doen nie. Jy is so ’n bietjie binne, maar merendeels buite. Wanneer jy dink jy is “in”, soos my kinders sal sê, dan is jy “uit”, en wanneer jy “uit” is, wel, vreemd genoeg, is jy dan as dominee eintlik “in”. My belewenis van dominee-wees was vergelykbaar met dié van ’n tiener, maar ook dié van ’n ouer van tieners, want indien jy probeer “in” wees by jou tienerkinders en dié se maats, is jy definitief “uit”. En jy kan nie regtig by hulle probeer “uit” wees nie, dit kom sommer vanself. Soos met dominee-skap.

Vreemde woord ‘chiasme’

’n X is vir my ’n bruikbare beeld om iets van dominee-wees mee te beskryf. Maar ’n spesifieke X, naamlik ’n chiasme, ook genoem ’n kruisstelling. ’n Chiasme is ’n stylfiguur wat wys hoe dieselfde stelling op ’n omgekeerde wyse herhaal word. ’n Stelling word gemaak en daarna word die stelling in ’n teenoorgestelde orde herhaal wat ’n spieëleffek bied. Byvoorbeeld: “dominees is weird / weird is dominees”. Die vreemde woord chiasme is afgelei van die Griekse letter “chi” wat as hoofletter as ’n X geskryf word en die chiasme word dikwels aangedui as ABXBA. En daar is baie chiasmes in Bybeltekste (alle dominees het eens op ’n tyd in ’n Griekse klas gesit en chiasmes geïdentifiseer en vertaal). Byvoorbeeld: “Wie homself verhef, sal verneder word / wie homself verneder, sal verhef word” of “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie”.

’n Dominee is nie net soos ’n chiasme, soos daardie X nie, ’n dominee is daardie X, daardie kruisstelling. Maar die hele dominee, haar lyf – vel en hart en begeertes en verstand en emosies, dus boots and all. Die filosowe beweer dat ’n mens se vel soos ’n chiasme tussen jou en die wêreld is, want met jou vel vat jy aan die wêreld en deur dieselfde vel, vat die wêreld aan jou. Vel kan ons uitbrei na lyf en na wese. Die dominee se lyf, haar hele wese, is die chiasme. En daai dominee-lyf, dit is deur daardie lyf wat die wêreld aan haar vat en sy aan die wêreld vat. Deur Dominee X sypel alles en almal en deur daardie einste lyf sypel dit wat sy vir die mense wat wag vir ’n woord of ’n besoek of ’n mening ook bring. Wie die mense rondom Dominee X is, hulle lewe, hulle opwinding en hartseer, dit kruip onder Dominee X se vel in wat dit aan en in haar lyf voel, en dit is met daardie lyf wat sy ook na God draai. Daardie vier strepies wat vanaf die X se middelpunt waar die lyne kruis uitgaan, is soos vier voelspriete op ’n insek wat vanuit die kruispunt vat en tegelykertyd ook deur koue en hitte en wind en reën aan gevat word. En terwyl dominee X leef tussen mense in die Vrystaat, hou sy rekening met die Groot Vry-Staat; tussen die mense van die Boland, is haar voelspriete deeglik bewus van die Groot Bo-land.

Tussen glo en twyfel

Dominees is oral in ons midde – chiasmes tussen hemel en aarde; tussen hulle eie velle en die velle van ander; tussen die Groot Misterieuse Iets en ’n ontluisterde wêreld; tussen antieke tekste en die hedendaagse konteks; tussen glo en twyfel; tussen ’n kwalitatiewe beroep en ’n kwantifiserende samelewing; tussen ’n amptelike pligstaat en die nood van die wêreld.

Soos Tyler tereg opgemerk het: “It’s a very hard job, George. Good Lord, it is a hard job.”

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Cas Wepener | Gedagtes oor die aard van dominee-wees: Tussen hemel en aarde, tussen die Groot Misterieuse Iets en ’n ontluisterde wêreld”

  1. Christo Schoeman

    Baie dankie Cas vir ‘n insiggewende klompie gedagtes wat nogal baie waar is van die bediening.
    Ek het wel ‘n vraag, nie oor die boodskap van die artikel nie, maar een ding wat ek wel nie sien nie, is iets wat ek nog in jou klas geleer het: die gebruik van inklusiewe taal… Is dit net vroue dominees deesdae? Is ons poging om weg te beweeg van patriargie nie só vêr, dat ons nou neig na matriargie of feminisme nie? Ek vra sommer net…

Comments are closed.

Scroll to Top