Dit is ’n voorreg om hierdie kosbare, goed versorgde boek van 224 bladsye, met die treffende voorblad en eenvoudige titel, Stil-weg, onder die aandag van Kerkbode-lesers te bring. Die boek is onlangs op Stellenbosch (en ander plekke) bekend gestel en het reeds – met goeie reg en rede – heelwat belangstelling uitgelok, soos ook blyk uit ds Rethie van Niekerk se onlangse kort getuienis in Kerkbode.
Stil-weg is die rype vrug van die gewese studenteleraar op Stellenbosch, Carel Anthonissen, se persoonlike omgang met die Christelike kontemplatiewe tradisie. Dit is ’n eeue oue tradisie wat teruggevoer kan word tot die woestynvaders/moeders van die vroeё kerk, ook tot by Jesus se gereelde eie stille inkeer tot die Vader, te midde van sy besige bediening.

In ’n kort inleiding beskryf Anthonissen self sy spirituele reis in die stilword-tradisie, wat in 1987 begin het toe hy die klein Grandchamp-gemeenskap in Noord-Switserland besoek en intiem kennis gemaak het met hulle beoefening van die dissiplines van stilte, eenvoud en gebed. Daarna was hy bevoorreg om verdere kontak te maak met dergelike gemeenskappe, soos die wêreldwye Taizé-gemeenskap (Frankryk), Iona (Skotland), Corrymeela (Ierland) en Shalem (Noord-Amerika). Sy doktorale studie oor die geloofwaardigheid van die kerk by Dietrich Bonhoeffer het die belang van die ryk kontemplatiewe tradisie by hom bevestig.

Self was hy bevoorreg om vir etlike jare by die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit, in Kaapstad – gestig deur Vader Francis Cull onder aanmoediging van Aartsbiskop Desmond Tutu – betrokke te wees. Carel het tussen 2005 en 2017 as direkteur hier opgetree. In daardie rol kon hy ook verdere kontakte met die Taizé- en die Shalem-gemeenskap opbou. Hy het in die jare 2012-2014 ’n nagraadse Shalem-kursus in Christelike Spiritualiteit in die departement van Godsdiens en Teologie by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) aangebied. Hy het sedert 2005 ook ’n weeklikse kontemplatiewe diens in die kapel van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch begin, wat gelei het tot die totstandkoming van ’n aktiewe Stildiensgemeenskap, wat nou deel vorm van die bediening in die Stellenbosch NG Moedergemeente.
Uit hierdie Stildiensgemeenskap het die behoefte gegroei om kort dagstukkies, “padkos vir die dag”, te ontvang, wat daartoe gelei het dat Carel oor die afgelope byna 20 jaar gereelde dagstukkies in Afrikaans en Engels geskryf het. Gedurende die tydperk 2011-2018 is van die dagstukkies deur Bybel-Media aan byna 10 000 lesers versprei; daarná is dit ook aan die steeds groeiende getalle van Stildiensbelangstellendes uitgestuur. Hierdie getroue en deeglike werk, dikwels “in die stilte van die nag”, het mettertyd ál die hooftemas van die kontemplatiewe tradisie aangespreek en belig. Dit het die behoefte aan die publikasie van ’n meer omvattende werk, waarin dié temas sterker ontwikkel kon word, onderstreep. Stil-weg is die vrug van hierdie arbeid.

