Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Ernst van Centurion skryf: André Rossouw van die Strand vra: “Wie doleer nou eintlik – die kerkraad of die gemeente? Ongelukkig gee hy daarop die verkeerde antwoorde.
Rossouw wil binne die gemeente ’n sê hê oor die gemeente se verband na buite. Daarvoor moet kerk en kerkverband van mekaar onderskei word. In die woorde van Johan Heyns: “’n Kerk tree tot die verband toe, nie met die doel om kerk te word nie, maar omdat hy kerk is”.
LEES OOK: Verdeeldheid: As die pole juig en die middel swyg
Piet Strauss brei hierop uit: “As die belydenis die kerk of die gemeente hét, soek dit spontaan verband met ander kerke wat in die greep van dieselfde belydenis verkeer.” Hou gemeentes en kerkvergaderinge binne die kerkverband hulle nie meer aan die belydenis nie (Kerkorde Artikel 1), kan die kerkverband deur die kerkraad van die plaaslike kerk opgeskort of selfs beëindig word met diegene wat hulle nie meer daaraan hou nie. Dit is nie lidmate in die gemeente wat daarin geken moet word nie, maar die Woord en belydenis wat daaroor geraadpleeg moet word.
Alle ampsdraers en lidmate van die plaaslike kerk is daartoe opgeroep om voortdurend met die Woord van God en die belydenis as maatstaf die werk van vergaderings en ampsdraers te beoordeel (Kerkorde Artikel 23.2).
Om tot kerkverband toe te tree of uit te tree, het nie met ’n meerderheidsbesluit te doen nie. Besware van lidmate teen die besluit van die kerkraad om te doleer of die kerkverband op te skort, moet daarom ook besware op grond van die Woord en die belydenis wees. Dit het nie, soos Rossouw aanvoer, te doen met hoe lank lidmate die kerkgebou as hulle eie aangeneem het en onder andere finansiële bydraes gemaak het nie.
LEES OOK: Koinonia aan gemeentes: ‘Ons konsulteer al lank met regslui’
Verder is die kerkverband ’n verband waarin ampsdraers van die gemeente, dus kerkraadslede van die gemeente, namens die gemeente handel. Dit is aan hulle aan wie die opsig oor, die regering van en die tug in die kerk toevertrou is (Kerkorde Artikel 19). Die gemeente en kerkverband funksioneer in vergaderinge. In gééneen van hierdie vergaderinge het die lidmate van ’n plaaslike kerk ’n beslissende stem nie. Dan moet elke lidmaat van ’n gemeente van die NG Kerk ook ’n persoonlike sê verkry by die aanvaarding van die gemeente se jaarlikse begroting, die goedkeuring van die finansiële state, die vasstelling van die ring- en sinodale aanslag, die beroeping en traktement van die leraar en elke besluit wat ’n meerdere vergadering neem wat die gemeente direk raak, soos die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse deur die leraar en die doop van kinders van gay-pare. Oor laasgenoemde het lidmate, sonder om ’n ophef daarvan te maak, van kerk (gemeente) verwissel, ongeag hulle jarelange lidmaatskap, hulle verknogtheid aan die kerkgebou en hulle vorige bydraes.
“Wie doleer nou eintlik – die kerkraad of die gemeente?” Die gemeente, na besluit deur die kerkraad op grond van die Woord en die belydenis.
