“As dit maklik is, doen jy dit verkeerd!” sê Sharaine Steenberg.
Ek vra haar oor hulle besluit destyds om Nieu-Seeland toe te trek.
“Ná agt jaar dink ek nog baie daaraan om eerder terug te gaan Suid-Afrika toe. Ons het getrek vir ’n toekoms vir ons kinders, en sodat ek naby my ma kan wees – hulle het ’n jaar voor ons getrek. Maar nou dat ek terugkyk, was dit regtig God se plan vir ons. My impulsiewe, en somtyds selfsugtige, neigings het gemaak dat ons op die vliegtuig geklim het, maar sonder om cheezy te wees, God is die een wat my hier hou.”
Sy sê die groot besluit is op die ou einde nie om te trek nie, maar om te bly. Want ’n mens wil heeltyd weer terugtrek.
Lees ook: 2024 Wenners van die Andrew Murray-Desmond Tutupryse bekend
Sharaine het destyds teologie by Tukkies studeer. “Ná dit het ek ’n nagraadse studie in Leadership in Urban Theology gedoen onder leiding van Stephan de Beer. In daardie jaar het ek meer oor die bediening geleer as my hele sewe jaar van MDiv. Dit is waar ek meer oor Asset Based Community Development geleer het, en uiteindelik verstaan het wat die kerk se rol in die gemeenskap kan en moet wees.”
Sy, haar man, Etienne, en hulle drie kinders woon tans in Tauranga op die Noordeiland van Nieu-Seeland. En dit is nie so maklik, of altyd so lekker, as wat die mense in Suid-Afrika dikwels dink nie.

Daar is min Christene, en die gemeenskap is toenemend krities teenoor die kerk. Sy vertel ook hoe dikwels Nieu-Seelanders al,wanneer hulle haar aksent hoor, vir haar gevra het waarom sy nie liewers terugaan na haar “eie land” nie. Die ergste is egter die verlange na die gewone dinge en mense in Suid-Afrika.
Maar dis net die een kant van die storie. Aan die ander kant weet Sharaine vandag dat die Here haar daar gebruik.
Sy is betrokke by ’n gemeente waar sy dikwels kans kry om te preek – al is sy nie formeel bevestig as dominee nie. Die ACK (Afrikaanse Christen Kerk in Nieu-Seeland) in Tauranga is is ’n multi-denominasionele kerk. “Dis nie soseer die kerktradisie waarin ons grootgeword het wat ons saambind nie, maar eerder die taal en kultuur. Sondae preek ek vir van Charismatiese Christene tot Ou Apostolies, van Doppers tot Sewende Dagse Adventiste, en dis pretty cool!”
Lees ook: ‘Ek is nou genees van te gou opgee’ – Red ’n Plaas-caminostappers vertel
En dan is daar haar grootste passie: betrokkenheid by die sosiale nood in die gemeenskap.
“Community energize my! Ag, ek is mal daaroor, veral as ek sien hoe ’n gemeenskap saam werk om mekaar te help en probleme aan te pak. Dis die sosiale entrepreneur in my. Ek love dit om na ’n gemeenskap te kyk en die gapings te soek, daai Asset Based Community Development -ding. Enige gemeenskap het die potensiaal om probleme in hulle eie agterplaas uit te sorteer. Ons moet net die gaping sien, en binne ons eie netwerke kyk hoe ons die probleem kan oplos. Dit is wanneer daai liggie in ’n community aangaan, en hulle dit die dag self begin uitsorteer, dat ek skoenlappers in my maag kry,” sê sy.
Daar is meer sosiale nood in Nieu-Seeland as wat baie mense besef. Sy sê mense is eensaam en voel dikwels hulle word aan hulle eie genade oorgelaat, veral gestremdes.
“Ek het die beste werk ooit! Ek werk vir Chrome Collective as operasionele bestuurder en ons het sopas ons Social Enterprise maatskappy, Cultivate Culture gestig, waarvan ek nou die eienaar is.”
Hulle het onder andere ’n hulpbronherstelsentrum wat fokus op werksgeleenthede vir gestremdes.
“Mense bring hulle bruikbare huisware, meubels, gereedskap, ou rekenaars, omtrent als op jou erf, na ons toe. Ons maak dit dan reg en verkoop dit weer. Goed wat nie reggemaak kan word nie, word uitmekaar gehaal en ons verkoop die onderdele en recycle die res. Die idee is dat ons so min as moontlik gemors het wat na die vullisterrein toe gaan. Dit is letterlik die spreekwoord – ‘one man’s trash, is another man’s treasure!’” sê sy en ’n mens kan die passie in haar stem hoor.
Maar dis nie altyd maklik nie. “In SA was dit amper vanselfsprekend dat ons op God vertrou met dit wat ons in die bediening doen – ons is mos ’n Christelike organisasie. Maar hier sink jy vinnig as jy nie vashou aan Jesus nie. En aan die ander kant moet jy so min moontlik oor jou geloof sê, want die gemeenskapswerk hier word selde deur Christenorganisasies gedoen.”
Haar passie vir gemeenskapsontwikkeling kom ’n lang pad. Tydens haar studentejare het sy vir lank in ’n huis vir jongmense in nood in Villieria gewoon. Later het sy projekte bestuur by PEN in die middestad van Pretoria, waar sy saam met dominees soos Marinda van Niekerk en Francois Smit gewerk het.
“Hulle het ’n groot invoed op my denke gehad,” sê Sharaine. “Én Wilhelm van Niekerk, by hom het ek geleer oor social enterprise en om business-for-purpose te doen, waarvoor ek hom ewig dankbaar sal wees.”
Wat sy sou sê vir ’n dominee in Suid-Afrika wat tans oorweeg om Nieu-Seeland toe te trek?
“Ek sou sê kom, maar moenie dink dit gaan maklik wees nie. As jy kom moet jy weet jy gaan jou roeping hier moet kom uitleef en dit gaan vir jou erg moeilik wees. Sien dit soos sendingwerk. Ek het byvoorbeeld nooit gedink ek gaan ooit iewers wees waar ek geterg gaan word omdat ek ’n Christen is nie. Ons het mense nodig wat hierheen kom nie omdat hulle weghardloop van Suid-Afrika nie, maar wat kom om hulle roeping hier te wil uitleef.”
Waaraan hou sy vas as dit rof gaan?
“Wees stil en weet ek is die Heer,” sê sy.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkeling en die NG Gemeente Villieria.