Vir die doeleindes van hierdie kort bekendstelling word slegs die 14 hooftemas genoem wat elk deur middel van 10 tot 16 meditasies (elkeen op één bladsy), toegelig word. Die temas is: 1. ’n Verwaarloosde skat – oor stilte. 2. God se stille geskrei – oor God. 3. ’n Soekende Heiland – oor Jesus. 4. Proe self – oor geloof. 5. Saam op weg – oor gemeenskap. 6. Taizé – ’n Klein lentebloeisel. 7. Ons diepste versugtinge – oor gebed. 8. Krete uit die hart – oor die Bybel. 9. Fasiliteerders vir die Gees – oor geestelike begeleiding. 10. In die huis van liefde – oor liefde. 11. Die tweede been van liefde – oor geregtigheid. 12. Gelouter tot skoonheid – oor lyding en heling. 13. Trou aan die aarde – oor ons ekologiese plig. 14. Lig teen die skemer – oor hoop.
Verstommend, dat so ’n klein boek, met al die perspektiewe sáám gelees, ook sommer ’n “kleine dogmatiek” kan word! Dat dít moontlik is, hang saam met verskillende aspekte van die aanbieding: die pittige styl, die duidelike en beeldryke taal, die goeie aanvoeling van die destydse én die kontemporêre agtergronde, en die deurleefde en eksistensiёle toepassing. Daarbý kan gevoeg word die fyn aanvoeling vir genre: die eiesoortige funksionering van byvoorbeeld wet, profesie, poёsie, wysheid, geskiedenis, klaaglied, gebed, lof, dank, aanbidding, ens. Anders as by vele van die meestal vrome of soetsappige selfoonteksies of -prekies wat so gewild geword het, het die skrywer van Stil-weg die uitsonderlike slag om telkens die regte toon te vind wat pas by die boodskap van die dag. Daar is niks oorbodigs of prekerigs in die goeie resep nie: een gelowige (goed geskool in hermeneutiek en teologie en ’n vrugbare bedieningspraktyk) gesels met ander (selfs twyfelende) gelowiges oor aspekte van die lewe, meestal rondom ’n bekende teks uit die Skrif, wat dan toegelig word met iets uit Dostojefski, Merton, Nouwen, Heidegger, Rumi, Thielicke, Bonhoeffer, Kundera en nog vele meer, of ’n ander goedgekose stukkie letterkunde, of ’n eie gedig, en in sommige gevalle ook aangevul met ’n digitale, skandeerbare, skakel na ’n gepaste stukkie musiek. So ’n kleinood word dan in die kop én die hart van die gespreksgenoot gelaat, om in stilte saam met die Gees verder daarmee om te gaan. Wat aangebied word, is goeie eksegese en goeie teologie, in goeie smaak. Daar is geen ruimte of tyd vir dispute, eksamens, of intellektuele derms-uitrygery nie. Die stof spreek die hart aan soos onder andere blyk uit een van Anthonissen se gedigte oor Jesus:
Jy bly ’n herinnering dat iets soos stuifmeel en son
elke dag deur ons sif – fyn en sag, onnaspeurbaar
en anderkant woorde
iets wat die stoel van ons groot heelal met sy klein
besete aarde bedwing en in kalmte skulp
iets wat die boeg van ons krakende skip bly weer
teen die insluk van ’n laaste golf
iets wat ons groter laat gedy as die vuurslag van
’n kil en ingebuigde hart
Waarom anders sou jy, soos ’n kind, in die stilte
gaan kniel het?
Wat Marlene van Niekerk van Carel Anthonissen se digbundel, Vuurvas, gesê het, geld eintlik net so vir Stil-weg: hy “verwoord die belang van vriendskap, stilte en eenvoud in die strewe … om beter, meer aards en regverdiger te lewe. In ’n tyd van vervlakking, konflik, ontremde kommunikasie en gejaagdheid, bied (die teks) nie alleen ’n verwysing na die onvernietigbare kiem van hoop, regskapenheid en welwillendheid in die mens nie, maar dien ook as ’n voorbeeld van aandagtige en gevoelige omgang met taal en verwoording.”
Dit was ’n voorreg om die afgelope tydjie twee boeke te lees waarin daar ernstig met God en geloof geworstel word: die een met groot empatie en pyn (Ben du Toit se God: Is daar ’n ander antwoord?), en die ander met verwondering en diepe waardering (Carel Anthonissen se Stil-weg). Tans is daar min boeke soos Stil-weg op die spirituele mark beskikbaar – nogal in ons eie taal! – wat so ’n egte en deurleefde apologie lewer vir die voortgesette worsteling – in geloof en hoop – met God, die kerk, en die lewe. Soos Bonhoeffer voorspel het, leef ons in ’n tyd waarin die ware gelowige byna anoniem sal moet leef: stil-weg vanuit gebed en stil-weg deur goeie dade.
Stil-weg word gepubliseer deur die Christelike Lektuurfonds en is tans teen R200 beskikbaar by CLF se vyf winkels landswyd. Vir direkte bestellings en meer inligting oor waar die boek nog beskikbaar is, kan CLF se hoofkantoor op Wellington by 021 873 6964 geskakel word.
Prof Christo Lombard (emeritus professor, UWK; tans navorsingsgenoot by die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, US).
